skuins
geblinddoek soos ‘n mol
hol sy deur ‘n tonnel
man kom angstig agterna
geboeide voete, bespring hy haar
sagte woorde word geprewel
wemel soos wurms oor haar rug
hy bekyk haar, half beneweld;
stap hulle, sy met blomme, oor ‘n brug
sewe kinders later, ‘n dekade
sit hulle kruisbeen, peinsend op ‘n stoep
probeer die smaak onthou van kos en water
hoor konstant, uit die strate, ‘n geroep:
“stap die ordinêre pad as die gewete pla
antwoorde kom in elk geval eers jare na die vrae
feite bind ons, verdoof, verblind ons –
kinders, braaivleis, room en skons…”
en aan die einde bid boemelaars vir huise
bannelinge droom van huis toe gaan
niks oortref die vrede van ‘n eie tuiste
beste dan vir eers, om nie te ver te gaan
___________
