PLEK EN MOBIELE LIDMAATSKAP

Deur 30 - 09 - 2003

Ek dink toe, ek het 56 maande lank in #15 gebly, natuurlik gaan ek ‘n bietjie verlore voel noudat ek nie meer daar hoort nie. En ek voel nog nie werklik of ek hoort, hier in… Benewelde Lig nie. Toe dink ek, dan moet ‘n mens seker maar een of ander tyd jou eie huis of woonstel koop, waar jy dan wéét jy behoort.

Maar ek dink toe verder, mens kan nie soveel premie plaas op fisiese adres as jou “plek in die wêreld” nie. Hoekom nie? Dit kan nie as ‘n beginsel universeel en oor tydsgrense toegepas word nie. Ons primitiewe voorouers het nie die konsep geken van private eiendom nie. Hulle het voortdurend getrek van plek tot plek. Elke keer as dit tyd was om te loop, het hulle die vuur laat doodgaan in hulle grot, hulle prentjies teen die wande miskien een laaste kyk gegee, gesorg dat al die oues en al die kinders op-tou is, en weggestap. En elke individuele lid moes tog ‘n bewussyn gehad het van hoe en waar hulle behoort, dan nie? Wat sou aan hulle ‘n bewussyn gegee het wat naastenby gelyk is aan die gevoel wat die moderne mens het as hy weet hy is waar hy “behoort”?

Die antwoord lê in verhoudings, in gemeenskap met ander.

Elke keer wat ons voorouers hulle karosse styfgetrek en hulle spiese vasgevat het, het hulle in groepe getrek. Daar was mans en vrouens, kinders, broers en susters, en miskien nog ‘n paar neefs en niggies. Die verhoudings wat elke individu met die ander gehad het – wat deur daaglikse kontak bevestig is – het aan hulle ‘n sin gegee van waar en hoe hulle behoort aan iets wat groter is as net hulleself. Wat hulle gehad het, was ‘n mobiele fondasie van plek en lidmaatskap.

As ek gedurende die huidige periode van my lewe in ‘n intieme verhouding betrokke moes wees, sou die verandering van adres aansienlik minder steurend gewees het vir my “sense of belonging”. Hoekom? Omdat die verhouding waarvan ek deel sou wees vir my ‘n sterker fondasie sou gee as fisiese adres.

Nietemin, omgewing moet tog ‘n bydraende rol speel, of hoe? Selfs al is ek in ‘n intieme verhouding betrokke met die liefde van my lewe, sal dit tog nie dieselfde wees om in Moskou te woon as in, sê, Stellenbosch nie. Waar sy vandaan kom en waar ék vandaan kom sal natuurlik ook ‘n rol speel. As sy ‘n gebore en getoë Moskouwiet is, sal sy tog sekerlik meer tuis voel in Moskou as ek, en ek sal weer meer tuis voel in… wel, enige van die plekke in Suid-Afrika waar ek al prente teen mure vasgeplak het.

Spesifieke omgewing en fisiese adres speel wel ‘n rol in die mate waartoe jy voel dat jy behoort. Maar ek glo dat verhoudings – noue, betekenisvolle verhoudings – ‘n belangriker rol speel, en ‘n dieper fondasie verskaf.

***

Verhoudings is instellings waaraan jy behoort. Voorbeelde wat hierdie punt sal illustreer sluit in Romeo-en-Juliet, Sokkerspeler-en-Spice Girl, die Pous-en-die-Katolieke Kerk, Brand-en-sy-Woonstel…

Romeo-en-Juliet is groter as net Romeo, of net Juliet. Verhoudings is instellings wat aan jou ‘n meer konkrete sin gee van plek en identiteit as wanneer jy alleen is. Dis een van die redes hoekom mense so verlore en weerloos voel as ‘n verhouding tot ‘n einde kom; as die instelling wat jou deel gemaak het van iets groters as net jy, verbrokkel.

Familie- of gesinsverhoudings is natuurlik ook instellings. (Ek het foto’s van my familie teen my mure. Hoekom? Want dit is sigbare simbole van my lidmaatskap aan iets wat groter is as net die enkele ek.) Vriendskappe tel ook onder hierdie klassifikasie. Dit is egter intieme verhoudings wat aan die volwasse persoon ‘n meer tasbare en konkrete bevestiging verskaf van lidmaatskap.

Dieselfde waarde wat die foto’s teen my mure het, word ook gevind in ringe wat uitgeruil word by die huwelikseremonie, foto’s wat rondgedra word in beursies, en verskeie ander artikels wat dalk niks vir iemand anders sal beteken nie, maar vir die twee mense wat deel is van ‘n intieme vennootskap, simbole is van hulle wedersydse erkenning van lidmaatskap.

Opsommenderwys: 1) Verhoudings – en veral vir die volwasse persoon, intieme verhoudings – is instellings waaraan die individu behoort. 2) Hierdie instellings is nie beperk tot ‘n fisiese plek nie, en gaan saam waar die persoon hom- of haarself ook al bevind (indien dan nie altyd in fisiese terme nie, wel in emosionele terme). 3) Hierdie instellings is groter as net die enkele individu, en dra ten sterkste by tot die sin wat ‘n persoon het van sy of haar plek in die wêreld.

Ten laaste kan ek net spekuleer watse verskil dit sou gemaak het aan my lewe hier in Taiwan as die “huis” hier was. Gestel my ouers, my twee susters, my swaers, ooms en tannies, en neefs en niggies was ook op hierdie stukkie aarde woonagtig, sou ek steeds gevoel het asof ek in ballingskap is? Sou ek steeds so vasberade geklou het aan die konsep van SUID-AFRIKA-AS-HUIS?

Sekerlik sal daar mense wees wat ‘n alternatiewe posisie sal inneem op hierdie punt, wat sal praat van kultuur en landskap en klimaat en sulke dinge. Ek mis ook die berge, die see, die vlaktes, supermarkte waar mense Zulu en Sotho en Afrikaans praat, en waar jy biltong en melktert kan koop met dieselfde gemak as wat ‘n mens ingelegte suurkool of ryswyn in hierdie deel van die wêreld kan koop. Maar al hierdie dinge is lawwe sout as jy nie die hoofbestandeel het van betekenisvolle persoonlike verhoudings in jou lewe nie.

(Dinsdag, 30 September 2003)

___________

Hierdie inskrywing dateer: 30 - 09 - 2003 om 22:30 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.