Verveling in eksotiese Suid-Afrika

VRYDAG 18 FEBRUARIE 2005

Ek was nog nooit so verveeld op ’n besoek aan my geboorteland nie. Ek voel effens skuldig … maar dan herinner ek myself daaraan dat emosionele behoeftes, wat bevredig word deur jou familie te sien, nie verwar moet word met die behoefte aan intellektuele stimulasie nie.

Ek het ook besef ek projekteer my eie gevoel op ander mense op die plek waar ek myself bevind. Ek sal byvoorbeeld sê, “Kyk hoe vervelig lyk almal! Hulle sit in karre, stap in en uit by winkels, stap op en af in die strate …” Dan besef ek, terwyl ek die dorpenaars so beswadder, dit is presies wat ék doen: sit in ’n kar, stap in en uit by winkels, stap op en af in die straat.

* * *

Gisteraand gedink toe ek deur ’n Huisgenoot blaai: mý Suid-Afrika bestaan uit Johannesburg, Bronkhorstspruit, Pretoria, Stellenbosch, en miskien Vryheid en Pongola. Daar’s plekke, in hierdie land van my geboorte, waarvan ek nog nie eens gehoor het nie, wat nog te sê besoek het: plekke soos Grootmier, Kleinmier, Middelmier; plekke waar mense Afrikaans praat, en waar die kinders die grootmense “Oom” en “Tannie” noem. Dis ’n wêreld wat ek nog wil ontdek – die geïsoleerde plekke, die stofdorpe, die gehuggies waar mense lewens slyt wat tot ’n mate bekend is, maar tog ook vreemder vir my as die gewone Taiwannees se lewe in Taiwan.

SATERDAG 19 FEBRUARIE 2005

Ek was die afgelope week weer gekonfronteer met ’n paar dinge: vervreemding – nooit ’n aangename ervaring nie, veral nie as jy die een is wat die vreemdeling geword het vir mense wat jy innig liefhet nie; verveling; woonareas waar die uitleg en strukture geen inspirasie opwek nie; kommersiële distrikte waar mense bymekaarkom op ’n daaglikse basis om besigheid te doen en dinge te koop en maaltye te nuttig, wat soos die woonareas nie ’n snars entoesiasme of inspirasie opwek nie; standaarde wat dikteer dat om geag te word as suksesvol op 34 jy eiendom moet besit, en ’n motorkar, en ’n TV en ander huisraad, en ten minste getroud moet wees maar verkieslik ook reeds afstammelinge verwek het (“want watse tipe sukses kan jy wees as jy alleen is?”). Laastens is ek gekonfronteer met verhale van moord, doodslag, hartaanvalle, kanker, beroerte, en verskeie ander siektes en kwale wat jou herinner, vir as jy dit wou waag om te vergeet, hoe kwesbaar jou bestaan is.

Nou ja, wat meer kan mens sê? Dis nou 00:21. Ek gaan nou slaap. Môre … is net ’n nagreis ver.

______________________