Vreemde bestanddele, en die invloed daarvan op kultuur

DONDERDAG 6 NOVEMBER 2008

Ek het afgekom op die onderstaande teks toe ek vlugtig deur die boek, Die Prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging gelees het (eerste publikasie, 1922). Mens kry soms die idee onder Afrikaanse mense dat hulle dink progressiewe idees oor Afrikaanse kultuur en literatuur het nie daglig gesien in Suid-Afrika voor die sestigs of selfs so laat as die laat-tagtigs nie. Dat hierdie teks dateer uit die vroeë twintigs, sal derhalwe as ʼn verassing kom vir sommige mense (ek weet ekself was aangenaam verras).

“Ook onder ons kunstenaars is daar [dié] wat met bangerige angsvalligheid alle buitelandse invloede van ons wil weer, wat hul krag soek in ’n benoude, stikagtige isolement. Hul hoop om op dié wyse ’n suiwer Afrikaanse kuns te kan opbou, vry van alle basterdelemente. Ons moet maar aansukkel op ons eie doringpaadjie, omdat ons toestande so glad anders is as in die ouere kultuur-lande. Dat hierdie rigting totaal verkeerd is, word al dadelik bewys deur die feit dat ons beste kunstenaars juis onder die inwerking van buitelandse invloede hul skoonste werk geskep het. Die egte kunstenaar laat hom nie verbaster deur ’n vreemde kultuur nie. Hy ontleen daaraan wat vir die volle ontplooiing van sy gees diensbaar is, en vervorm en verwerk die vreemde bestanddele dan tot ’n suiwer nasionale kunswerk. ’n Volk wat nie sy man kan staan teenoor vreemde invloede nie, gaan te gronde en so ook die kunstenaar. Maar met reg kan ons van hom eis, dat hy ons blik sal verruim en ons in intieme aanraking bring met die kuns ook van ander lande. Isolering op letterkundige gebied sou beteken opdroging, sou aanleiding gee tot ’n eindelose herkouery. Laat ons kunstenaars dus gerus van alle oorde hul gees verryk. As hul mans genoeg is, sal hul selfstandigheid niks daaronder ly nie en ons kuns sy nasionale stempel behou. In elk geval geen Chinese muur rondom Suid-Afrika nie!”

Bron: Die Prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging, deur Pieter Cornelis Schoonees (1922)

Goed, daar is ’n paar verwysings wat dit duidelik maak dis nie geskryf in die laaste dekade nie, maar die oproep daartoe om nie bang te wees vir “vreemde invloede” nie maar dit te gebruik om jou eie kuns en literatuur beter te maak, ten volle te ontplooi, soos die teks sê, is duidelik genoeg.

______________________