Slaan die drom met oorgawe, of laat sak jou kop in skaamte

MAANDAG 13 FEBRUARIE 2017

Ek kyk ’n program getiteld Heart of Taiko, oor die tradisionele Japannese drom. Die program volg drie Maleisies-Japannese tienermeisies wat ’n taiko-groep gestig het in Penang. Hulle word genooi om ’n werkswinkel by te woon by ’n legendariese vervaardiger van taiko-dromme in Japan. Hulle ontmoet drie van die land se top vroulike spelers, wat hulle een na die ander onder hande kry om hulle te leer van tegniek en korrekte optrede. Aan die einde van die paar dae word daar verwag van die groep tieners om saam met die Japannese dromspelers ’n vertoning te lewer voor ’n uitgesoekte gehoor.

Die jonger van die drie Japannese meesters neem die voortou met die opleiding. Sy is krities van die begin af. Die meisies speel nie saam nie. Hulle vertoon ’n gebrek aan toewyding. Sy gee vir hulle pakke tydskrifte toegedraai in papier om op te oefen, en sy wonder die volgende dag hoekom die pakke nog nie stukkend geslaan is nie. Sy kyk na hulle handpalms. Hoekom is dit nie stukkend nie? Hoekom is daar geen blase nie? Sy vat hulle na ’n winderige strand toe waar hulle wydsbeen moet staan en swaar dromstokke bo hulle koppe moet hou terwyl hulle iets gil. Dit terwyl ’n sterk wind dreig om hulle om te waai. Hulle doen oukei, maar steeds is hulle leermeester nie beïndruk nie.

Die volgende dag gaan hulle na ’n klooster toe om te mediteer – hulle sit stil op kussings en staar na ’n wit muur. Aan die einde daarvan beskryf die een meisie dit as ’n baie leersame ervaring. Sy sê sy het geleer dat mens ten volle teenwoordig moet wees in die oomblik.

Hulle gaan terug na die opleidingsentrum toe. Hulle oefen harder.

Die dag daarna moet hulle weer dromme speel vir hul leermeester – die jong, professionele taiko-speler. Hierdie keer glimlag sy. Hulle maak nog baie foute, sê sy. Daar’s nog baie wat hulle moet leer. Maar, en dit sê sy met groot tevredenheid – sy sien meer toewyding in hulle oë. Sy sien dit ook in hulle armbewegings: die arms word hoog opgelig, en hard afgebring op die dromvel. En hulle skree lekker hard.

En hulle leer: Tegniese foute is een ding; ons werk daaraan. Almal maak foute aan die begin. Foute is vergeeflik. Wat onvergeeflik is, wat om die waarheid te sê ’n groot verleentheid is vir almal, is gebrek aan toewyding.

______________________