Twee speurders, en twee dokters

DINSDAG 21 MEI 2013

Situasie een:

Stel jouself voor ’n misdaadtoneel. ’n Speurder daag op, lig hier en daar ’n flits, en trek ’n boekie uit sy baadjie se binnesak. Hy lees vir ’n paar minute, en verklaar dan dat dit logies is dat “die man” dit gedoen het – volgens die boekie wat hy styf in sy hand vasklem.

“Die man?” vra ’n paar omstanders.

“Ja,” antwoord die speurder. “Moenie julleself onnosel hou nie. Julle weet presies waarvan ek praat.” Kort daarna verlaat hy die toneel.

Dan kom ’n tweede speurder op die toneel. Hy lig ook sy flits op ’n paar plekke, maar hy neem ook vingerafdrukke, hy neem ’n klomp foto’s, seel ’n klomp items in plastieksakkies, en praat met ’n paar potensiële ooggetuies.

Na ’n paar dae vra iemand vir hom wie hy dink die misdaad gepleeg het. “Ek weet nog nie,” sal die tweede speurder antwoord. “Ek kyk nog waarheen die leidrade my vat.”

Situasie twee:

’n Man gaan dokter toe. Hy verduidelik dat sy hart nie meer so lekker werk nie, dat dit soms wild aan die klop gaan, en so aan.

“Wat is fout?” vra hy die dokter.

Die dokter leun oor, kyk so bietjie hier en daar in die rigting van die man se borskas, en trek ’n boek uit sy laai uit. Die siek ou merk op dis ’n baie ou boek.

“Dis logies,” laat die dokter dan hoor. “Jy hou nie tyd met die seisoene nie.” Dan laat weet hy sy ontvangspersoon dat hy gereed is vir die volgende pasiënt.

Die volgende dag gaan die siek man na ’n ander dokter toe. Die dokter vra hom ’n klomp vrae – wat hy eet, of hy rook en drink, of hy enige oefening inkry, en of hy stres het by die werk. Die man word geweeg, sy bloeddruk word geneem, en die verpleegster trek van die man se bloed vir toetse. Dan vra die dokter hom om sy hemp uit te trek. Hy klop ’n bietjie hier, en luister ’n bietjie daar.

Aan die einde van die konsultasie lig die dokter die siek man in dat hy oor ’n paar dae moet terugkom. Hy sal dan vir hom kan sê wat die resultaat is van die toetse.

———–

Watter speurder gaan jy vertrou – die een wat die leidrade volg met ’n oop gemoed om te sien waarheen dit hom lei, of die een wat na ’n paar dinge kyk, en die leidrade interpreteer op so ’n wyse dat dit korrespondeer met wat sy boek sê? Watter dokter gaan jy vertrou?

Soos enige redelike mens sal meeste volgelinge van religieuse tradisie ook die speurder verkies wat kyk waarheen die leidrade hom vat, en aandring op die dokter wat verskillende moontlikhede oorweeg en toetse doen en vrae vra voordat hy of sy uiteindelik tot die gevolgtrekking kom dat die oorsaak van die probleem waarskynlik X, Y of Z is.

Wat my egter verbaas, is wanneer dit kom by vrae oor die ontstaan van die heelal en lewe op aarde, gryp talle mense onmiddellik na religieuse mitologie, en verwerp alle twyfel en bespiegelings as oneerbiedig en afstootlik en verwag dat sulke gedrag onmiddellik gestaak moet word.

“Sit weg julle sogenaamde wetenskapboeke,” sal hierdie mense sê. “Ons almal weet klaar wat die waarheid is.”

______________________