Toewyding en plek

Woensdag 25 Maart 1998

In die eerste drie jaar na my laaste eksamen op universiteit, het ek kwaai geworstel met die idee van “commitment”. Ek het nie die vaagste benul gehad waaraan ek myself moes “commit” nie. Ek was ook onwillig om myself toe te wy of te verbind tot iets as daar ’n moontlikheid was dat dit sou misluk.

As ’n mens nie ’n fokuspunt in jou lewe het nie, as jy nie toegewyd is aan enige iets nie, is jy intens bewus van die effek wat hierdie toestand het op jou gemoed. Kort na ek klaargemaak het met universiteit (wat my gelaat het met duisende rande se skuld), het ek Europa toe gegaan vir ’n paar weke (nog meer skuld). Wat ek ook al probeer doen het met die reis, dit het nie geslaag nie. Toe het ek vir meer as ’n jaar rondgeswerf in die hoop dat “iets sal gebeur” wat my rigting sal gee, dat ek iets sal vind waaraan ek myself kan “commit”.

Uiteindelik het ek weer pad gevat na ’n vreemde land toe. Ek het geweet ek moes iets vind wat die leemte kon vul wat ’n gebrek aan toewyding gelaat het. Of miskien het ek gedink die blote feit dat ek in die buiteland woon, weg van die druk van skuldeisers, selfs weg van familie en vriende, sou genoeg wees – vir eers.

Wat ek natuurlik uitgevind het, was dat dit nie help om te ontsnap as jy nie van jouself kan wegkom nie. Ek kon nie wegkom van die gevoel binne my dat ek nêrens behoort nie. As jy nie toegewyd is aan iets of iemand nie, gaan jy nie voel asof jy behoort nie. En as jy nie voel asof jy behoort nie, ervaar jy wat sommige akademici noem eksistensiële angs.

’n Mens kan vir ’n tyd lank dinge doen om op te maak vir die afwesigheid van toewyding in jou lewe, maar as hierdie maatreëls se effek begin vervaag, of as jy verveeld raak daarmee, is jy terug by die begin.

Waaraan wy mense hulleself toe? Jy kan jouself toewy aan ’n religieuse entiteit, ’n idee, ’n droom, ’n ideaal, of jy kan jouself toewy aan iemand anders, aan ’n groep, of selfs ’n subkultuur. Dit waaraan ek myself wil toewy moet gewigtig genoeg wees om my fokus te kan behou en my verbeelding aan te gryp. Dit sal ook help as dit van so ’n aard is dat ek in my daaglikse behoeftes kan voorsien deur myself besig te hou daarmee.

Ek is ’n dromer, maar ek is ook realisties. Ek het al genoeg gesien en genoeg ervaar om te weet watse tipe lewe jou voorland is as jy nie vry is nie; as jy nie keuses kan maak en keuses kan uitoefen nie. Ek weet hoe voel dit as jy nie weet wanneer jy uit jou huurhuis geskop gaan word nie, of wanneer jy weer gaan aansit vir ’n behoorlike bord gekookte kos nie; as jy nie weet of die volgende klop aan die deur dalk die balju is nie. Ek weet hoe dit voel om drome te hê, maar nie te weet of ’n fraksie daarvan ooit waar sal word nie.

Ek kan dus met ’n redelike mate van sekerheid sê dat ek toegewyd is aan die idee van vryheid – vryheid van skuldslawerny, en vryheid van armoede. Ek kan verder gaan en sê dat ek toegewyd is daaraan om ’n punt te bereik waar ek oor opsies sal beskik, en waar ek die nodige hulpbronne tot my beskikking sal hê om keuses te kan uitoefen; ook om oor die vermoë te beskik om meer te gee as wat ek vra. Dit maak derhalwe dan net sin om myself te verbind aan ’n pad wat sal lei na finansiële welstand – nie as ’n eindbestemming nie, maar as ’n weg tot vryheid.

Laastens, waar is ’n beter plek om myself toe te wy aan bogenoemde ideale anders as die stuk aarde waar ek gebore was en waar my diepste wortels steeds geanker lê?

______________________