Reën in Bronkhorstspruit

MAANDAG 21 FEBRUARIE 2005

Ek staan buite, op die hoek van die huis, rook my eerste sigaret van die dag en drink ’n koppie swart Nescafé Classic. Dis Maandag 21 Februarie 2005. Dit reën, sag maar deurdringend. Die lug is grys, en dis koeler as gister, en eergister, en die hele verlede week. “Ten minste sal my kopvel nie weer ’n tan vang nie,” dink ek, en gooi die laaste bietjie koffie oor die nat gras.

My ouer suster en haar eersgeborene vlieg vanaand Dubai toe, en na ’n paar dae se kuier by vriende, verder Londen toe. Almal, dit weet elkeen van ons, gaan effens somber wees die res van die dag. My jonger suster, met haar twee week oue stukkie mens, sal voortgaan met haar nuwe lewe in hulle huis in die dorp. Ek sal vanaand daar kuier, en môre, en dan Woensdag sal ek weer terugkom plot toe. Donderdag sal ek Johannesburg toe gaan, en Vrydag vlieg ek Maleisië toe. In die lughawegebou buite Kuala Lumpur sal ek vir vyf ure lank ronddrentel voordat ons Kota Kinabalu toe vlieg, waar ek sal afklim vir ’n smoke break. Kort daarna sal ons verder vlieg om die kurwe wat Suidoos- en Noordoos-Asië van mekaar skei, tot ons land in die suidelike Taiwannese hawestad, Kaohsiung.

Maar vir nou reën dit, in Bronkhorstspruit.

* * *

Ek sit op die geel deken op die bed in die spaarkamer. Ek hoor my pa gesels met sy kleinkind; ek hoor ’n Afrikaanse omroeper op die radio in die vertrek langsaan; ek hoor hoe die jong sweiser in die agterplaas sy brood en botter verdien.

Ek gaan binne ’n minuut ophou skryf, opstaan, my notaboek bêre, en vir ’n paar minute aansluit by die mense – my familie – in die kombuis. Dan sal ek ’n beker groentee maak, op die hoek van die huis onder die afdak gaan staan, en met die reën wat op die groen gras voor my val, my tweede sigaret van die dag rook.

______________________