Poging en beloning – persoonlike realiteit

MAANDAG 18 APRIL 2005

’n Amerikaanse ontwikkelingswerker (vrou met die naam van “Marla”) is die naweek oorlede in Irak (bom langs die pad). Sy was heel waarskynlik in vele opsigte ’n doodgewone vrou – net so gewoon soos meeste van ons. Wat wel buitengewoon was aan haar, was haar waarde vir ’n sekere gemeenskap van mense wat vasgevang is in ’n primitiewe stryd om oorlewing. Wat buitengewoon was aan haar, was haar bereidheid om haar lewe te verloor vir hierdie stryd.

DINSDAG 19 APRIL 2005

Ek is op die oomblik, glo dit of nie, besig om ’n sensitiwiteit te ontwikkel oor die korrelasie tussen pogings en beloning wat betref die arbeid wat ek verrig by die huis. Ek meen, ek werk nou al vir hoe lank aan sekere projekte? Wat al hoeveel geld ingebring het? En presies hoeveel mense het al gelees wat ek skryf? En dit help nie dat my fiets enige oomblik in sy tien onderdele gaan dekonstrueer op pad na die treinstasie toe nie, of dat my TV se klank steeds neuk, of dat my rekenaar al hoe stadiger raak, of dat ek nog steeds nie by die tandarts was nie … maar jy bly staande solank jy nie val nie, en die stryd is daagliks. En om te kla oor sulke nonsens is immers middelklas.

DONDERDAG 21 APRIL 2005

Walter Reuther (1907-1970), Amerikaanse vakbondleier: “There is no greater calling than to serve your fellow man. There is no greater contribution than to help the weak. There is no greater satisfaction than to have done it well.”

VRYDAG 22 APRIL 2005

12:01

Die vraag is nie of elkeen van ons ’n dwaas is nie, die vraag is wat ons doen met ons lewens ten spyte van die feit.

Die vraag is ook nie of elkeen van ons gaan sterf nie …

14:16

Vir eeue al kontempleer filosowe die vraag na wat realiteit is – wat werklik is, en wat nie.

Tot ’n groot mate aanvaar ek die materiële wêreld soos dit aan my verskyn. As ek iets sien wat ek uit ervaring herken as ’n “tafel”, dan aanvaar ek die objek voor oë as inderdaad ’n tafel. Ek aanvaar ook die geldigheid van die klanke wat verwys na die genoemde objek.

My eie belangstelling lê meer by die individuele “self”. Ek aanvaar dat stellings soos, “Ek weet wie ek is” en “Ek glo in myself”, en terme soos “selfvertroue” slegs relatiewe waarde het – dit is, relatief tot die omgewing waarin die persoon homself bevind. Maak ’n radikale skuif, of ’n radikale verandering aan die omgewing, en skielik “weet” die persoon dalk nie meer so mooi wie hy is nie; hy is moontlik ook nie meer so seker van homself nie, en sy sogenaamde “selfvertroue” kwyn heel moontlik saam met sy selfkennis en gepaardgaande selfgeloof.

Dit, wat waar is vir die persoon rakende sy eie self op ’n gegewe oomblik, dít is wat my aandag hou, nie soseer of ’n tafel of ’n telefoon of ’n sny roosterbrood werklik werklik is nie.

Ek weet slimmer mense kan argumenteer dat daar ’n verband is – en ek glo daar is, filosofies gesproke. Vanweë beperkte tyd kies ek egter om te fokus op wat werklik is vir die individuele persoon, óór hom- of haarself.

[Die waarskynlikheid is sterk dat ek filosowe se werk oor die eeue verkeerd verstaan.]

18:15

Tyd gespandeer in enige plek was die spreekwoordelike moeite werd as jy die tyd aangewend het om positiewe resultate te bewerkstellig. Die idee dat jy moontlik ook op ’n ander plek soortgelyke resultate kon bewerkstellig, is van verbygaande belang en dalk nie eens nodig om genoteer te word nie. Wat belangrik is, is die proses, die doel, die eindresultaat. Die plek is óf bevorderlik, óf nie bevorderlik nie, en moet volgens hierdie maatstaf beoordeel word.

______________________