STIGTING VAN DIE ANTI-BEUSELAGTIGHEIDSLIGA

Deur 25 - 09 - 2003

“WAT IS DIE PUNT?” is die sentrale vraag, die vaandelvraag van die Anti-Beuselagtigheidsliga, die Leuse van Betekenis, die Oproep tot Bevraagtekening.

Is daar ‘n Anti-Beuselagtigheidsliga? Indien nie, roep ek dit nou tot lewe op hierdie oomblik.

Ons leuse sal niemand se tyd mors nie: “WAT IS DIE PUNT?”

Dit sal ‘n oefening wees in betekenisvolle onderneming, ‘n doelgerigte aanval op nutteloosheid.

Die gedagte het wel onlangs by my opgekom dat hierdie materiaal waaraan ek werk dalk net ‘n nuttelose onderneming mag wees. Wie gee tog om of ek my eie ware naam ken of nie? Wie gee om of ek betekenis in my lewe sien, en of ek my dae vul met betekenisvolle aksies of nie?

Nietemin, ons almal het groepe waaraan ons behoort (of meeste van ons, in elk geval). Almal hou daarvan om deel te wees van iets, so nou is daar nog ‘n groep waarvan u as leser ‘n trotse lid kan word. Ons kan selfs naamkaartjies druk, en aan elke lid ‘n spesiale nommer gee. Dit sal natuurlik gratis wees vir die eerste miljoen lede; daarna kan ons ‘n klein jaarlikse fooitjie hef. (Almal moet wel sorg vir hulle eie koek en tee by vergaderings, en verkieslik genoeg daarvan sodat arm kunstenaars hulle plastieksakke en flesse kan vul na die tyd.)

Miskien moet ons ‘n geheime organisasie wees, met selle wat soos bakterieë gemeenskappe oral in die wêreld kan deurweek! Dan kan ons ‘n manifes skryf, en oor vyftig jaar Rusland oorneem, of Kuba, of Mpumalanga. Ons kan ook protesaksies loods teen nuttelose organisasies en instellings, soos uitgewers wat net ingestel is op profyt. Ons kan selfs sendelinge oplei om van deur tot deur te gaan met traktaatjies…

[Donderdag, 25 September 2003]

___________

Hierdie inskrywing dateer: 25 - 09 - 2003 om 15:03 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.