Roetine ondersoek oor waaraan ek glo

WOENSDAG 23 DESEMBER 2015

Vra jouself of jy steeds X sal doen, of besorg sal wees oor wat Y van jou dink, as jy moet weet jy gaan nie meer oor vyf jaar leef nie. Vra dan dieselfde vraag oor drie jaar, twee jaar, een jaar …

* * *

Elke nou en dan doen ek ’n vinnige roetine ondersoek oor waaraan ek glo.

Antwoord: Ek glo aan rede, en om redelik te wees. En ek glo aan Beskawing. Ek glo dat mense beter met mekaar oor die weg kan kom, dat meer mense gelukkiger lewens kan lei, en dalk meer kan uitrig met hul lewens, indien meer mense beter saamwerk.

Hierdie mees onlangse ondersoek is gedoen op die sypaadjie naby ’n besige kruising in Kaohsiung soos ek teruggestap het van waar ek aandete koop op ’n Woensdagaand. Vir die soveelste keer in die laaste tyd het ek gesien hoe motoriste aanhou ry ten spyte daarvan dat hulle moes kon sien die verkeerslig gaan hulle vang. Hulle het natuurlik opgeëindig, saam met ’n dosyn of meer ander voertuie, in die middel van die kruising toe die verkeer in die ander rigting moes begin ry – en toe voetgangers oor die pad moes begin loop.

“Stel jouself die wêreld voor as mense net wil saamwerk,” het ek gemurmureer in die rigting van die een motoris, wat, soos verwag kon word, zombie-agtig voor hom bly kyk het.

______________________