Sondag 31 Desember 2017

“Dankie! Baie dankie!” sê die man terwyl hy die trofee met die syfers “2-0-1-7” in sy hand vasklem. “Ek wil graag bedank my ouers, my vrou, my twee susters en hul eggenote, ons twee katte, die mense by die vegetariese buffet, die mense wat my betaal om hulle te help Engels praat, die Taiwannese regering wat my steeds toelaat om op hulle eiland te woon, ons vriendelike bure, en laastens, almal op die internet wat sulke goeie artikels geskryf het hierdie jaar wat my aansienlik slimmer gemaak het, en in staat gestel het om nóg meer mense te verveel op sosiale funksies. Ek kon dit nie gedoen het sonder julle almal nie. Dankie weereens!”

Die man wil-wil die mikrofoon laat gaan om weer sy plek in die gehoor in te neem, maar verstel dan sy greep en gaan voort.

“Ek kan sekerlik beweer ek het ’n goeie jaar gehad – soos sekerlik vele van ons.” Hy maak sy oë op skrefies om te sien of enige iemand hulle koppe knik. “Dit is dan ook wel so dat ek gewoonlik elke jaar besluit ek het ’n goeie jaar gehad, ongeag hoeveel keer ek op my gesig te lande gekom het.” Die gebruiklike gespanne laggie volg. “Nou ja, so was dit ook hierdie jaar. Ek het heelwat geleer. Twee dinge staan uit. Maak nie saak hoe lank ’n mens probeer om ’n sukses van iets te maak nie, soms werk dit net nie uit nie. Dalk is dit omdat jy onnosel is, of dalk is daar iets in jou onderbewuste wat dink dat dit ’n mors van tyd is. Wat ook al die rede, ek het vir lank gedink as ek lank genoeg stilstaan by iets, ek suksesvol sal wees in die onderneming. Les een van hierdie jaar is dat dit nie noodwendig waar is nie. Les twee het te make met waarde. Net omdat jy jouself oortuig het iets het waarde … of dalk het jy ’n formule uitgewerk wat op die oog af heel kompleks en indrukwekkend is wat jou oortuig iets is waardevol, is nie te sê jy moet jou geld sit waar jou formule is nie. Doen jy dit, val jy dalk lelik op jou gesig.

“Daar was natuurlik heelwat ander dinge wat ek ook geleer het, en nie almal het vereis dat ek my bakkies in die modder moet plant nie!” Weer ’n laggie. Dan hoor die man hier en daar ’n gesug, en hy is seker daarvan hy sien ’n gevroetel met elektroniese toestelle.

“Nou ja, dames en here – en al die geslagte tussen-in, julle is seker almal opgewonde om die nuwe jaar te vier. Ek is beslis ook! Al wat dan oorbly is vir my om julle almal ’n voorspoedige 2018 toe te wens. Kyk mooi na julleself, kyk mooi na julle geliefdes – insluitende julle troeteldiere en kinders, eet gesond, doen gereeld oefening, moenie geld mors nie maar spandeer so nou en dan ’n paar rand op iets lekkers, en neem verantwoordelikheid vir jou eie komende sukses. Mag die volgende jaar een van julle beste jare ooit wees!”

______________________