Vonke en ware liefde, in ’n neutedop

MAANDAG 10 NOVEMBER 2008

Daar is ware liefde, en daar is seksuele aantrekking. Daar is liefde wat ’n leeftyd duur, en daar is vonke van seksuele begeerte. Soms voel jy seksueel aangetrokke tot ’n persoon, jy vat ’n kans, en jy geniet dit vir solank dit hou. Bly julle bymekaar, sal die seksuele aantrekking op een of ander stadium aangevul moet word met iets meer substansieel, naamlik liefde – die soort wat ’n leeftyd kan duur, tot lank nadat die vonke minder vurig geraak het en jy jouself vang dat jy soms wonder hoe dit met iemand anders sal wees.

’n Man is halsoorkop oor ’n vrou. Die vrou dink die man is ’n aangename ou: hy is gaaf, kan lekker gesels oor interessante dinge, maar dis waar dit stop vir haar. Sy wonder of ’n mens ’n hart wat nie vinniger wil klop nie, kan forseer. Sy dink byvoorbeeld wat ’n mens doen met seksuele begeerte, wat immers ’n eerlike fisiese reaksie is op iemand se teenwoordigheid.

Die vrou stel haarself ’n baie spesifieke lewe voor saam met die man, sou sy kies om saam met hom te wees – ’n lewe waar dinge altyd sal wees soos dit nou is: hy is mal oor haar, sy trek terug. Vyf jaar later: hy is steeds mal oor haar, sy bly afsydig. Twintig jaar later: hy is nog steeds lief vir haar; sy gee om vir hom, maar sy is nie warm teenoor hom nie, en sy dink elke nou en dan terug aan die affair wat sy soveel jare gelede gehad het met die ou wat soos ’n filmster gelyk het.

Die werklikheid lyk in vele gevalle ietwat anders: die skaflike man is tans by X+20, en die vrou is by X+2; na twee jaar is hy by X+15, en sy is by X+7; na tien jaar kan sy haarself nie ’n lewe sonder hom voorstel nie; hy is steeds baie lief vir die vrou – hy bring nog steeds op Sondae vir haar ontbyt in die bed, maar vonke steek nie meer van sy kant af die muurpapier aan die brand nie. Dit is hoe die lewe soms is, in ’n neutedop.

Natuurlik kan dinge heeltemal skeefloop tussen die vrou en die man wat nie soos ’n filmster lyk nie. Sy fakkel begin dalk dowwer te brand na ’n paar jaar, en hy begin dalk rondkyk na ander vrouens net soos die vrou in sy lewe al hoe nader aan hom wil wees. Dit is ook hoe die lewe soms uitdraai, in ’n ander neutedop.

______________________