VERSKYN of VERDWYN?

DONDERDAG 23 SEPTEMBER 2004

Vir jare het ek gesoek na wie ek is, en probeer uitwerk hoe ek moet verskyn aan die wêreld. Ek het uiteindelik tot die insig gekom dat jy jou “gegewe self” moet konfronteer, moet aanvaar wat jy nie kan verander nie, en dan in ag genome die gegewe materiaal, asook gegewe tyd en plek, moet definieer wie jy wil wees, hoe jy aan die wêreld wil verskyn, of jy enigsins ’n rol wil speel in die wêreld, watse rol jy wil speel, waar jy hierdie rol wil speel, asook hoe jy beplan om in jou behoeftes te voorsien op die plek waar jy is en in ag genome wie jy gedefinieer het jy wil wees en watse rol jy wil speel, of watse bydrae jy wil maak.

Een vraag bly egter na jy hierdie dinge uitgesorteer het: WIL JY VERSKYN?

Indien jy kies om wel te verskyn, skop al jou antwoorde op bogenoemde vrae in.

Sou jy kies om nié te verskyn nie, verander alles. Dit maak meeste van jou antwoorde nutteloos, met nuwe vrae wat beantwoord moet word om ’n ander stel behoeftes te vervul (of soortgelyke fisiese behoeftes, maar sielkundig verskillend).

Dit is die vraag wat ek op hierdie punt van my lewe kontempleer. Wil ek wees wie ek (tans) is, op die plek waar ek gekies het om hierdie “ek” te wees, en die rol vervul wat ek vir myself gedefinieer het, of wil ek verdwyn … of dan slegs minimale, en meestal anonieme verskynings maak ten einde my basiese fisiese behoeftes te vervul?

SONDAG 10 OKTOBER 2004

Noodwendige verloop van spirituele ewolusie?

Jy raak moeg daarvoor om jouself te verduidelik aan ander mense. Jy raak ook toenemend bewus van jou eie karikatuur in verskyning aan die wêreld. Jy begin toenemend ’n behoefte te ervaar om te onttrek.

Is dit ’n noodwendige verloop van spirituele ewolusie? Kan dit vermy word dat jy jouself toenemend wil losmaak van die wêreld?

______________________