Twee gedagtes – Eindkontemplasie III

SATERDAG 1 MEI 2004

Twee gedagtes

Ons, mense, het hierdie ongelooflike vermoë om te weet ons gaan sterf en tog hou ons aan om ons hare te kam, ons tande te borsel en ons ontbyt te eet … in die aangesig van hierdie aller verskriklike kennis! Hoe doen ons dit?

Baie mense spandeer hul dae deur goed op te gaar – materiële besittings – wat hulle nie kan saamvat wanneer hulle fisiese bestaan oor en verby is nie. Ek spandeer my dae deur woorde op te gaar wat ek kan agterlaat.

Eindkontemplasie III

Toe kry ek my verdiende loon vir gedagtes oor persoonlike geluk, en vir die doodslag wat ek ’n verwaande, dapper kakkerlak toegedien het net voor ek gaan slaap het – ek droom die heelnag van die dood!

Staan moeisaam op nege-uur, en ry om ontbyt te gaan koop. Son skyn lekker, ry tussen die mense deur by die oggendmark, en ek dink toe sinies, “Dis nou wat mens kry as jy reken jy voel gelukkiger deesdae – en as jy ’n kakkerlak doodgetrap het.”

Toe, om die volgende draai, wag ’n Halleluja-koor en ’n neon reklamebord wat nog ’n brokkie waarheid aankondig op my pad na verligting: “Ons moet streef daarna om gelukkig te wees juis omdat die dood elke dag op ons spoor is!”

______________________