Regte plek op die regte tyd

DINSDAG 20 JANUARIE 2015

Malcolm Gladwell redeneer in sy boek, Outliers, dat Bill Gates en Steve Jobs in hulle tienerjare op die regte tyd op die regte plek was. Belangstelling in rekenaartegnologie, goeie skole en toegang tot rekenaars het alles die pad vir hulle voorberei om jare later ikoniese figure te word in die rekenaar- en besigheidswêrelde.

Ek is ook tot ’n mate gelukkig wat betref my skryfwerk. ’n Paar dekades gelede was daar ook skrywers soos ek wat materiaal geskryf het oor hulle eie lewens, en oor hulle idees oor die lewe. Min van hierdie mense se skryfwerk is seker ooit gelees deur meer as tien mense, en vele het uiteindelik gesterf sonder veel erkenning.

So ook is daar nou ander mense wie se lewens soortgelyk is aan myne, wat skryf oor soortgelyke temas, op wyses wat dalk ook nie sal lei tot enige kommersiële sukses nie.

Hier is waar my geluk inskop, my regte-plek-op-die-regte-tyd. Ek het aaneenlopend sedert 1999 ’n rekenaar gehad het vir my eksklusiewe gebruik met stabiele, vinnige toegang tot die internet – ’n voorreg wat ek nie geniet het voor ek Taiwan toe gekom het nie. Bepaalde kondisies in Taiwan het my ook in staat gestel om genoeg geld te maak om te oorleef en ’n bietjie te spaar sonder om veel meer as dertig van my lewensure per week op te gee daarvoor. Gooi hiermee saam my begeerte om geld van die huis af te verdien wat my blootgestel het aan internet bemarking, en binne ’n paar jaar het ek ’n kritiese hoeveelheid kennis en ervaring opgedoen van self-publikasie.

Ek kan dus bekostig om tyd te spandeer aan my skryfprojekte, ek weet hoe om dit te publiseer op my eie webblaaie en op ’n groeiende aantal ander platforms en in ander formate, en hoe om hierdie materiaal te versprei en verspreibaar te maak.

______________________