Post-ballingskap, deel 001

MAANDAG 2 FEBRUARIE 2004

Hoekom kan ek nie aan die einde van hierdie maand – Februarie 2004 – huis toe gaan nie?

[…]

Ek kan dit kategories stel dat ek nie ’n blyplek met ’n mooi adres nodig het om literêre materiaal te produseer nie. Die aangeleentheid van kar-en-huis was tot onlangs van uiterste belang omdat een van die hoofredes vir repatriasie was om te kan trou-en-kinders. Ook hierdie aangeleentheid is aangespreek. As ek myself nie kan help nie, en ’n vrou vind my aantreklik ten spyte van haar beste pogings om die aantrekking te onderdruk … dan is dit maar hoe dit is. Maar ek gaan nie meer kar-en-huis om dit as sulks in die Hoekie vir Eensames te adverteer saam met ’n foto van my van tien jaar gelede nie.

Wat is dit dan wat my moontlik nog hier gaan hou in Maart, en April … en Desember 2007? Is dit vir die vrou by die seekat-plek wat haar wimpers vir my gooi? Is dit omdat ek my Chinees nog wil verbeter? Miskien wil ek nog Japan toe reis, en China, en … wat was die ander plekke nou weer? Miskien wil ek eers my EFL uitgewersbesigheid op die been kry? Beter redes? Slegter redes? Hierdie is, dank Vader, nie ’n “Ballingskap” opstel nie …

Die enigste redes hoekom ek nie besig is om my boeke met een hand in ’n boks te druk terwyl ek met die ander hand tik nie, kan in twee woorde opgesom word: “meubels” en “geld”. En in ag genome dat as ek nie meubels gehad het nie, geld nie soveel van ’n probleem sou gewees het nie, kom dit neer op een ding: MEUBELS!

“Los die blêrrie meubels net hier,” sou miskien jou advies wees.

“Ek het omtrent vyftig bokse ook,” sou ek pateties probeer terugpraat.

Maar kom ons praat reguit: Dis Februarie. Dis die maand van mediese ondersoeke om te bewys ek is gesond genoeg om tussen oues en malles en besete taxi bestuurders en gangsters te woon. Dis ook die maand wat ek my visum moet hernu, vir ’n tydperk wat oor die afgelope vyf jaar nog altyd neergekom het op nóg twaalf maande.

Ek is pynlik bewus daarvan dat ek genoeg geld het om te betaal vir die vliegtuigkaartjie wat ek in Desember so ewe hoopvol bespreek het. Die enkelkaartjie sal my NT$15 500 kos. Dit sal my los met genoeg geld om myself vir so ’n maand of twee aan die gang te hou tot ek op ’n wonderbaarlike wyse kan begin geld verdien in Suid-Afrika (terwyl ek voortgaan om ten minste twaalf ure per dag te skryf aan materiaal wat min mense ooit sal lees).

Ek is bewus van hierdie stand van finansiële sake. Ek is ook bewus van die feit dat ek meeste van my issues versmoor, of dood verveel het.

Ek weet dus hoeveel geld ek het, en ek weet hoeveel dinge ek nié daarmee sal kan doen nie. In teorie kan ek nog ’n paar maande hier bly … ag fok, in teorie kan ek nog ’n paar maande hier bly en seker nog ’n paar duisend by die paar duisend in die bank voeg. Ek weet al te goed ek kan moontlik my twee stelle EFL-materiaal – het jy gedink ek formuleer net heeldag my persoonlike agenda? – aan ’n plaaslike uitgewer verkoop.

Dit vat egter niks weg daarvan dat niks my hier hou anders as ’n behoefte aan ’n bietjie meer geld, en ’n paar tafels en stoele nie. Kan ek wegstap van die meubelstukke wat ander mense oor die jare op straathoeke gelos het, en ek met groot entoesiasme laat in die nag na my eie woonstel gesleep het? Daar’s die ou kassie met die laaitjies en die gaasdeure waarop ek staan en notas maak; die klein, lae bedtafeltjie; die houtkassie in die kombuis; die groot houttafel waarop my rekenaar staan; ander klein tafeltjies. Dan’s daar die musiekinstrumente wat ek in oomblikke van waansin in 2000 aangeskaf het, rusbanke en opgestopte stoele, my oefenfiets …

Mens moet opoffer as jy wil voortstu. Of jy moet hoop jy kry genoeg kapitaal versamel van ’n tot nou toe onbekende bron wat jou in staat sal stel om duisende rande te kan spandeer net om jou rekenaar in jou eie land op dieselfde houttafel te kan neersit.

Ek praat so graag van rewolusie. Kan ek werklik doen wat ek moet doen as ek bewus raak van die prys? Of hou ek vas aan grashalms terwyl ’n groot hand na my uitgestrek word? Is ek veel meer onnosel as wat ek dink?

Ken ek soveel “antwoorde” en donder ek steeds die verkeerde rigtings in?

DINSDAG 3 FEBRUARIE 2004

Vir ’n geruime tyd al ignoreer, of systap ek die idee van balans. Balans, so’t ek onlangs weer ontdek, gaan hoofsaaklik oor spanningsloosheid, of om ten minste so na as moontlik aan hierdie ideale situasie te kom. Die idee is sentraal aan verskeie godsdienste. ’n Terugkeer na die spanningslose toestand voor fisiese geboorte vind manifestasie in byvoorbeeld die nirvana van Boeddhisme, en die paradys van die Christelike geloof en Islam. Die begeerte om terug te keer na ’n toestand van spanningsloosheid is, soos die oervrees om te verdwyn in die niet, een van die mees fundamentele aspekte van die menslike werklikheidservaring. Niemand kan dit vryspring nie. (Snaaks, hierdie strewe na spanningsloosheid, maar ook die vrees om te verdwyn. Miljoene godsdienstige mense begeer om na hulle afsterwe die “paradys” te betree, maar terselfdertyd vrees hulle fisieke dood – ’n essensiële voorvereiste om die paradys te kan betree. Die Boeddhistiese nirvana, aan die ander kant, is om letterlik in die niet te verdwyn, maar vele lewens moet gewoonlik gelei word voor jy by hierdie punt kom. Is dit nie waar dat ons almal, diep in ons binneste, glo dat ons uiteindelik almal in die niet gaan verdwyn nie? Laat dit ons net beter voel daaroor om een of ander pleknaam daaraan te gee, of om te glo die proses is kompleks en uitgerek?)

Teleurstellend soos dit mag wees, is hierdie teologiese inleiding net ’n manier om terug te keer na my nuutste plan: om moontlik aan die einde van hierdie maand, sonder genoeg geld, en sonder behoorlike beplanning terug te keer na my Ware Tuiste – waar baie spanning heel moontlik aan die orde van die dag sal wees, en ek heel moontlik sal verdwyn in die niet van ’n ongekarteerde niemandsland. Ek het natuurlik in Desember skimpe laat val van vliegtuigkaartjies wat bespreek is, en om einde Februarie 2004 terug te gaan Suid-Afrika toe, was immers die plan vanaf verlede Juliemaand. Nietemin, ek het dit as vanselfsprekend begin aanvaar dat ek ’n paar maande langer as Februarie sal bly.

My probleem, soos ek dit reeds in die eerste gedeelte uiteengesit het, is dat ek gister besef het ek het ’n klein opening om nou ’n waarlik heroïese ontsnapping te waag. Ek het nie werklik genoeg geld nie, maar tog het ek genoeg om daai enkelkaartjie te koop.

Verder sien ek geen skeepshouers in my koffiebone nie, wat beteken ek sal uiteindelik moet doen waarvan sekere esoteriese karakters praat met groot oortuiging: Ek sal verder lig moet reis. Geen tafeltjies, geen kassies, geen stoele of gemaklike sitkamerbanke nie. Ek sal my boeke, en ’n paar klein ornamente en lappe in bokse moet gooi en dit huis toe pos. Dan sal ek twee tasse moet pak, en dit saam met my rekenaar, my kamera, en die liggaam wat my gees huisves, op daai Cathay Pacific vliegtuig laai op Donderdag 4 Maart.

Hoekom sal ek na al hierdie jare, na soveel “beter” planne, soveel finansiële bewerkings, soveel fyn uitgewerkte scenario’s en agterdeuropsies, op so ’n amper impulsiewe en onverantwoordelike wyse my ballingskap ophef? Omdat die organisme spanning ervaar. En as die organisme spanning ervaar, en hy sien daar gaan nie onmiddellike uitkoms wees nie, dan glimlag hy vir onverantwoordelike planne. Dan’s die stem van rede skielik elders anders besig, want ook hierdie stem weet wat sy werklike doel in die lewe is: om die organisme se oorlewing te verseker vir so lank as moontlik.

As die spanning te veel raak, moet ’n plan gemaak word om die balans te herstel. En as “beter” planne, en meer “verantwoordelike” strategieë nie strook met die oerbehoeftes van die organisme nie, dan’s dit tyd vir rewolusie.

______________________