Voorhoede van die bourgeoisie – Persoonlike Agenda

VRYDAG 25 NOVEMBER 2005

17:21

Ek kyk na die wêreld om my, en ek kan nie anders nie as om te verklaar dat die groot hoop vir die voortbestaan van menslike beskawing op aarde, die middelklas is – daai groot massa mense in die sogenaamde ontwikkelde wêreld, en kleiner persentasies mense in sogenaamde ontwikkelende lande, wat elke dag werk toe gaan, karre en huise en TV’s en rekenaars en yskaste besit, en verskeie stelle beddegoed en musiekversamelings en mooi koffietafelboeke en aandenkings van vakansies op ander plekke.

Mense wat skatryk is, maak ook ’n bydrae, maar teen hierdie tyd weet ons meeste van daai geld drup nooit af na die massa mensdom wat hul bestaan voer buite die rykes se piepklein weelderige wêreld nie.

Die werkende armes dra ook by tot die voortbestaan van menslike beskawing deur teen klein fooitjies arbeid te verrig waarmee niemand anders hul hande wil bevuil nie.

Sonder die middelklas, sal menslike beskawing egter in brutale donkerheid verval. Die Middelklas is Lig, Ruggraat en Balanserende Faktor.

Een belangrike ekstra vermelding moet gemaak word: Ten einde te kan voortgaan om Lig, Ruggraat, en Balanserende Faktor te wees, is dit van allergrootste belang dat die meerderheid lede van hierdie stratum opgevoed, verdraagsaam en vredeliewend moet wees.

Natuurlik is dit ’n naïewe ideaal.

Hier is wat sal help: ’n voorhoede van rasionele, goed opgevoede, oopkop en verdraagsame individue. Intellektuele hoef hulle nie noodwendig te wees nie, hoewel ’n kerngroep behoort te bestaan uit rasionele denkers. Hierdie groep mense behoort die leiers te wees van middelklas gemeenskappe. ’n Organisasie, selfs ’n politieke beweging, kan ook voorgestel word wat die idee kan bevorder van sterk, verdraagsame, stabiele sosio-ekonomiese gemeenskappe, gelei deur rasionele, oopkop en verdraagsame individue. (Lank leef die voorhoede van die bourgeoisie?)

17:56

Mens kry tog die idee uit bogenoemde dat ek niks nuut sê nie. Wat ek beskryf in die stukkie teks as die hoop van menslike beskawing is alreeds vir eeue lank ’n aktiewe faktor in die voortbestaan en ontwikkeling van menslike bestaan op aarde. Die voorhoede van rasionele, goed opgevoede, oopkop en verdraagsame mense sal wel ’n groot verbetering wees.

As hierdie my konklusies moet wees na tien-plus jare se dink oor die samelewing, is dit duidelik dat ek nie rewolusies voorstel nie, maar meer van dieselfde – net beter.

SONDAG 27 NOVEMBER 2005

My verhouding met [N.], en haar verhouding met my, is ’n uitdrukking van die tipe mense wat ons graag wil wees, en weerspieëlings van die tipe mense wat ons is.

WOENSDAG 30 NOVEMBER 2005

17:41

Wat sê ek in “Persoonlike Agenda”? Ek sê, stryd is ’n kernaspek van ons bestaan – aanvanklik vir oorlewing, en daarna vir meer. Om uit te werk wat hierdie “meer” is, is deel van ons lewensreis.

Ook, hoe voer ons die stryd? Hoe bestaan ons van dag tot dag? Ons bestaan, en handhaaf en rig ons stryd, deur ’n Spesifieke Persoon te word, met ’n min of meer unieke identiteit. Hierdie identiteit stel ons in staat om te oorleef en te funksioneer. Ons persoonlike stryd word rigting gegee deur tradisie, kultuur of religie, of dit word gedefinieer deur onsself in ’n komplekse proses wat elemente van verskillende bronne insluit. Hierdie stryd word die doel van ons bestaan – dit gee waarde en betekenis aan ons lewens.

18:00

In Korea het ek gesê: Belonging and Commitment.

In Taiwan het ek eers gesê: Stryd en Skepping, en uiteindelik: Stryd, Identiteit, Doel.

______________________