Probeer harder om meer te doen met minder

VRYDAG 18 MAART 2016

Dink aan ’n spesifieke probleem, en spesifieke hulpbronne tot jou beskikking. Een voorbeeld: jy sluit jouself uit jou huis uit. Jy kyk om jou rond en al wat jy sien, is ’n stuk draad, ’n besem, ’n geroeste skroewedraaier en ’n baksteen. Wat jy regtig nodig het, is jou sleutel, maar jy het nie jou sleutel nie. Wat doen jy? Jy vat daai stuk draad, die besem, die skroewedraaier en die baksteen, en jy doen jou bes.

So ook is dit met geldmaak.

Een van die wonderlike dinge van die Internet-era is dat daar soveel maniere is om vir jouself ’n inkomste te bewerkstellig. En daarin lê ook die probleem. Dit is die maklikste ding in die wêreld om jou tas so swaar te laai met dinge wat jy wil doen, dat jy dit skaars by die treinvenster kan indruk om te vertrek op jou reis na Finansiële Welstand. Soos die minute verbytik voor die trein vertrek, weet jy dat jy van die goed in die tas moet uitpak en langs die spoor moet los. Maar so hard as wat jy probeer, jy kan jouself nie sover kry nie. En uiteindelik vertrek die trein sonder jou.

Ek dink byvoorbeeld aan wat ék sal doen as ek net my Engelse klasse, my skryfwerk en so twee ander kommersiële boekprojekte het om my finansiële doelwitte van ten minste hierdie jaar te bereik. Ek kan nie verseker sê of ek my doelwitte sal bereik nie, maar een ding is seker: Ek sal meer doen, en harder probeer om geld te maak met my skryfwerk en met die ander boekprojekte as wat nou die geval is (ja, selfs met my skryfwerk).

Hoekom doen ek dit dan nie, as ek dan nou sê ek sal dit doen? Want daar is altyd ’n liggie wat aan en af flikker – daar, aan daai kant. “O,” sal ek sê, “dis [enige van verskeie dinge wat ek ook kan doen om meer geld te maak]. Laat ek net gou aandag daaraan gee.”

DINSDAG 5 APRIL 2016

Gatkant van ’n gedagtestroom: Ek glo die ou wat sit met ’n boord vol lemoene en niks anders nie, sal uiteindelik uitwerk het hoe om geld te maak met daai lemoene – vars lemoensap, gevriesde lemoensap, lemoenskille, sakke vol lemoene, gedroogde lemoene, lemoenkoek …

Sal hy beter doen as die ou wat ook begin met ’n klomp lemoenbome in sy agterplaas, wat na ’n tyd dink dis ’n mors van tyd, wat dan ’n paar dosyn skoene koop om dit te verkoop van deur tot deur, en na ’n maand die onverkoopte skoene in sy agterkamer pak, om dan ’n blitskursus te doen in tuindienste en vir hom ’n stel tuingereedskap koop om daarmee te probeer geld maak, wetende dat daar ander mense is in die buurt wat ook tuindienste aanbied, en beter is met bemarking as hy?

Ek glo die waarskynlikheid is beter dat die ou wat bly by die lemoenbome, uiteindelik vir homself ’n stabiele bron van inkomste sal opbou.

______________________