BALLINGSK… (oeps, ekskuus) POST-BALLINGSKAP, DEEL 001
Hoekom kan ek nie aan die einde van hierdie maand – Februarie 2004 – huis toe gaan nie? Voorheen sou ek geantwoord het omdat ek “issues” het. Wel, al my issues is uitgesorteer. Ek het selfs twee bundels teks daaroor geskryf [op hierdie stadium het BOEK DRIE nog nie amptelik bestaan nie], wat die addisionele voordeel het dat dit ‘n eksterne realiteit verskaf waarbinne ek my identiteit kan anker. Ek het nie ‘n “goeie” adres nodig nie. Ek het nie nodig om ‘n kar te besit nie.
Ek is skrywer. Dis wat ek doen met my lewe, en dis wat ek wíl doen. As ek wél op een of ander stadium ‘n kar kry… dan moet ek seker maar deal daarmee. As ek wél ‘n “goeie” adres het? Mmm… mens kan nie alles kry soos jy dit wil hê nie!
OK, as ek ‘n goeie blyplek met ‘n mooi adres het sal dit seker goed wees, maar ek kan dit kategories stel dat ek dit nie nodig het om literêre materiaal te produseer nie. Die issue van kar-en-huis was tot onlangs van uiterste belang omdat een van die hoofredes vir repatriasie die afgelope paar jaar was om te kan trou-en-kinders. Ook hierdie aangeleentheid is aangespreek. As ek myself nie kan help nie, en ‘n vrou vind my aantreklik ten spyte van haar beste pogings om dit te vermy… dan is dit maar hoe dit is. Maar ek gaan nie meer kar-en-huis om dit as sulks in die Hoekie vir Eensames te adverteer saam met ‘n foto van my van tien jaar gelede nie.
Wat is dit dan wat my moontlik nog hier gaan hou in Maart, en April, en Desember 2007? Is dit vir die vrou by die seekat-plek wat haar wimpers vir my gooi? Is dit omdat ek my Chinees nog bietjie wil verbeter? Miskien wil ek nog Japan toe reis, en China, en… wat was die ander plekke nou weer? Miskien wil ek eers my EFL-uitgewersbesigheid op die been kry? Beter redes? Slegter redes? Hierdie is, dank Vader, nie ‘n “Ballingskap”-opstel nie…
Die enigste redes hoekom ek nie besig is om my boeke in ‘n boks te skop terwyl ek besig is om te tik nie, kan in twee woorde opgesom word: “meubels” en “geld”. En in ag genome dat as ek nie meubels gehad het nie, geld nie soveel van ‘n probleem sou gewees het nie, kom dit neer op een ding: MEUBELS!
“Los die blêrrie meubels net hier,” sou miskien jou advies wees.
“Ek het omtrent vyftig bokse ook,” sou ek pateties probeer terugpraat.
Maar kom ons praat reguit: dis Februarie. Dis die maand van mediese ondersoeke om te bewys ek is gesond genoeg om tussen oues en malles en besete taxi-bestuurders en kriminele te woon. (En daar’s darem “normale” mense ook in my buurt, en onskuldige kinders wat die bietjie baard wat ek oor die Chinese Nuwe Jaar gekweek het uit my gesig wil trek.) Dis ook die maand wat ek my visum moet hernu, vir ‘n tydperk wat oor die afgelope vyf jaar nog altyd neergekom het op nóg twaalf maande.
Ek is pynlik bewus daarvan dat ek genoeg geld in my bankrekening het om te betaal vir die vliegtuigkaartjie wat ek in Desember ewe verwaand bespreek het. Die enkel-kaartjie sal my NT$15,500 kos. Dit sal my los met genoeg geld om myself vir so ‘n maand of twee aan die gang te hou tot ek op ‘n wonderbaarlike wyse kan begin geld verdien in Suid-Afrika (terwyl ek voortgaan om ten minste twaalf ure per dag te skryf aan materiaal van die linkse oortuiging).
Ek is bewus van hierdie stand van finansiële sake. Ek is ook bewus van die feit dat ek meeste van my issues versmoor, doodgebliksem, of doodverveel het.
Ek weet dus hoeveel geld ek het, en ek weet hoeveel dinge dit nie moontlik sal maak nie. In teorie kan ek nog ‘n paar maande hier bly… ag fok, in teorie kan ek nog ‘n paar maande hier bly en seker nog ‘n paar duisend by die paar duisend in die bank voeg. Ek weet al te goed ek kan moontlik my twee reekse kinderboeke – het jy gedink ek skaaf net heeldag aan my persoonlike agenda? – aan een of ander plaaslike uitgewer verkoop.
Dit vat egter niks weg daarvan dat niks my hier hou anders as ‘n bietjie meer geld, en ‘n paar tafels en stoele nie. Kan ek wegstap van die meubelstukke wat ander mense oor die jare op straathoeke gelos het, en ek met groot entoesiasme laat in die nag na my eie woonstel gesleep het? Daar’s die kassie met die laaitjies en die gaasdeurtjies waarop ek staan en notas maak; die klein, lae bedtafeltjie; die houtkassie in die kombuis; die groot houttafel waarop my rekenaar staan; ander klein tafeltjies. Dan’s daar die musiekinstrumente wat ek in oomblikke van waansin in 2000 aangeskaf het, rusbanke en opgestopte stoele, my oefenfiets…
Mens moet opoffer as jy wil voortstu. Of jy moet hoop jy kry genoeg kapitaal versamel van ‘n tot nou toe onbekende bron wat jou in staat sal stel om duisende rande te kan spandeer om jou rekenaar in jou eie land op dieselfde houttafel te kan neersit.
Ek praat so graag van rewolusie. Kan ek werklik doen wat ek moet doen as ek bewus raak van die prys? Of hou ek vas aan grashalmpies terwyl ‘n groot hand na my uitgestrek word? Is ek veel meer onnosel as wat ek dink?
Ken ek soveel “antwoorde” en donder ek steeds in die verkeerde rigtings in?
[Dinsdag, 3 Februarie 2004]
Vir ‘n geruime tyd al ignoreer, of systap ek die idee van balans. Balans, so’t ek onlangs weer uitgevind, gaan hoofsaaklik oor spanningsloosheid, of om ten minste so na as moontlik aan hierdie ideale situasie te kom. Die idee is sentraal aan verskeie godsdienste. ‘n Uiteinde waar die mens na die spanningslose toestand voor fisiese geboorte sal terugkeer vind manifestasie in byvoorbeeld die nirvana van Boeddhisme, en die paradys van die Christelike geloof en Islam. Die begeerte om terug te keer na ‘n toestand van spanningsloosheid is soos die oervrees om te verdwyn in die niet in, een van die mees fundamentele aspekte van die menslike werklikheidservaring. Niemand kan dit vryspring nie. (Daar bestaan ‘n vreemde verband tussen die strewe na spanningsloosheid en die vrees om te verdwyn. Miljoene godsdienstige mense begeer om na hulle afsterwe die “paradys” te betree, maar terselftertyd vrees hulle fisieke dood – ‘n essensiële voorvereiste om die paradys te kan betree. Die Boeddhistiese nirvana, aan die ander kant, is om letterlik in die niet te verdwyn, maar vele lewens moet gewoonlik gelei word voor jy by hierdie punt kom. Glo ons almal – diep in ons binneste – dat ons uiteindelik almal in die niet gaan verdwyn, en laat dit ons net beter voel daaroor om een of ander pleknaam daaraan te gee, of om te glo die proses is kompleks en uitgerek?)
Teleurstellend soos dit mag wees, is hierdie teologiese inleiding net ‘n manier om terug te keer na my nuutste plan: om moontlik aan die einde van hierdie maand, sonder genoeg geld, en sonder behoorlike beplanning terug te keer na my Ware Tuiste (waar baie spanning heel moontlik aan die orde van die dag sal wees, en ek heel moontlik sal verdwyn in die niet van ‘n ongekarteerde niemandsland). Ek het natuurlik in Desember skimpe laat val van vliegtuigkaartjies wat bespreek is, en om einde Februarie 2004 terug te gaan Suid-Afrika toe was immers die plan vanaf verlede Juliemaand. Nietemin, ek het dit as vanselfsprekend begin aanvaar dat ek “nog ‘n paar maande” sal bly.
My probleem, soos ek dit reeds in die eerste gedeelte uiteengesit het, is dat ek gister besef het ek het ‘n uitstekende, dog klein opening om nou ‘n waarlik heroïse ontsnapping te waag. Ek het nie werklik genoeg geld nie, maar tog het ek genoeg om daai enkelkaartjie te koop. Verder sien ek sien geen skeepshouers in my koffiebone nie, wat beteken ek sal uiteindelik moet doen waarvan sekere esoteriese karakters praat met groot oortuiging: Ek sal lig verder moet reis. Geen tafeltjies, geen kassies, geen stoele of gemaklike sitkamerbanke nie. Ek sal my boeke, en ‘n paar klein ornamente en lappe in bokse moet gooi en dit huis toe pos. Dan sal ek twee tasse moet pak, en dit saam met my rekenaar, my kamera en die liggaam wat my gees huisves, op daai Cathay Pacific vliegtuig moet laai op Donderdag, 4 Maart.
Hoekom sal ek na al hierdie jare, na soveel “beter” planne, soveel finansiële bewerkings, soveel fyn uitgewerkte scenarios en agterdeuropsies, op so ‘n amper impulsiewe en onverantwoordelike wyse my ballingskap ophef? Omdat die organisme spanning ervaar. En as die organisme spanning ervaar, en hy sien daar gaan nie onmiddellike uitkoms wees daarvoor nie, dan glimlag hy vir onverantwoordelike planne. Dan’s die stem van rede skielik elders anders besig, want ook hierdie stem weet wat sy werklike doel in die lewe is: om die organisme se oorlewing te verseker vir so lank as moontlik.
As die spanning te veel raak, moet ‘n plan gemaak word om die balans te herstel. En as “beter” planne, en meer “verantwoordelike” strategieë nie strook met die oerbehoeftes van die organisme nie, dan’s dit tyd vir rewolusie.
___________
