VIR WIE SKRYF EK?

Deur 18 - 08 - 2002

Vir Die Werkende Mense…

Ek dink baie keer daaraan dat wat ek te sê het oor die “lewe” nie noodwendig op alle mense van toepassing is nie. ‘n Voorbeeld: die hele wat-wil-ek-doen-met-my-lewe-kwessie is moontlik nie so relevant vir die seun van ‘n kleinboer in China, as wat dit is vir een of twee van my vriende wat met dieselfde onsekerhede sit nie. Wat ek skryf, is dus nie altyd universeel van toepassing nie.

Vir wie skryf ek dan? Vir myself natuurlik, en vir die werkende mense van die geïndustrialiseerde wêreld.

~ Uit die Pers Notaboek

[En Vir Die Pa Van Drie Kinders]

Hoe relevant is my kritiek oor die middelklas, en my idees oor arbeidsverhoudinge en “konvensies van die establishment” vir die pa van drie kinders wat ses maande gelede sy werk verloor het? Van geen waarde nie, behalwe miskien dat hy nóg slegter gaan voel oor homself, omdat hy moontlik gaan dink hy’t nog slegte besluite ook geneem.

Wat ek sê oor die middelklas, en oor die heersende sosio-ekonomiese orde van die geïndustrialiseerde wêreld, gaan nie die pa van drie kinders help om vir die jongste ‘n (nuwe) skooltas te koop, of ‘n (nuwe) paar skoene vir die seun wat hoërskool toe gaan nie.

Maar maak dít noodwendig wat ek sê nutteloos en ligsinnig? Sal die pa van drie geïrriteerd vir my vra: “Jy weet wat, dis alles baie interessant, maar waar stel jy voor moet ons intrek as hulle ons aan die einde van die maand uit die karavaanpark skop?”

Sal ek dan my netjies uitgedrukte papiere weer in my aktetas pak en antwoord: “Ekskuus meneer,” soos ek die ou sal aanspreek omdat ek wil wys ek respekteer hom nog steeds, “ek wou nie jou tyd mors met ligsinnighede nie”?

Is hierdie alles net ék wat vies is vir ‘n sekere sosio-ekonomiese orde? Moet ek eerder skryf oor die somerhitte, of oor die nuwe BMW wat pas sy verskyning gemaak het op die strate van Taiwan, of watter politikus vir wié wát gesê het? Dalk later. Dalk raak ek later moeg vir polemiek en kritiek, vir vingerwys, en vir voorstelle maak oor hoe ‘n sosio-ekonomiese orde sou lyk as ék die baas van hierdie wêreld was. En miskien lees niemand anders as ek en die persoon wat ek gaan omkoop om hierdie teks te proeflees ooit wat ek geskryf het oor hierdie dinge nie. In daai geval kan ek seker net sê ek moes dit uit my sisteem kry.

Ek is ook bewus daarvan dat baie mense droom van presies dit wat ek so graag kritiseer – ‘n lewe in die middelklas, met ‘n mooi drie slaapkamer huis in ‘n stillerige voorstad, ‘n vaste betrekking, en ‘n inkomste wat sal voorsien aan die behoeftes van al die lede van die gesin. Ek weet ook dat vele mense al te gretig is om die “konvensies van die establishment” te eerbiedig om so ‘n lewe te bewerkstellig en te handhaaf.

Ignoreer ek die feit dat ‘n middelklaslewe vir baie net ‘n droom sal bly? Is ek nie bewus daarvan dat daar nóú arm mense is wat in kartonbokse slaap langs ‘n snelweg, met kinders wat nooit skool toe sal gaan nie? Is ek onkundig oor die moontlikheid dat ‘n voormalige middelklas-gesin gister by familie in ‘n minder gegoede woonbuurt moes intrek, met al die gepaardgaande finansiële en emosionele probleme wat dit tot gevolg sal hê?

Ek is nie nóú blind nie. En ek was verseker nie blind toe ek die eerste keer hierdie dinge gesien het nie. Ek skryf met oop oë.

Hierdie inskrywing dateer: 18 - 08 - 2002 om 22:44 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.