Rede vir onsekerheid, en ’n nuwe mantra

DONDERDAG 10 JULIE 2003

Ek identifiseer ’n swakheid in my toekomsplanne. Finansieel kan dit werk, maar daar is steeds ’n onsekerheid wat deurskemer in my idee om miskien huis op te sit in Bronkhorstspruit, en dan eers weer vir ’n paar maande terug te keer na Taiwan.

Op my gebruiklik wetenskaplike manier werk ek toe uit dat dit te make het met identiteit. Ek weet wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê. Solank ek in Taiwan bly, is hierdie dinge moontlik. Die oomblik as ek huis opsit in Bronkhorstspruit, so reken ek, gaan ek effens onseker wees of wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê, nog steeds so geanker gaan wees in Eksterne Realiteit.

Ek vat toe ’n middagslapie, en die boodskap kom deur: Wees wie jy is – ’n skrywer.

Die onsekerheid verdwyn toe feitlik onmiddellik, soos ’n speelgrond boelie wat die pad sal vat as sy teiken se ouer, groter broer op die toneel verskyn.

Die rede vir die onsekerhede is omdat ek ’n bloedstollende angs daarvoor het om ’n doellose, betekenislose bestaan te voer. Om net in Bronkhorstspruit te woon en “genoeg” geld te maak, is nie goed genoeg vir my nie. In Taiwan is ek ’n onderwyser, ’n skrywer, en ’n student. As ek dit duidelik stel aan myself dat ek steeds ’n skrywer sal wees in Bronkhorstspruit, dan sê ek dat ek ook dáár sal weet wie ek is, hóé ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê. En ook dáár sal dit gegrond wees in Eksterne Realiteit.

* * *

Ek kyk deur my ou foto’s (1990, 1991, 1997), en ek lees deur ou joernale (1996, 1997) en ek begin wonder: Het ek darem iets met my lewe gedoen die afgelope sewe jaar, en miskien meer spesifiek die afgelope vier en ’n halwe jaar?

Die antwoord is, “Ja.” (Ek het ’n paar dae gelede ’n soortgelyke vraag gevra, so ek het gelukkig reeds die antwoord geken.) Ek het die afgelope sewe jaar geleer wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê (dankie vir Steven Burgess en sy boek SA Tribes: Who we are, how we live and what we want from life in the new South Africa vir hierdie reël wat ek deesdae soos ’n mantra opsê). Ek het ook spesifiek die afgelope vyf jaar daaraan gewerk om ’n skrywer te wees, en nie net te wil word nie.

______________________