VIR DIE REKORD
Ek kan tot ‘n groot mate ‘n goeie lewe hê in Taiwan. Ek glo ook ek kan ‘n goeie lewe hê in Suid-Afrika. Die fundamentele punt is, solank ek weet ‘n goeie lewe in Suid-Afrika is binne my bereik (met die familie-faktor bygewerk), sal dit altyd onuitstaanbaar wees om te dink aan “nog langer as ‘n jaar” in Taiwan.
Ek wás al in die situasie waar ek na ‘n paar jaar in die Verre Ooste teruggegaan het Suid-Afrika toe met groot drome en idees, net om te sien dat dit nie uitwerk nie. Dit is altyd moontlik dat ek weer sak en pak teruggaan, en weer my gat sal sien.
Ek is egter bereid om weer te probeer. Ek móét, in ag genome my geloof dat dit moontlik wel kan uitwerk. As dit weer nie uitwerk nie, nou ja, dan kom ek maar weer terug Ooste toe, bly of hier vir ewig, of vir nóg sewe jaar voordat ek weereens ‘n repatriasie poging sal aanwend. Dit is die minste wat ek kan sê, vir nou, en vir die rekord.
(Dinsdagoggend, 14 Oktober 2003)
___________
