TWEE PLUS EEN BELANGRIKE OPMERKINGS
Mense, ek definitief ingesluit, is te ernstig.
Vat byvoorbeeld die hele storie van om skielik te moet trek na ‘n ander woonstel toe. ‘n Mens woon vir amper vyf jaar in ‘n plek, en dan kry jy skielik ‘n oproep een nag. Sonder seremonie word jy vertel dat die grondbarones die woonstel wil verkoop, en jy moes eintlik gister al uit gewees het. Mens voel effens angstig oor die plek wat eersdaags jou nuwe tuiste sal wees, die nuwe omgewing, nuwe paaie wat mens sal moet verken. Wat ek hier wil voorstel, is dat hierdie aangeleentheid, soos soveel ander in die lewe, nie naastenby soveel erns regverdig nie.
Dit was die eerste opmerking. Die tweede opmerking is dat die eerste opmerking ‘n pot stront is. Goed, sekere dinge is nooit so erg soos wat mens aanvanklik jouself verbeel het dit gaan wees nie. Maar as mens regtig eerlik moet wees, moet jy erken dat die lewe ‘n redelike ernstige besigheid is. As jy lag vir alles, gaan jy beslis jou gat sien.
Ek wens daar was meer wat ek kon bysê, maar buiten die vanselfsprekende opmerking oor balans wat gehandhaaf moet word, is daar nie veel meer wat die moeite werd is om neer te skryf oor hierdie onderwerp nie.
Die lewe is beslis nie ‘n grap nie, maar buiten die groot waarhede soos “hamburgers maak vet” en “die aarde is rond” is daar min dinge wat so waar is soos dat ‘n goeie sin vir humor waarde het. Laasgenoemde is een van net enkele verskynsels wat omtrent niemand ‘n teorie oor wil waag nie, asof mense bang is hulle verbreek die towerspel as hulle dit probeer analiseer.
Ek het geen ambisie om hierdie misterieuse verskynsel te versuur met ‘n teorie nie (hoewel ek een het), so laat my toe om een laaste opmerking te maak: Om te lag vir dinge maak die lewe leefbaar, baie meer as wat ‘n goeie pizza dit doen; en ja, soms meer as liefde.
Om te lag vir dinge wat “nie regtig snaaks is nie” gooi ook ons somme omver. Want is een plus een dan nie twee nie? En as dit die geval is, dan is ons mos nie veronderstel om te lag vir driekwart van die dinge waaroor ons lag nie, of hoe? Tog is dit presies wat ons doen, en op die kosmiese sakrekenaar is dit presies wat ons in staat stel om voort te gaan – al werk ons eie idee van ‘n somtotaal nie lekker uit nie, en al is ons nie altyd veronderstel om die humor in iets te sien nie.
(10 September 2003)
___________
