Vervreemding, As Dit Lekker Is

Deur 02 - 11 - 2001

Dit gebeur gereeld deesdae. ‘n Persoon word gebore en getoë in ‘n spesifieke deel van die wêreld. Soos hierdie persoon ouer raak en sy wêreldbeeld wyer as net die voortuin van sy ouerhuis, begin hy sekere gedagtes te ontwikkel. Een gedagte wat ‘n groot indruk maak op hom is die moontlikheid dat, sou hy dit begeer, hy in ‘n ánder wêreld kan woon, ‘n wêreld ver van die samelewing waarin hy groot geword het – wat gekenmerk word deur die spesifieke taal, kultuur, godsdiens, en gebruike wat aan hom geleer is.

Die ambisie om hierdie idee uit te voer mag aangevuur word deur herinneringe van onaangename tye wat hy deurgemaak het in sy jeug, of dit mag moontlik nie die geval wees nie. Dit is heel moontlik dat hy hoofsaaklik aangename assosiasies het met die wêreld wat die milieu voorsien het vir sy vroeë ontwikkeling. ‘n Mens kan selfs sê dat hy lief is vir daardie wêreld, en altyd ‘n gevoel van patriotiese lojaliteit sal koester jeens die land van sy geboorte. Maar hy mag ook bewus wees daarvan dat hy tot ‘n mate gedryf word om ‘n groter wêreld binne te swerf.

As hy dan die geleentheid kry om weg te gaan van die wêreld waarmee hy bekend is – in geografiese terme en ook in terme van alles waarmee hy groot geword het, dan is dit net moontlik dat hy dalk die ervaring as belonend sal beskou. Hy mag dalk voel dat hy nie werklik hoort in hierdie onbekende wêreld nie, maar dalk leer hy ook om gemaklik te wees met hierdie gevoel van vreemdelingskap.

Hy vind homself dalk waar hy terugsit een dag, sy hande in die lug opgooi en dink, “Ek verstaan nie hierdie wêreld nie. Ek sal nooit alles ontdek wat dit het om te bied nie. En ek het vrede daarmee…”

~ Uit die Pers Notaboek

Hierdie inskrywing dateer: 02 - 11 - 2001 om 19:54 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.