Verloor jouself, of wees jouself …

DINSDAG 7 SEPTEMBER 2004

00:40

As iemand my moet vra wat die eindresultaat is van tien jaar se dink en skryf oor “dinge”, sal ek aanvanklik etlike temas wil noem. In praktiese terme kom dit egter daarop neer dat ek toenemend voel ek verstaan hoe dinge werk, dat ek gereed is om aan te beweeg. Ook dat die dag tot dag stryd om oorlewing, om behoeftevervulling, ’n spel is waaraan ek nie werklik meer wil deelneem nie. Wat amper blyk ’n selfmoordwens te wees, is eerder wat ek nou onttrekking noem – om te “sterf” as deelnemer in hierdie wêreld. Hoewel die idee, oppervlakkig gesien, aanloklik is – geen lang argumente of verduidelikings meer nie, geen konvensies of reëls nie, huiwer ek steeds by die kruispad: onttrek, of raak betrokke?

(En dan is daar die moontlikheid dat die afgelope vyf of tien jaar –  my laaste jaar op Stellenbosch, twee jaar in Korea en sover amper ses jaar in Taiwan, wel gesien kan word as my onttrekking van die wêreld.)

’n Paar maande gelede het ek gesê: Vind jouself.

Nou sê ek: Verloor jouself, of wéés jouself vir ’n goeie doel.

08:19

Hoe sou jou persoonlikheid, jou identiteit, wie en wat jy is, gelyk het as dit nie gebou was op vrees nie – vrees vir honger, vir armoede, vir pyn, vir die dood, of vir eensaamheid?

14:16

Weereens, as jy uiteindelik op die punt kom waar jy verklaar dat jy weet wie jy is, en jy weet ook hoekom jy dit is en nie iets of iemand anders nie, dan besef jy moontlik dat die soeke na jou “ware, naamlose self” maar nog net begin het.

Jy staan dan voor ’n keuse: verminder die noodsaaklikheid om te wees wie jy nou is – ter wille van funksionering in ’n partikulêre omgewing – deur jouself te onttrek van die wêreld (relatief gesproke); óf, kies ’n rol en begin om die rol te vervul (wetende dat dit ’n rol is), en pas jou kennis, jou ervaring, jou vaardighede en jou persoonlikheid toe op ’n wyse wat jou lewe waarde gee in ’n partikulêre omgewing, en op ’n bepaalde tydstip van die wêreldgeskiedenis.

In ander woorde: Wees wie jy (nou) is, ter wille van ’n goeie saak.

______________________