TWEE BRIEWE AAN L.

Deur 04 - 09 - 2001

Boeke, En Daai Stukkie Papier

“Ek wou jou laasnaweek gemail het omdat ek vir ‘n oomblik vergeet het wat die betekenis van die lewe is. Ek kon sweer ek het dit op ‘n stukkie papier gegriffel nou die dag, but for the life of me kan ek nie onthou wat ek daarmee gedoen het nie. Haat jy dit nie ook as dit gebeur nie?

Anyways, jou timing was goed. Ek het verlede week myself gefnuik en sommer terwyl ek by die poskantoor was ook my digbundel weggestuur. Ek het ook begin met ‘n paar idees vir die tweede een, wat natuurlik ‘die tweede een’ sal wees ongeag of die eerste een ooit daglig sal sien.

Nou ja, dis die nuus om 01:33 op Dinsdag, 4 September in die jaar Een (of is dit Twee?). Totsiens dan… ek moet daai verbrande stukkie papier gaan soek.”

Die Brahms Tune

“[L.]

Ek is beïndruk met jou gebruik van die Engelse woord ‘equation’. As ek geweet het jy kan die taal so goed slaan, het ek jou gevra om my handboek te proeflees! Laat my weet van jou planne, of alles gesinchroniseer is of nie. (Vir wat wil jy in elk geval hê alles moet reg wees in die sogenaamde equation? Dis ‘n struggle, het jy nie die memo gekry nie?!)

Ek voel deesdae moeg. Net soms voel dit asof ek nog steeds die wêreld kan red. Ek was nou die dag so meegevoer deur ‘n Brahms tune dat ek my footing verloor het, en… dis soos as jy vir ‘n oomblik jou oog van die tennisbal af vat, en twee stelle later het ek jou vermorsel. OK, swak voorbeeld. Selfs al het jy nie jou oog van die bal af gevat nie, sou ek jou in elk geval vermorsel het. Dis soos as jou aandag vir ‘n oomblik afgetrek word deur ‘n mooi dame wat op die hoek vir die karre staan en wuif, en dan raak jou vrou skielik rooi in die gesig en gil sy wil ‘n egskeiding hê. Eers later besef jy dit was op daai oomblik wat jy jou standvastigheid verloor het. Soos as jy toelaat dat jy meegevoer word deur iets, en eers oomblikke later besef jy jy’t die hekke oopgemaak, en die emosionele massas stroom onbewaak uit in die strate.

Terloops, die papiertjie met die geheim oor die betekenis van die lewe was ‘n vervalsing – of beter gestel, die gerug dat die papiertjie in die eerste plek bestaan het, was vals. Ek gee soms vals hoop as ek verveeld raak.

Tot later dan
Korporaal Julius M. Geyser”

(4 September 2001)

Hierdie inskrywing dateer: 04 - 09 - 2001 om 00:04 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.