Voorlopige Deklarasie
Ek is nie meer bekommerd, of gemoeid met kompetisie met my tydgenote nie, vir die eenvoudige rede dat ek hierdie fase van die wedloop afgehandel het. Ek glo die doelwit was nooit om te wen nie, ook nie soseer gesamentlike deelname nie, maar om die wedloop af te handel – of dan ten minste hierdie fase daarvan.
Ek hoef myself nie meer te vergelyk met my tydgenote nie, omdat ek myself ontdek het, en verklaar het dat ek tevrede is met myself – dat wat ek is, goed is.
Ek ken baie mense wat “beter” as ek doen in baie opsigte, maar wat nog baie hard aan die hardloop is, terwyl ek reeds besig is om my kragte te herwin vir die volgende fase.
~ Uit die Pers Notaboek, 19 Oktober 2001
