Ten minste een brokkie goeie advies

WOENSDAG 15 JANUARIE 2014

Advies aan buitelanders om ’n gemaklike tyd te geniet in ’n vreemde land:

1. Vat dit rustig – niemand hou van ’n senuweeagtige buitelander nie.

2. Probeer om dit te vermy om plaaslike mense aanstoot te gee. Jy hoef nie alles perfek te doen nie (sien punt 1), maar jy sal baie baat daarby as jy moeite doen om ’n paar basiese moets en moenies te leer van die plaaslike kultuur.

VRYDAG 21 FEBRUARIE 2014

15:15

Vang weer so ’n gevoel van, “Wat is ek veronderstel om te doen?”

Wil eers sê, “Die antwoord is seker om geld te maak …”

Toe onthou ek: Maak die lewe die moeite werd vir jouself. Dis jou eerste prioriteit, jou eerste taak, jou eerste verantwoordelikheid.

20:53

Vra jouself: Wat het ek vandag gedoen om my lewe die moeite werd te maak?

SONDAG 23 FEBRUARIE 2014

11:37

Ons raak maklik opgewerk oor elke ongeregtigheid waarvan ons bewus gemaak word, of elke keer wat ons dink iemand minag ons, of is onredelik ongeskik met ons.

Vra jouself: “Kan ek iets daaraan doen?”

Indien nie, wat help dit om ontsteld te raak? Jy slaan net jou eie wind uit, en geen van die mense wie jy verantwoordelik hou vir die ongeregtigheid of wat die slegte gedrag vertoon, gee ’n duit om nie.

Kan jy wél iets daaraan doen?

Doen dit dan, sonder versuim.

En siende dat jy iets kán doen, en dit doen, hoekom dan jouself nog opwerk ook?

13:06

Om te weet wie jy is, is nie die einddoel nie.

Om te weet wie jy is, stel jou in staat om êrens te hoort, om deel te wees van iets groter as jyself.

Om deel te wees van iets groter as jyself en te voel jy hoort êrens, is egter ook nie die einddoel nie.

Die einddoel is om te glo jou lewe is die moeite werd om te leef.

Om te voel jy hoort êrens, is bevorderlik daarvoor om te glo jou lewe is die moeite werd om te leef.

Om oor ’n funksionerende identiteit te beskik (om te “weet wie jy is”), is bevorderlik daarvoor om te voel jy hoort êrens.

______________________