troos
ek kalligrafeer jou naam
oor die landskap van my siel
tatoeëer jou sonskyn en jou storms
oor die beend’re van my hart
jou naam weergalm oor die vlaktes
soos ‘n duisend kore in die nag
dring diep in donker grotte
tot by wesens skugter vir die dag
ek hoor jou naam gefluister
deur die skares in die strate
herken jou naam en wese elke slag
in my gedagtes en die woorde wat ek uiter
so, aan die einde moet ek dit beken:
al stel ek soms myself verwaand bo hierdie sake
dat jóú bestaan my eie naam bevestig
en jou teenwoordigheid so na aan my
my die vertroosting bied wat ek benodig
___________
