Te belangrik om te wen, te belangrik om te verloor

DINSDAG 30 SEPTEMBER 2008

Ek het onlangs ’n gedagte gehad oor [’n dobbel-verwante aktiwiteit waarmee ek gedink het ek geld kan maak]. Ek reken mens behoort te kan geld maak op die langtermyn, maar ek het ’n probleem met die hoeveelheid tyd wat ek spandeer daaraan, en ek het ʼn probleem met wat dit doen aan my gemoed. As ek ’n uur afsluit met meer geld as wat ek begin het, is ek ekstaties; as ek dit eindig met minder geld, is ek nie soseer ongelukkig nie – kom ons sê maar net ’n algemene sin van geluk en welstand is volslae afwesig.

Nadat ek eers ’n vergelyking getref het tussen dit en iets wat kreatiwiteit vereis – kan ’n gedig of ’n artikel wees vir ʼn webblad, mompel ek toe in die rigting van die yskas: “Dit is te belangrik.”

Om ’n uur se aktiwiteit te eindig met ’n wins, is net eenvoudig te belangrik. Ek volg my strategie en ek gaan deur die stappe met die gedagte dat ek net 1000% (dis reg, een duisend persent) wins moet maak binne vier tot ses weke dan is alles reg en ek kan op vakansie gaan. Dan stap ek na ’n uur terug kombuis toe met minder geld in my rekening, ietwat teleurgesteld, vies, en toenemend onseker. “Gaan dit werk?” sal ek prewel.

Ek plaas alles op die tafel. Ek waag my gesondheid, my geluk en welstand, ’n reis na Suid-Afrika om my familie te sien, my hoop, my … geloof, op die uitkoms van een uur se aktiwiteite wat veronderstel is om geld te maak.

Hierdie nota begin nou lyk soos ’n belydenis, so laat ek dit duidelik stel: Ek dobbel nie; nie met sente nie, en nie met dollars nie. Ek werk dinge fyn uit. Ek gaan in vir die profyt, nie vir die vermaak nie.

Nietemin, om te wen, is te belangrik. Om te verloor, weeg ook te swaar op my gemoed. Kan die situasie gered word? Of moet ek eerder alles los waar ek wen of verloor want albei situasies jaag my bloeddruk te veel op?

Dan weer, los alles wat my bloeddruk kan opjaag? Wat bly oor? Lees? Definitief uit! Ek raak opgewerk en voer hardop gesprekke met myself. TV? Selfde storie. Op vakansie gaan om my familie te sien? Problematies – daar’s die stres van afskeid neem. Engelse klasse gee? Daar’s die lawaai, en die ongeskikte kinders … aag tog! Is dit skaakmat?

WOENSDAG 1 OKTOBER 2008

In Korea het ek die insig gehad dat ek dit haat om te verloor, want ek verwag om te wen. Wat hierdie insig geïnspireer het, was my destydse hewige ontsteltenis wanneer ek ’n arcade game, soos Daytona USA of Soul Edge, verloor het teen iemand. ’n Soortgelyke ding steek deesdae sy kop uit met speletjies op my rekenaar, soos Pacman, Tetris, en FreeCell.

Hoekom is dit vir my so belangrik om te wen? Sekerlik bevestig dit dat ek reg was oor iets, maar hoekom is dit so belangrik om reg te wees?

Is die probleem ’n oordrewe sin van eiewaarde? Het ek voortdurend bevestiging nodig vir my waarde as ʼn mens omdat onsekerheid daaroor net onder die oppervlak skuil?

Is ek gedoem om vir ewig rondgegooi te word tussen ’n oordrewe sin van eiewaarde, ’n onversadigbare behoefte aan bevestiging van my waarde (soos vergestalt in die behoefte om reg te wees), en immer dreigende onsekerheid oor my waarde en die gepaardgaande angs, terwyl ek bestaan in ʼn realiteit waar almal soms wen en soms verloor, waar almal soms reg is en soms verkeerd?

______________________