Sekerheid – onsekerheid – wonderwerke

DONDERDAG 9 JUNIE 2005

13:43

Mense in ’n movie op TV vlug vir ’n reuse slang, en kruip weg agter ’n muur.

Moral of the story? As jy nie verskyn nie, is jou kanse op oorlewing soms beter.

16:25

Waar staan ek? Waar ek die afgelope paar jaar al staan – op pad na dieselfde bestemmings.

Waaroor wonder ek? Selfde as voorheen: Waar kom ons vandaan? Wat is ons? Is daar iets wat ons moet doen? Indien wel, wat?

VRYDAG 10 JUNIE 2005

10:18

Nie meer my Plekkie in die Son nie, maar my Stukkie van die Legkaart.

* * *

Daar is mense wat sal kyk na ’n omvattende verslag van hoe die mens funksioneer – al die sielkunde, al die keuses wat mens moet maak wat neerkom op jy wat jy is. Hulle sal daarna kyk en sê: “Fair enough. Maar vat gerus die verslag terug. Ek is ’n besigheidsman (of ’n kolonel in die weermag, of ’n Engelse onderwyser) – dis goed genoeg vir my. Ek het nie nodig om al daai ander slim goed te weet of te verstaan nie.” Of: “Ek verstaan hoe die brein werk, hoe die psige werk, maar ek is 100% toegewyd aan my rol, my funksie en my arbeid. Ek het nie meer as dit nodig nie.”

17:31

Sy is gespanne daaroor om huis toe te gaan. Sy sien uit daarna om haar familie te sien, maar jy weet hoe dit is met hierdie dinge – sy weet wie sy was in haar algemene gedrag, in haar houding jeens mense en dinge, wat sy besig was om te doen met haar lewe, en waarheen sy op pad was toe sy laas aan haar familie verskyn het. Dis nou ’n jaar later. Sy is steeds dieselfde mens … of is sy? Sy’t dinge gesien, dinge ervaar, verhoudings aangeknoop met mense wat haar familie nog nooit ontmoet het nie. Sy het dinge gedoen wat niemand in haar familie al gedoen het nie, en op plekke waar haar familie nog nooit was nie. Sy is gekonfronteer met vraagstukke, en met haarself, op wyses waarop sy nooit voorheen gekonfronteer is nie. Het hierdie dinge verander hoe sy oor haarself dink? Het hierdie ervaringe haar verander op maniere wat sal maak dat sy nie meer dieselfde persoon sal wees wat haar familie by verstek verwag nie? Sal sy effens ongemaklik voel tussen mense wat sy liefhet, en wat al haar hele lewe aan haar bekend is? Sal sy effens vervreemd voel van die omgewing waar sy drie weke lank sal vertoef?

Hierdie is vrae waaroor sy moontlik nie bewustelik wonder nie. Voel sy nietemin die onsekerheid? Ek glo so.

SONDAG 12 JUNIE 2005

Ek sit in die sitkamer en kyk Proof of Life. [N.] slaap nog ’n bietjie. Ek moet myself inhou om haar nie te gaan pla nie – om met haar te gesels, om te begin om nog ’n dag met haar te spandeer. Ons het gisteraand vir mekaar stories vertel van ons jeug – eerste soene, trekkery, vriende, my skandes op Stellenbosch [eerste paar maande wat ek ’n kamer “gehuur” het by ’n gesin in hulle huis maar nie die huur kon betaal nie, en so aan]. Soms moet ek myself daaraan herinner (en ek word daaraan herinner as ek deur my notaboeke lees) dat daar ’n tyd in my lewe was – so onlangs as ’n jaar gelede, wat ek gedink het ek gaan op my eie wees tot ek … veel ouer is. Tensy, so’t ek gereken, ’n wonderwerk gebeur.

______________________