Veronderstellings is gevaarlik

SONDAG 10 MEI 2009

’n Mens probeer om jouself nie skuldig te maak daaraan nie, maar elke nou en dan word jy weer gekonfronteer met die nare werklikheid dat jy aannames maak oor dinge wat jy nie werklik ken nie, of veronderstellings maak oor mense met wie jy nog nooit gesels het nie.

So het ek nou al menigmaal die naam “Kletskerk” gesien op Google as ek vir iets in Afrikaans gesoek het. Dalk was dit die een of twee sinne wat onder die skakel verskyn, of dalk was dit net die idee van ’n klomp mense wat sedige gesprekke voer op ’n beleefde gespreksplatform, maar ek het nog nooit die plek besoek nie.

My veronderstelling van wat ek daar sou aantref, het my beroof van goeie inhoud – so het ek gisteraand en vanoggend wys geraak.

Laat gist’raand wil ek kyk wat Google produseer oor my een niggie (dit was of dit, of nog ’n rondte Super Mario). Haar naam en van bring my toevallig op ’n ou bespreking op die Kletskerk forum getiteld, “Verandering: Verleentheid of Geleentheid?” Vir die volgende twintig minute het ek die stimulerende struweling gevolg tussen die karakters “Rooibaard” en “Estian Bosch” oor wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees, oor Afrikanergeskiedenis, oor skuld en skaamte, oor “bleeding heart liberals” en Christenskap, oor Dan Roodt, en oor Zulu kultuur.

Vanoggend terug op “kantoor” reken ek om die hoofblad te besoek. Vanuit ’n estetiese oogpunt het ek gedink die uitleg is verfrissend, en niks het die indruk geskep van gesensorde gesprek of onderdrukte intellektuele vryheid nie. En ’n artikel deur Willie Esterhuyse met die titel, “Godsdienstige keerpunt: Ons is tot interpretasie gedoem”, was die laaste strooi: ek het die werf geboekmerk op my lys van daaglikse leeswerk.

Dalk is ek onnodig opgewonde – ek het immers nog net die twee blaaie gelees. Dalk is ek net desperaat vir blootstelling aan nuwe idees in my eie taal. Maar vir nou is die voordeel van die twyfel aan die kant van die “kerk”. Ek is nietemin herinner daaraan dat veronderstellings en aannames gereeld verkeerd is, en dat ekself die een is wat soms die meeste verloor in die proses.

———–

Update: Ek het nou net die deel, “Kletskerk vir Beginners” gelees, en ek mag dalk op die regte plek wees. Ek haal aan: “Vergeet van die naam van hierdie forum. Hierdie is nie ’n kerk nie en nie almal is Christene nie. Jy sal hier uiterste meningsverskille, persoonlikhede, en manier van doen raakloop. Sien dus hierdie forum as ’n grepie uit die wêreld soos dit daarbuite is eerder as die wêreld soos jy dit graag sou wil hê.”

______________________