SATERDAG, 31 DESEMBER 2011

Deur 31 - 12 - 2011

[16:22]

Die laaste dag van die jaar is soos die laaste wakker uur van ‘n dag: sommige mense ly gewoonlik aan ligte skok en teleurstelling dat dit verby is, dat dit wat jy nie vandag gedoen kon kry nie, moet wag vir môre.

Oor ‘n paar ure is 2011 verby.

Hierdie was ‘n goeie jaar, ‘n besonderse jaar. My en Natasja se verhouding was van die begin af van so ‘n aard dat ons nie ‘n dokument nodig gehad het om te weet ons hoort bymekaar nie, maar verlede maand het ons na amper sewe jaar amptelik en wettiglik trou aan mekaar gesweer. Vyf van my kiestande is ook uiteindelik herstel, so ek kan weer behoorlik eet. As werkende individu het ek hoofsaaklik op twee kommersiële projekte gefokus hierdie jaar. En vanaf Februarie het ek myself weer toegewy aan my literêre projekte – iets wat ‘n so te sê daaglikse realiteit geword het.

Vanuit die posisie waarin ek myself op hierdie oomblik bevind, as gevolg van wat ek gedoen het tussen Saterdag, 1 Januarie en nou, Saterdag, 31 Desember, lyk 2012 na ‘n goeie jaar.

Wat betref die volgende 365 dae, is ‘n nota van Dinsdag, 4 Januarie 2011 gepas:

“’n Jaar in ‘n mens se lewe is soos ‘n kind. Jy kan beplan, jy kan voorberei, en jy kan hoë verwagtinge koester. Maar aan die einde moet die kind toegelaat word om sy eie gang te gaan, om sy eie karakter te ontwikkel. Jy kan – en moet – leiding gee, maar aan die einde moet jy vrede maak: doen jou absolute bes, en vertrou.”

Mag 2012 ‘n goeie jaar wees, vir myself, vir my beminde, vir al ons vriende en familie. En mag dit ‘n goeie jaar wees vir alle goeie mense op hierdie planeet wat elke dag hoop en stry vir ‘n beter dag.

Hierdie inskrywing dateer: 31 - 12 - 2011 om 16:22 en sorteer onder volume V. Gesluit vir opmerkings, maar jy's welkom om 'n skakel te plaas van jou eie webblad.

Gesluit vir kommentaar.