Suksesvol as wie, en wat?

WOENSDAG 28 JANUARIE 2015

Ek is al vir ’n geruime tyd gefassineerd deur die verskil tussen suksesvolle mense en minder suksesvolle mense. My aandag verskerp altyd wanneer iemand my aandagveld betree wat ek reken ’n goeie gevallestudie sal wees – in vlees en bloed, in ’n TV-program of in ’n film. Ek let op hoe hierdie mense optree, hoe hulle ’n vertrek binnekom, hoe hulle mense groet, hoe hulle na ander mense luister, hoe hulle aantrek, selfs watse woordeskat hulle gebruik.

Twintig jaar gelede was my rolmodel – die persoon wat ek die graagste wou wees, die persoon wat ek geïdealiseer het, die askeet. Ek het gedroom daarvan om in staat te wees om te onttrek van die samelewing en in ’n klipfort te woon ten minste drie dae se stap van die naaste dorp af – en met geen paaie wat toegang verleen aan enige tipe voertuig nie.

Hierdie belangstelling in die suksesvolle persoon manifesteer ’n ambisie wat sekerlik geen verrassing is nie: ek wil suksesvol wees. Ek wil soos ’n suksesvolle persoon optree; ek wil soos ’n suksesvolle persoon praat, soos ’n suksesvolle persoon dink, en mettertyd verwag dat ek suksesvol sal wees wanneer ek ’n projek of onderneming aanpak.

Het ek uiteindelik ’n transformasie ondergaan? Het die een wat ’n askeet wou word moeg geraak vir eenkant staan? Het hy begin wonder hoe dit sal voel om een van “hulle” te wees?

Die feit is, die askeet ís suksesvol, al sal studente en na-apers van konvensioneel suksesvolle mense dit nie sien nie. Wanneer die askeet praat, praat hy nie apologeties nie. Die askeet dra nie ’n duur pak klere nie, maar hy is gemaklik in die materiaal wat hy oor homself drapeer. Die askeet is nie arm nie, al het hy min geld.

Die askeet is suksesvol, want hy doen wat hy wil. Hy volg sy eie kop. Hy vra nie verskoning nie. Hy verwag nie om aanvaar te word nie. Hy verwag wel om in vrede te leef, relatief goed te voel oor wie en wat hy is, en uiteindelik in vrede te sterf.

Meeste mense wil sekerlik aan die einde van die dag suksesvol wees, maar jy moet jouself afvra: suksesvol in wát, en as wié?

———————-

Lees ook oor Richard Withers, ’n kluisenaar in die “moderne woestyn”.

______________________