Versoening met die monster

Sondag 4 Januarie 1998

Wat is die terme waarop ’n Alleenloper hom- of haarself kan versoen met die samelewing? Oftewel, wat is die reëls van die spel … oftewel, as ’n wese van die buitenste ruim in my kamer land en hy vra my wat hy nodig het en wat hy moet doen om in te pas in die samelewing (vermoedelik dan as ’n mens), wat sou ek sê?

1) Geld.

2) Oortuiging dat dit die moeite werd is om in te pas.

3) Siende dat jy elke oggend wakkerword en dan vir sestien tot agtien ure lank “dinge doen” – en weldra leer dat dinge makliker raak indien jy patroon, rigting, selfs sin en betekenis kan sien aan die string dae wat jy aktief is as ’n lid van die spesie Homo sapiens – is dit waardevol om te verstaan wie jy is, en te weet wat jy wil doen met jou lewe.

Geld, waarvoor?

1) Woonplek – ’n gemaklike, veilige ruimte wat kan dien as jou lêplek, jou stoorplek en jou herberg

2) Kos, klere en basiese benodighede

3) Vermaak vir as en wanneer jy dit nodig het

4) Pensioenpaaiemente – indien jy oud raak

5) Mediese fonds – vir as jy siek raak

6) Versekering – vir as jy besittings het wat gesteel kan word

7) Simbole van Stabiliteit – dinge soos ’n adres en ’n telefoon

Amper vergeet ek van iets waarsonder jy skaars kan oorleef, waarsonder jy nie veel van ’n kans staan om ’n produktiewe bestaan te voer nie! Selfvertroue! Natuurlik benodig jy ’n goeie selfbeeld! Natuurlik het jy nodig om te glo in jouself en in jou vermoë en potensiaal om een helder oggend kamp op te slaan op die Hoë Grond!

______________________