Persoonlike Agenda, Boek Drie: Inleiding

’n Paar bladsye gelede het ek plegtig TOTSIENS gesê. Nou sit ek hier, agter my rekenaar, en ek vryf die sweet van my voorkop in saluut aan die leser wat dit tot hier gemaak het.

Die eerste gedeelte van hierdie laaste INLEIDING begin met ’n stuk wat ek geskryf het soos mense besig was om kroeë op te vul vir Nuwejaarspartytjies (2003/2004). In die tweede gedeelte verwys ek na ’n paar drome wat oor die jare in my geheue vasgehaak het. Die laaste deel word opgeneem deur administrasie vir die derde deel van hierdie literêre projek.

I. Wat ek hierdie jaar beplan het/Wat ek hierdie jaar beplan

Dit is Woensdag 31 Desember 2003, om 25 minute oor 11 in die nag. Daar’s nog 35 minute oor van hierdie jaar. Omdat dit my gewoonte geraak het om iets te skryf op hierdie uur, omdat dit gewoonlik ’n goeie idee is, en omdat ek nie lus is om ’n fortuin te betaal om saam met ’n klomp vreemdelinge gesuip te raak by een of ander kroeg nie, sit ek waar ek meeste van my tyd spandeer het hierdie jaar: agter my rekenaar, besig om te skryf.

Soos die titel [van hierdie onderdeel van die “Inleiding”] aandui, het ek besluit om nie te skryf oor treine, vrouens, Engelse klasse, of die feit dat jy goedkoop drank by die 7-Eleven kan koop op Oujaarsaand nie. Hierdie stuk sal handel oor planne.

Daar was planne aan die einde van verlede jaar, en daar was planne aan die begin van hierdie jaar. Daar was planne in Meimaand, en daar was planne in Julie. Daar was ook planne in Augustus, September, Oktober, November, en Desember. En dan, soos dit ’n Oujaarsaand betaam, is daar planne vanaand.

My plan aan die begin van hierdie jaar was om einde Februarie [2003] my ballingskap op te hef en terug te keer na Suid-Afrika. Dit was wat ek nou noem ’n “liberale plan”. Ek het nie genoeg geld gehad nie, en ek het nie werklik geweet wat ek sou doen in Suid-Afrika nie. Ek het wel gehou van die “rewolusionêre” aard daarvan. Omdat die plan ietwat mallerig was, het dit egter ’n reaksie ontketen wat ek nou die “konserwatiewe respons” noem. Ek het (weereens) gereken, “Eintlik is hierdie plek nie so sleg nie,” en dat om in Taiwan aan te bly tot die einde van 2003 heel moontlik ’n positiewe uitwerking sou hê op my finansiële welstand en professionele ontwikkeling.

Teen Meimaand het ek vorendag gekom met die idee dat ek nooit hier in Taiwan, of met English teaching genoeg geld gaan maak nie. “Ek het nodig om besigheid te doen!” het ek uitgeroep. En siekerig eenkant toe gehoes van vyf jaar se bestaan in ’n vensterlose woonstel.

Teen Junie was ek gatvol. Ek het myself voortgestu op die inkwalms van my notaboek waarin ek verwoed notas en gedigte opgeoffer het as kompensasies vir alles wat nie goed was in my lewe nie.

Teen Julie het ek vas besluit ek gaan Februarie 2004 my ballingskap ophef, en in Bronkhorstspruit of Middelburg ’n karavaan in my familie se agterplaas trek. Inligting is versamel, beloftes is gemaak, en takkies is plegtig van ’n droë boom in die tuin afgebreek – en in ’n vaas geplant terug in Taiwan om my te herinner aan my belofte, net vir in geval ek vergeet.

Die boom op ’n plaas buite Middelburg

Augustusmaand het die briljante plan opgelewer om my werk te los by die kleuterskool, en eerder al die geld wat ek nodig het, bymekaar te maak met “Besigheid!” Einde September het my in ’n nuwe woonstel gesien, uiteindelik, na amper vyf jaar in Nommer Vyftien.

Al die vrye tyd wat ek skielik elke dag voor my gesien uitstrek het, het uiteindelik een ding duidelik gemaak: Ek is, in die eerste en laaste plek, ’n skrywer. Die projek getiteld “Persoonlike Agenda” was my primêre projek vanaf Februarie. Dit het my primêre projek gebly die hele jaar deur. Dit was ook waarmee ek myself besig gehou het op oggende, middae, en aande wat ek eintlik “Besigheid!” moes doen.

Wel het ek uiteindelik aan ’n paar idees begin werk wat as besigheidsprojekte bestempel kan word, voortgegaan om aan ’n paar ander te werk wat ek vroeër op ys geplaas het, en een projek afgehandel. My Chinees het ook gebaat by meer tyd wat ek daaraan kon spandeer. Ek was oor die algemeen gelukkiger die afgelope paar maande, soos ek was in die eerste helfte van 2001 – toe ek ook meeste van my tyd in my woonstel gespandeer het, hard aan die werk aan my eie projekte.

Dit is Woensdagaand 31 Desember 2003. Dis twee minute voor middernag. Twee minute voor ’n nuwe jaar. Twee minute oor van ’n goeie jaar …

* * *

Dis Donderdag 1 Januarie 2004. Dis een minuut oor middernag. Dis die begin van ’n nuwe jaar. Vuurwerke raas soos masjiengewere in die verte. Die water drup uit my toilet. Die rekenaar se waaier raas, en my vingers dans epilepties oor die sleutels. Welkom by ’n nuwe tydeenheid in ons lewe.

Woensdag 7 Januarie 2004

Hier is my planne en voornemens vir die volgende drie jaar:

[…]

Dit gesê, ek sal baie graag my ballingskap wil ophef soos ek altyd gehoop het dit sal gebeur – deur my besittings en my persoon terug te vervoer na die plek vanwaar ek vertrek het op 16 Januarie 1999. Hoe dinge daarna sal uitwerk, is hoe dit sal uitwerk. Ons maak planne, en dan is daar realiteit. Ons moet egter aanhou planne maak, anders wag ons dalk heeldag en -nag vir ’n bus wat moontlik eers oor vyftig jaar gaan kom. Ons bepaal nie alles wat met ons gebeur nie, maar totdat dinge wel gebeur, moet ons onsself produktief besig hou. Sodoende kan ons natuurlik ook beïnvloed wát met ons sal gebeur, en moontlik selfs wanneer.

II. Drie drome

Ek was nog baie jonk, miskien vyf of ses. Ek het gedroom ek en my ouers en my suster (my jongste suster was nog nie gebore nie) ry in ons stasiewa in een of ander stad. Dit was aand. Ons het bewus geraak daarvan dat iemand ons agtervolg. Later was ons in ’n woonstel. Almal behalwe ek het al geslaap. Die mense wat ons agtervolg het, probeer toe by die woonstel inbreek. Ek was die enigste een wat hulle kon uithou, maar al wat ek gehad het om myself en almal in die woonstel te beskerm, was ’n boksie vuurhoutjies.

As tiener het ek gereeld ’n spesifieke tipe droom gehad. Ek sou in gevaar wees. Ek het geweet iemand sou my kon help … as ek net ’n goeie skree kon gee. Die probleem was, ek kon nooit enige klank produseer nie.

Die derde droom word nog steeds van tyd tot tyd deur my onderbewuste opgetower met verskillende agtergrondstories. Ek sal tussen ’n groep mense wees – sê maar by ’n bruilof in ’n groot tuin, en dan begin ek my eie rigting instap. Na ’n rukkie raak my treë al hoe langer. Die treë raak mettertyd so lank dat ek vir enkele oomblikke in die lug sweef. Ek sal dan so in my skik raak met hierdie vermoë dat ek doelbewus my treë al hoe meer uitrek. Dit vat gewoonlik nie lank voordat ek glad nie meer grond vat nie.

III. Administrasie

Die inleiding van die laaste deel van hierdie literêre projek is korter en meer beskeie as die inleidings tot BOEKE EEN en TWEE. Ook die inhoud is anders georganiseer.

Februarie het ’n plan opgelewer. Hoofstuk Een volg die koers van hierdie plan oor die verloop van net meer as ’n week. Hoofstuk Twee bevat ’n paar notas uit Januarie en Februarie. Februarie was nie net die slagveld van ’n plan nie, dit het ook ’n nuwe, tydelike bestel aan bewind gebring. Hoofstuk Drie bevat die amptelike geskiedenis van hierdie Kommersiële Diktatorskap. Ek het ook tot ’n sekere begrip gekom tydens die eerste week van die nuwe bewind. Die ontwikkeling daarvan kan aanskou word in Hoofstuk Vier.

Hierdie is dan: Die DERDE EN FINALE BOEK van DIE PERSOONLIKE AGENDA VAN BRAND SMIT.

Vrydag 2 Julie 2004

______________________