Sintuie – swangerskap – verganklikheid – huwelik

VRYDAG 7 JANUARIE 2005

00:25

Die mens, soos ander diere, gebruik sintuie – sig, gehoor, gevoel, reuk – om te weet wie hulle is, en om hulle plek in die wêreld te vind, keer op keer.

12:55

1. Vele mense sê hulle het hul lewens toegewy aan hul kinders – of hulle doen tans so.

2. Mense kry nie in die eerste plek kinders vir die kinders se onthalwe nie, maar om hulle eie diepliggende begeertes te bevredig.

3. Vele mense kry kinders om hulle rolle en sin van eiewaarde in die tyd en plek waar hulle woon, te verbeter.

Gevolgtrekking: Beplande swangerskap is ’n berekende stap wat mense neem om meer waarde aan hul eie lewens te gee, om ander, meer bevredigende rolle te vervul as wat tot op daai betrokke punt in hul lewens die geval is, en om hul lewens te kan toewy aan iets “beters” as net hul eie oorlewing in ’n wêreld gevul met swaarkry, teleurstellings, pyn, en soms ondraaglike verveling.

(Vraag: Hoekom sou ek kinders wou hê? Om dieselfde redes …)

17:27

Data word verwerk van die oomblik van selfbewussyn …

Een van hierdie brokkies data wat my van jongs af die skrik op die lyf gejaag het, was dié van verganklikheid – die idee dat mense vergaan, soms onverwags op ’n jong ouderdom, en soms na genoeg dekades om op twee hande af te tel. Nog ’n waarheid wat nie ontken kan word nie: selfs al tref die werklike oomblik van verganklikheid eers op ’n hoë ouderdom, na ’n lang en vrugtevolle lewe, word dit voorafgegaan deur ouderdom wat die gesig jaar na jaar vol plooie ploeg, wat die vol maan hare van die jong leeu laat uitval tot net ’n blink vel met ’n paar klossies hare die skedel bedek, wat die organe laat ingee, die spiere moeg maak en die bene broser maak by die dag.

SATERDAG 8 JANUARIE 2005

Mense trou met wie hulle trou, omdat hulle glo daai betrokke persoon sal vir hulle kan gee wat hulle op daai stadium van hul lewens nodig het. In vele gevalle word die res van hulle lewens gekenmerk met ’n stryd om hulleself te versoen met die keuse wat hulle gemaak het.

______________________