‘n REWOLUSIE VAN ‘n ANDER AARD

Deur 12 - 02 - 2004

Is dit tyd vir ‘n Nuwe Strategie?

Ek is die Persoonlike Republiek. Die Skrywer is die Absolute Diktator. Die feit dat laasgenoemde regeer met ‘n ystervuis ondermyn nie sy oortuiging dat die Republiek hervorm moet word nie. Hy weet alte goed die Volk grom al vir te lank. Die welsyn van die staat kan nie onbepaald gehandhaaf word onder die huidige styl van persoonlike regering nie.

Die Skrywer besit egter die belangrikste hulpbron, naamlik Tyd – in beginsel. In die praktyk laat hy die Onderwyser toe om genoeg kapitaal te verdien om die Persoonlike Republiek aan die gang te hou. Die Onderwyser se lojaliteit aan die Skrywer kan nie, en was nog nooit, bevraagteken nie.

Dit is egter duidelik vir almal – die Volk, die Onderwyser, die Student, en veral vir die Skrywer, dat die Algemene Gang van Sake nie volhoubaar is nie.

Sprake van Rewolusie het egter al so alledaags geraak dat niemand hulleself meer daaraan steur nie. Desnieteenstaande weet almal dat daar geen ander uitweg as Rewolusie is nie. Niemand, nie die Volk, die Onderwyser, die Student, of die Skrywer betwyfel die absolute noodsaaklikheid daarvan nie.

Almal is dit ook eens dat die Rewolusie moet strook met die Saak van die Skrywer.

Die Struktuur is dus nie – soos in talle ander rewolusies in die geskiedenis van aardse beskawings – die probleem nie. Wat verander moet word is hoofsaaklik die Finansies van die Republiek. Wat benodig word is dus nie ‘n Kulturele Rewolusie, ‘n Politieke Rewolusie, of ‘n Spirituele Rewolusie nie. Wat benodig word, is ‘n KOMMERSIËLE REWOLUSIE.

Die probleem is dat die Skrywer – slim soos hy is – nie bekwaam is daarvoor om ‘n Kommersiële Rewolusie deur te voer nie. Almal is dit eens dat die Skrywer se Saak goed is, maar Een van Ander Bekwaamheid en Talent moet ingeroep word vir die noodsaaklike taak van Leier van die Kommersiële Rewolusie. As iemand net na vore kan tree wat ‘n rewolusie kan deurvoer!

Die Volk moet gered word. Die Onderwyser moet gered word. Die Student moet gered word. En soos dinge staan, moet ook die Welwillende Diktator gered word. Dit kan inderdaad gesê word dat die Toekoms van die Persoonlike Republiek op die skouers rus van ‘n Bekwame Kommersiële Leiersfiguur.

Maar wat kan gedoen word? Die Skrywer besit al die Tyd – in beginsel. Natuurlik was die Skrywer nog altyd bereid om Tyd af te staan aan Kommersiële Adviseurs, maar tot op hede was dit nie voldoende nie.

Die Skrywer, wys soos hy is, weet wat gedoen moet word. Hy, wat met ‘n ystervuis regeer, moet die een ding doen wat hy vrees soos hy ‘n hondsdol, uitgeteerde hiëna vrees: Hy moet tydelik afstand doen van Eksklusiewe Besit van Tyd.

Omdat Besit van Tyd egter die sleutel is tot ‘n posisie van mag, en derhalwe om enige iets uit te rig in die Persoonlike Republiek, beteken dit dat hy ook tydelik afstand sal moet doen van sy rol as Regeerder. Die Skrywer sal steeds die Spirituele Leier wees, maar ter wille van die Republiek, die Volk, die Onderwyser en die Student, en ter wille van sy eie Saak, moet hierdie mees kosbare Besitting, en derhalwe die Regeerders-rol tydelik oorhandig word aan ‘n KOMMERSIËLE DIKTATOR.

Maklik sal dit nie wees nie. Die Skrywer weet dat hy sy mond sal moet hou, sy pen stil, en sy tikvingers meestal in sy sak. Vir ‘n periode van nie meer nie as Drie Maande sal die leisels van die Republiek oorhandig moet word aan die Kommersiële Diktator.

Hierdie Rewolusionêre Figuur sal Eksklusiewe Besit van Tyd hê. Hy sal dag en nag moet arbei vir ‘n Beter Ekonomiese Bestel vir Alle Karakters. Hy sal toegewyd wees aan die Persoonlike Republiek – dit wéét en verwag almal, en hy sal dit doen vir die Saak van die Skrywer.

Die Kommersiële Diktator se Rewolusie sal tydelik, sowel as kragtig wees. Vir ‘n enkel kwartaal sal hy alle hulpbronne onder sy beheer hê – waarvan die belangrikste een Tyd is. Alles sal gesinchroniseer word onder sý Agenda – vir drie maande lank.

As hy misluk, loop die Republiek die gevaar om onder te gaan. As hy slaag, sal dit die Begin van ‘n Goue Era beteken. Maatreëls wat gedurende hierdie periode deurgevoer sal word, sal ook dien as ‘n Ekonomiese Model vir ‘n Nuwe Republiek.

Die Skrywer sal aanvanklik die Tydelike Diktator bystaan met propaganda baniere, slagspreuke en kort toesprakies. Maar sodra die Nuwe Tyd aangebreek het, begin die Skrywer se periode van Selfopgelegde Stilte. Dit moet noodwendig so wees. Twee honde kan nie op dieselfde tyd aan dieselfde been knaag nie. So ook kan twee diktators nooit op dieselfde tyd ‘n republiek met ‘n ystervuis regeer nie.

Die Skrywer sal stil wees. Sy pen sal stil wees. Sy tikvingers sal slegs dans as die Kommersiële Diktator dit vereis. So sal dit dan wees vir Drie Maande lank.

Lank Lewe die Kommersiële Rewolusie! Lank Lewe die Kommersiële Diktator! En Lank Lewe die Skrywer.

Vandag is die Vierde Dag van die Week, die Twaalfde Dag van die Tweede Maand van die Jaar Twee-Nul-Nul-Vier. Oor Elf Dae is dit NUWE TYD.

___________

Hierdie inskrywing dateer: 12 - 02 - 2004 om 20:25 en sorteer onder Die Kommersiële Diktatorskap. [...]

Gesluit vir kommentaar.