Twee pole – staan op en loop

SATERDAG 10 DESEMBER 2005

Ons bestaan is tot ’n mate ’n uitdrukking van vrye wil. Dat ons in die eerste plek ontstaan het, was egter nie ons keuse nie. Teen die tyd dat ons besef het hierdie “ding” wat ons beleef, het ’n naam, en dat dit “lewe” genoem word, was ons reeds volwaardige wesens-in-bestaan.

MAANDAG 12 DESEMBER 2005

Ek is al die afgelope tien tot vyftien jaar vasgevang tussen twee pole: ’n siniese wêreld waar elkeen vir homself baklei (en miskien vir sy familie) en waar alles regverdig kan word solank daar geld betrokke is; en die “Feel God” reaksie daarop wat so populêr is onder moderne Christene.

Ek haat hierdie ding dat mense ander sal lieg en bedrieg en oor hulle sal trap en dit regverdig deur te praat van ’n “harde wêreld” en “elke ou vir homself”, of die regverdiging dat dit gedoen is vir die welstand van die gesin, of die familie. Ek het ook ’n toenemende afkeer ontwikkel van die anti-rasionele, anti-intellektuele, emosie-gedrewe rigting waarin vele sogenaamde Christene begin beweeg het.

Wat is my opsies? Ek wil nie ’n dissipel en/of slagoffer word van sinisme en die blinde najaging van materiële gewin nie, en ek wil nie troos vind in die arms van ’n anti-rasionele, emosie-gedrewe religieuse gemeenskap nie! What to do …

* * *

[op die agterkant van ’n rekening]

“Personal Agenda” follows the second self-imposed socio-economic exile of a white, male, Afrikaans-speaking South African in Taiwan (the first “exile” being two years spent in South Korea, also as an English teacher). The main character/writer examines over a period of six years the reasons for his self-imposed exile and the possibility of returning to the country of his birth. In the process he questions his identity, the meaning and possible purpose of his life, and the accepted truths and ways of life with which he had grown up …

MAANDAG 19 DESEMBER 2005

As jy nie opstaan en loop nie, sal jy opeindig plat op jou gesig. Mense – vriende, familie, en ’n paar vreemdelinge – sal jou help tot op ’n punt. Maar na ’n ruk sal ook hulle hul eie reise voortsit. Dit is eenvoudig hoe die lewe is.

______________________