Slaan hard met dit wat jy die beste doen

WOENSDAG 21 AUGUSTUS 2013

As jy dit wil maak in hierdie wêreld – as jy wil slaag in belangrike doelstellings wat jy vir jouself gestel het, hetsy finansiële welvaart, óf om op 45 of 55 of 65 terug te kyk op jou lewe en te dink jy’t orraait gedoen – moet jy die beste ure van jou dag spandeer deur te woeker met die vaardighede waarin jy die meeste ervaring en/of natuurlike aanleg het.

Indien jy dit wat jy beter doen as enige iets anders opsyskuif ter wille van korttermyn oorwegings, is die kans dat jy ’n mate van sukses kan behaal nie ten volle uitgesluit nie, maar die waarskynlikheid verminder by die dag.

Dis ’n eenvoudige strategie: Slaan hard met dit wat jy die beste doen. Of soos die digter, W.H. Auden, gesê het: “You owe it to us all to get on with what you’re good at.”

DONDERDAG 22 AUGUSTUS 2013

Dalk hou jy nie van die idee van kompetisie nie. Dalk glo jy jou enigste wedloop is met jouself. Dalk dink jy die lewe is nie net wiskunde en wetenskap nie.

Wat ook al jou gevoelens oor hierdie aangeleentheid, as jy dit wil maak in hierdie wêreld, beter jy gereed wees om te kompeteer. Vir elke rand wat jy wil maak, is daar ’n ander man of vrou wat hulle visier instel op dieselfde rand. Vir elke produk wat jy hoop om op die mark te sit, of vir elke diens wat jy wil aanbied, is daar ten minste een ander man of vrou wat besig is om te werk aan ’n soortgelyke produk, of wat ’n soortgelyke diens aanbied. As jy dink jy weet iets, weet maar net, iemand anders weet dit heel waarskynlik ook.

Wat staan jou dan te doen? Is daar hoop vir die gemiddelde nie-geniale man of vrou wat nie toegang het tot onuitputlike hulpbronne om op te maak vir tekortkominge nie?

Die hoop is dit: Fokus op jou talente, elke dag. As dit is om koekies te bak en een vars dosyn na die ander te verruil vir harde kontant, dan doen jy dit. As dit is om kitaar te speel of liedjies te komponeer, dan doen jy dit. As dit is om mense bymekaar te bring en hulle iets te leer wat hulle nie geweet het nie, doen dit. As dit is om mense in nood te versorg, doen dit. As dit is om gedigte of essays of stories te skryf … dan weet jy wat om te doen. Slaan so hard as wat jy kan met jou nommer een vaardigheid.

Wat gebeur indien jy sukkel om geld te maak met jou nommer een vaardigheid, of as jy oortuig is daarvan dat daar nie veel van ’n mark is daarvoor nie? Sug jy, “Dis nou maar hoe die lewe is,” voor jy die geklassifiseerde advertensies fynkam vir die eerste en beste geleentheid om jou tyd te verkoop?

Die sentimente wat ek verwoord in hierdie aantekening is nie gemotiveer deur my oortuiging dat die kreatiewe lewe beter is as ’n lewe waar jy bloot oorleef van een salaris tot die volgende nie. Dis gemotiveer deur ’n oortuiging dat jou beste kans op oorlewing – oorlewing! – is om te fokus op jou beste vermoëns.

Steeds, indien jy reken dat die beste wat jy die wêreld kan bied, geen kommersiële waarde het nie, vra jouself: Is daar enige manier hoe jy met jou vaardighede of talente ’n probleem kan oplos vir iemand anders? Is daar enige manier hoe jy iemand kan help om te kom op ’n goeie plek waar hulle graag wil wees? Is daar enige manier hoe jy iemand kan help om weg te kom van ’n plek vanwaar hulle graag wil wegbeweeg? Selfs al maak jy nie geld deur ’n probleem vir iemand anders op te los nie, kan dit dalk lei tot iets anders wat jou omstandighede sal verbeter.

Die harde werklikheid is dat meeste van ons moet betaal vir ons eie brood en botter, en dalk nog vir enkele ander mense se brood en botter ook. Soms beteken dit dat ons onsself moet besig hou met aktiwiteite waar ons nie ons beste talent of vaardighede benut nie, maar dit bly belangrik om nie jou tyd te mors nie. As jy dan gedoen het wat jy moet doen om kos op die tafel te sit, kom terug by die dinge wat jy beter doen as meeste ander mense. Jou oorlewing, en ook jou uiteindelike sukses, hang af daarvan.

______________________