Verveling – innerlike natuur – woordelose bewussyn

MAANDAG 31 JANUARIE 2005

Ek vermoed, en het al in die verlede ook vermoed, dat ek verveeld raak met die blote idee van iets.

Ek kyk byvoorbeeld in die Engelse handboek wat ek tans gebruik met ’n groep 12-jarige studente en sien ’n prentjie van ’n familie in ’n agterplaas besig om te braai. Ek kyk na die volwassenes en dink, “Hoe fokken vervelig …”

Die probleem is, hierdie verveling met die blote idee van iets registreer as ’n ernstige gedagte in my brein, en dit word opgeneem in my Amptelike Gedagtes Oor Onderwerp X!

Ek dink ek is al jare lank op ’n bitter veldtog teen dinge – in sommige gevalle niks meer nie as geluk waarop ek dink ek vroeër uitgemis het, of dat dinge wat my gelukkig kon maak, glans verloor het omdat dit amper altyd met angs en onsekerheid gepaard gegaan het.

Ek glo dis net my innerlike natuur – wat in wese goed is – wat verhoed het dat ek op ander maniere uiting gegee het aan hoe ek voel.

Wat my weer by die vraag bring van “innerlike natuur” en/of “kern persoonlikheid”: dit is gegewes, dan nie? En van kardinale belang in die produsering van eindresultaat, reg? Hoe skuldig is Gegewe dan, en hoe skuldig is Vrye Wil?

[…]

Ek het nou net in die bed gelê. Ek was bewus van my liggaam. Ek was ook bewus van die gedagte dat ek bewus was van my liggaam. Ek kon ook onthou dat ek op ander tye, vroeër tye, bewus was van my liggaam. Ek kon ook onthou dat ek toe gedink het, of geweet het, dat ek bewus was van my liggaam.

Bewussyn ontwikkel; dis nie net een oomblik skielik daar nie. Tog moet daar ’n kritieke oomblik wees – die waterskeidingsoomblik in die ontwikkeling van selfbewussyn.

Daar kan sekerlik geen twyfel wees dat ’n fetus na 30 of so weke ’n bewussyn het nie. Die fetus se bewussyn en dié van die pasgebore baba (tot en met ’n paar maande) is wel uniek in die geskiedenis van die persoon se bewussyn: dis woordeloos.

Verskil tussen woordelose bewussyn, en bewussyn waar taal ’n rol begin speel …

______________________