Tyd stap aan, en voorbladnuus vervaag

SONDAG 9 APRIL 2017

Vyftig jaar van nou af sal slegs sommige Geskiedenisonderwysers, historici en mense wat werklik belangstel daarin vir langer as 60 sekondes kan praat oor die Tweede Wêreldoorlog. Vir meeste ander mense sal dit eenvoudig te lank gelede gewees het, en daar sou te veel dinge gebeur het in hierdie eeu wat hulle koppe vol sal maak.

Ek meen, hoeveel mense vandag kan vir langer as 30 sekondes intelligent gesels oor die Eerste Wêreldoorlog? Hoeveel mense tydens die Eerste Wêreldoorlog kon intelligent en vir soveel as een minuut gesels oor die Napoleontiese oorloë? En onthou: die gebeure van die eerste twee dekades van die 1800’s was voorbladnuus in ten minste groot stede in die tyd toe dit plaasgevind het, en warm onderwerpe van gesprek rondom etenstafels en in die strate!

Dieselfde vraag kan gevra word oor die Franse Rewolusie aan die einde van die agtiende eeu, of die Protestantse Rewolusie en die godsdiensoorloë van die sestiende eeu. Hoeveel mense kon 100 jaar na hierdie gebeure nog intelligent hierdie gebeure bespreek?

Feit is, tyd stap aan. Ou geskiedenis moet plek maak vir nuwe geskiedenis. Veterane van die grootste oorlog vir ’n geslag of meer sterf een vir een tot daar niemand oor is wat nog daai oorlog eerstehands ervaar het nie. En mense se belangstellings verander.

Geskiedenis waaroor jy slegs vandag onkundig sal wees omdat jy onopgevoed is of in ’n grot woon, sal in vele gevalle oor ’n paar dekades so obskuur wees dat mense jou snaaks sal aankyk as jy wél vir langer as een minuut ’n gesprek kan voer daaroor – of, afhangende van die onderwerp en die dekade, ’n monoloog.

______________________

Huiskatte is nie noodwendig waansinnig nie

VRYDAG 7 APRIL 2017

Enige skerp waarnemer van ’n huiskat se daaglikse bestaan sal die indruk kry dat die dier in ’n waan leef. Hy dink duidelik hy’s die baas van die huis, en dat alle beddens, die rusbank, die tapyt in die sitkamer en die kombuistoonbank alles sy persoonlike eiendom is. Hy reken verder dit is heeltemal aanvaarbaar vir hom om drie-uur in die oggend ’n bloeddorstige gegil die lugweë in te stuur omdat hy verveeld is en nie ’n enkele een van sy persoonlike slawe die ordentlikheid het om sy toutjie oor die vloer te kom trek nie.

Mense, aan die ander kant, het hierdie aardige siening dat dit goed is om ’n eerlike beskouing van die werklikheid te hê. Ons glo ons moet ons tekortkominge erken. Ons glo ons moet erken as ons nie dink iets is redelik of moontlik nie. Omdat dit ons beskouing is, tree ons dan ook daarvolgens op. Ons waag nie sekere dinge nie. Ons ken ons plek. Ons hou nie daarvan om uit ons beurt te praat nie.

As huiskatte meer soos baie mense was, was hulle beslis in die moeilikheid. Hulle sou moes erken hulle is uiters weerlose diere wat tussen een-kwart en een-vyf-en-twintigste die grootte is van meeste diere om hulle – naamlik mense, en ander diere soos honde. Hierdie eerliker beskouing van hul werklikheid sou lei daartoe dat katte aansienlik kleiner ego’s sou hê, stil sou sit in ’n hoekie sodat iemand nie dalk met hulle raas nie, en geduldig sou wag totdat iemand so genadig is om vir hulle ’n bietjie kos uit te sit.

Katte sien beslis nie realiteit soos wat dit werklik is nie – hulle sien dit soos dit hulle pas, en tree daarvolgens op.

As enige mens dit durf waag om hulle bewus te maak van hulle waan, sal die kat eers verveeld gaap, en as hy dink jy kry steeds nie die punt nie, sal hy verplig voel om jou nuwe lakens aan’t flarde te gaan krap. Jy kan jouself net verbeel hoe die gedagte vorm aanneem in die kat se kop: “Eerlike beskouing van realiteit? Is jy van jou trollie af? Wat dink jy is ek – ’n mens?”

Die wetenskaplike, Donald Hoffman, sê ewolusie begunstig nie mense met ’n goeie begrip van objektiewe werklikheid nie, maar eerder diegene wat die werklikheid waarneem op ’n manier wat hulle in staat stel om op effektiewe wyse te oorleef.

Duidelik werk dit baie goed vir ten minste óns huiskatte.

Een van ons huisdiere op sy persoonlike rusbank

______________________

Lang tradisie van rondtrek en wegtrek

DINSDAG 21 MAART 2017

Ek is deel van ’n lang tradisie van mense wat opgepak het alles wat hulle besit het en hul heil gaan soek het op ander plekke, en in die proses, in sommige gevalle, hulle name verander het en ’n ander taal leer praat het.

Daar was die migrasie van Europa af na Suidelike-Afrika in die 1600’s en 1700’s, ’n stadige verskuiwing weg van die Kaap af ooswaarts in die laat 1700’s en vroeë 1800’s, die Groot Trek na die binneland van Suid-Afrika in die 1830’s, nog ’n migrasie van Natal af terug binneland toe, so 150 jaar later ons gesin se gedurige oppak-en-trek, en later my eie persoonlike migrasie na Noordoos-Asië in die laat 1990’s.

Om ’n bietjie meer kleur te gee aan die gedagte, ’n paar illustrasies:

Europeërs arriveer aan die Kaap – middel tot laat 1600’s
Trekboere – vroeë negentiende eeu
Trek oor berge en deur riviere
Trek oor die vlaktes
Paar maande na ‘n trek – moderne ossewa in die agtergrond (1981)
Migrasie na Noordoos-Asië in die laat 1990’s – Kaohsiung uit die lug

______________________

Duur geld, kosbare tyd, en hoe jy dink aan dinge

DINSDAG 7 MAART 2017

Ek het ooreenkomste met mense om op sekere tye teenwoordig te wees op sekere plekke om mense te help met hulle Engels. Benewens dit hou ek myself besig met vier ander dinge: taalstudie, ander maniere om geld te maak, lees, en skryfprojekte.

Ek kan maklik vier tot agt ure per dag spandeer aan elkeen van hierdie aktiwiteite. Omdat daar net 24 ure is ook in mý dae, is ek genoodsaak om minder tyd te spandeer aan hierdie dinge as wat ek graag wil, of wat ek nodig het om sekere doelwitte te bereik.

VRYDAG 17 MAART 2017

I. Die vrou by my een skool het drooggemaak, toe word my werkpermit nie betyds uitgereik nie. Nou is ek volgende week op verpligte onbetaalde verlof. Natuurlik is dit verskriklik, maar ek dink toe ook aan wat ek kan doen in die ekstra tyd wat dit my sal gee.

Dink ek: Daai geld wat ek sou verdien het volgende week is nie gratis geld nie – ek sou betaal het daarvoor met my tyd.

Uit die aard van die saak het ek nodig om ’n sekere hoeveelheid geld te koop elke maand. Vir hierdie doel het ek vaste reëlings om ’n sekere hoeveelheid van my tyd te spandeer om ’n vasgestelde hoeveelheid geld te koop.

Ek dink toe verder dat ek nie die geld wat ek volgende week sou gekoop het nodig het vir iets spesifiek nie. Ek kan wel dink aan ’n paar dinge wat ek kan doen met die tyd wat ek nou nie hoef te spandeer nie. Resultaat: Geen probleem nie.

II. Punt I is ’n voorbeeld van hoe jy jou eie persepsie skep, wat dan jou realiteit affekteer. In stede daarvan dat ek ontsteld is oor die geld wat ek nie gaan kry nie, dink ek nou aan die feit dat daai geld nie gratis geld sou gewees het nie, en dat ek nou nie nodig het om enige tyd te spandeer om daai geld te koop nie. En siende dat ek tyd meer nodig het as geld, is ek gelukkig.

______________________

Dalk eenvoudig nie goed genoeg nie

WOENSDAG 1 MAART 2017

(1)

’n Professionele tennisspeler tree af op 33-jarige ouderdom. Hy het oukei gedoen vir homself. Hy kon die huispaaiement bekostig op ’n drie slaapkamer huis in ’n goeie middelklas woonbuurt, en hy kon sorg vir sy gesin.

Die hoogtepunt van sy tennisloopbaan het gekom toe hy 27 jaar oud was. Hy het in die vierde rondte van ’n Grand Slam-toernooi gespeel, en die week daarna het hy sy persoonlike hoogste plek op die ranglys bereik, naamlik 52.

Hy het ’n goeie afrigter gehad op skool, en sy ouers het baie geld spandeer om sy talent te ontwikkel. Hy kon redelik goed tennis speel, dit was verseker. Maar selfs op sy heel beste was hy eenvoudig nie goed genoeg om in die top 50 in te breek nie.

(2)

’n Jong seun neem al vir drie jaar kunsklasse. Die klasse is nie goedkoop nie, so een aand vra die pa of hy ’n bietjie kan kyk na die seun se sketse. Hy vat sy tyd, en kyk peinsend na elke stuk papier wat voor hom neergelê is.

Dan sit hy die sketse neer en sê hy gaan ’n bietjie deur die tuin stap. Wil sy vrou nie dalk saamstap nie, vra hy.

Naby die roosbome vra hy sy vrou geskok wat aangaan. Drie jaar se kunsklasse, en daai sketse is die beste wat die seun kan doen?

Sy vrou verdedig die kind. Dalk het hy net nie talent vir kuns nie, stel sy voor.

“Goed en wel,” antwoord haar eggenoot, “maar kon ons dit nie twee jaar gelede al besef het nie?”

______________________