Teen apartheid, én teen ’n korrupte regering

SATERDAG 11 OKTOBER 2014

Sommige blanke Afrikaners is van mening dat die Afrikaner nooit sy politieke mag moes opgee nie, en dat mede-Afrikaners wat twee of drie dekades gelede gereken het apartheid is ’n onreg en dat Suid-Afrika eerder ’n veelparty demokrasie behoort te wees, “volksverraaiers” is.

Die enigste mense wat nie wil toegee dat die huidige regering korrup is nie, het heel waarskynlik self hulle snoete in die trog, maar om tot die slotsom te kom dat die vorige bedeling nooit moes geëindig het nie omdat die huidige regering korrup is, is om jouself te bedrieg, en jouself te ontbloot as intellektueel lui, of oneerlik, of beide.

Apartheid en alles waarop dit in die praktyk neergekom het, móés beëindig word, omdat dit immoreel was, en omdat dit die onderdrukker en uitbuiter se wese tot in die kern korrupteer om ander mense te onderdruk en uit te buit.

Dit het verder tot almal se voordeel gestrek om apartheid te beëindig met ’n relatief vreedsame politieke skikking, want as dit nie op so ’n wyse tot ’n einde gekom het nie, sou dit verslaan moes word met ’n stryd wat bloediger en gewelddadiger sou wees as wat dit tot op daardie stadium was, waarin die blanke Afrikaner meer sou verloor het as net politieke mag.

Die huidige groep politici wat hul posisies van mag misbruik om die staat te beroof en die publiek te belieg en te bedrieg, moet gekritiseer word as ’n saak van beginsel. Dit is die plig van elke verantwoordelike Suid-Afrikaner, ongeag velkleur of politieke oortuiging, om onbevoegdheid, korrupsie en ander afstootlike gedrag te kritiseer. Nietemin vind sommige blanke Afrikaners dit vreemd dat mense wat ’n paar dekades gelede gepredik het dat apartheid moes eindig, nou saam kla oor die ANC regering. “Is dit nie wat julle wou gehad het nie?” sal hulle vra in hulle aanlyn kommentaar.

Wat “hulle” wou gehad het – die liberales en progressiewe mense van twintig of dertig jaar gelede, was vir ’n moreel onregverdigbare stelsel van onderdrukking om te eindig, omdat dit immoreel was, en omdat dit die blanke Afrikaner tot in die pit vrot sou maak – en reeds sommiges vrot, tot in die pit, gemaak het.

Wat hierdie liberale en progressiewe mense steeds wil hê, is ’n nie-rassige, demokratiese republiek. Om húlle te blameer omdat die regering in 2014 korrup en onbevoeg is, omdat hulle twee of drie dekades gelede gesê het apartheid moes eindig, en dalk selfs gewerk het daarvoor, is om by die verkeerde boom op te blaf.

______________________