Eindkontemplasie, deel een/Die uiteindelike hoop

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Ek voel asof ek besig is om die einde te bereik van wat ek in retrospek my “boek” kan noem. Ek het nie al die vrae gevra nie (wie kan?), en ek het nie al die antwoorde nie (wie het?). Wat ek wel weet, of in oortuiging glo, is waaroor die lewe buite my kamervenster gaan.

Waaroor gaan die lewe dus, volgens my?

Op die mees elementêre vlak is dit ’n stryd om oorlewing. Van die miserabele boemelaar wat in agterstraatjies deur rommelsakke grawe, tot by Bill en Melinda Gates, die Pous, die Dalai Lama, die President van die Verenigde State, terug tot by die baba wat ’n minuut gelede gebore is in die agterbuurte van Kolkata, almal is altyd, van die oomblik van geboorte tot en met die oomblik van fisiese dood, gewikkel in ’n stryd om oorlewing. Hierdie stryd word gevoer op verskillende vlakke, en ter wille van ’n beperkte aantal behoeftes wat bevredig moet word.

Een van hierdie behoeftes het toenemend my belangstelling geprikkel die afgelope paar jare. Hoe meer ek na my eie lewe kyk, en die wêreld buite my voordeur waarneem, hoe meer word die belangrikheid van die behoefte, die drang om êrens te behoort, bevestig – om te weet hoe jou lewe gekoppel is aan ander vorms van lewe (en selfs lewelose objekte), in terme van die verlede, die hede, en die toekoms. Dit sluit in om te verstaan hoe jy inpas tussen ander spesies op hierdie planeet, en hoe jy inpas tussen die skreeuende massas mense, en tussen teenstrydige godsdienstige tradisies en uiteenlopende geskiedenisse van die mensdom.

Alle soogdiere – om die groep diere te kies waaronder ook die mens sorteer – weet instinktief waar hulle behoort. Dit is, alle soogdiere wie se natuurlike lewens en habitat nie versteur of verander is tot so ’n mate dat hulle lei aan dieselfde droefenis as soveel mense in die moderne wêreld nie.

Om verward te wees oor jou plek in die wêreld – om nie te weet waar jy hoort nie, word meegebring deur verskeie faktore. Een van hierdie faktore is vervreemding van die omgewing waar jy op ’n sekere stadium van jou lewe geweet het op watter wyses en tot watter mate jy behoort. Hierdie vervreemding word op sy beurt onder andere teweeg gebring deur ontnugtering met dit wat voorheen jou identiteit gedefinieer het, en jou plek in die groter wêreld bepaal het. ’n Voorbeeld van laasgenoemde is die vervreemding wat plaasvind tussen ’n individu en die religieuse gemeenskap waarvan hy of sy voorheen ’n bevestigde lidmaat was – vervreemding veroorsaak deur persoonlike ervarings en/of intellektuele blootstelling wat soms die geloofwaardigheid van oorgelewerde waarheid wegvreet.

Wanneer dit gebeur, wanneer jy gekonfronteer word met die realiteit dat jy nie meer weet hóé en waar jy inpas in die Groter Landskap nie, sal jy dit moeilik vind om jouself te verbind en toe te wy aan enige iets anders as dit wat aan jou onmiddellike vertroosting bied in die aangesig van ’n wêreld wat jy toenemend antagonisties sal vind.

Identiteit – om jou eie naam te ken, jou nasionaliteit, persoonlikheid, voorkeure, talente, belangstellings, vrese, sterkpunte en swakhede, asook jou ambisies en drome – maak dit makliker om ten minste ’n goeie idee te hê waar jy staan met ander mense, en derhalwe om verhoudings te kan aanknoop. Dit is deur hierdie verhoudings wat jy uiteindelik lidmaatskap verkry aan groepe en gemeenskappe; ’n faktor wat ’n betekenisvolle rol sal speel in die vermindering van jou weerloosheid as ’n enkele individu. Lidmaatskap aan groepe en gemeenskappe sal jou in staat stel om minder te vrees, wat jou selfvertroue sal verbeter, wat die waarskynlikheid sal verhoog dat jou fisiese en emosionele behoeftes bevredig sal word. As hierdie gemeenskappe ’n religieuse gemeenskap insluit, mag jy dit selfs makliker vind om aan jouself, en aan ander te verduidelik hoe jy glo jy deel uitmaak van ’n werklikheid wat tyd en ruimte oortref.

Bogenoemde beskrywing is die ideaal van positiewe en opbouende verhoudings. Negatiewe en destruktiewe verhoudings bevredig óók die behoefte om êrens te behoort, maar op ’n wyse wat nie vrees en angs verminder nie. Sulke verhoudings inhibeer ook soms meer positiewe en opbouende sosiale interaksie. Nietemin, ook “slegte” verhoudings beklemtoon die belangrikheid van die behoefte om deel te wees van iets wat groter is as net die enkele individu.

Om aktief deel te wees van groepe en gemeenskappe het ’n mens nodig om sekere basiese dinge oor jouself te weet en, wanneer nodig, te bevestig (jou naam, jou persoonlikheid, belangstellings, talente, oortuigings, en ander dinge wat reeds genoem is). ’n Mens het ook ’n basiese kennis en begrip nodig van die wêreld waarin jy jouself bevind op ’n daaglikse basis.

Indien jou intellektuele ontwikkeling die grense oorskry van ’n oorgelewerde begrip van “hoe dinge werk” (in die gemeenskap waarbinne jy jouself bevind), of indien hierdie begrip geloofwaardigheid verloor as ’n resultaat van sekere persoonlike ervarings, of na blootstelling aan ’n alternatiewe filosofiese verwysingsraamwerk of omvattende beskouing van bestaan, sal jy noodwendig sekere vrae stel. Beginsels sal ook geïdentifiseer (of geherdefinieer) moet word om jou begrip van menslike bestaan te fasiliteer. Hierdie beginsels, en die begrip wat daarmee saam sal ontwikkel, sal uiters bevorderlik wees vir die proses van identiteitsvorming (of herdefiniëring van identiteit). Hierdie proses sal jou in staat stel om te weet, of opnuut te ontdek, hóé, waar en met wie jy verhoudings behoort te kultiveer.

Uiteindelik sal die hoop wees om ’n beter begrip te hê van hoe jy deel vorm van alles wat is, was, en moontlik nog kan wees, en om voort te kan gaan met jou bestaan, maar as iemand wat nie op ’n daaglikse basis vervreemd voel van alles en almal om jou nie.

______________________

Oor die tegniese aspekte van plek en lidmaatskap

[Aan die begin van September 2003 was ek ingelig deur die eienaar dat sy die woonstel wou verkoop wat ek teen daai tyd al amper vyf jaar lank by haar gehuur het, en dat die plek ontruim moet wees teen die einde van die maand. Hierdie essay is geskryf na ’n paar weke van bokse inpak en die nuwe plek voorberei vir bewoning.]

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Dit was ’n uitsonderlike ervaring aan die einde – hierdie besigheid van om na ’n ander plek te verhuis. Dit het ’n interessante, en verhelderende lig gewerp op dinge wat ek besig was om te bepeins voor ek die oproep om te skuif, gekry het. Ek verwys natuurlik – geen verrassings hier nie – na die onderwerpe van identiteit en plek. Die verskil is dat die ervarings van hierdie maand konkreet was, met die akademiese waarde ’n vervelige byvertoning.

Ek is hierdie maand gekonfronteer met die baie werklike feit dat ek nie meer behoort nie – vir tyd en wyl, en relatief tot ’n spesifieke omgewing.

Soos ek deur my woonstel gedwaal het die afgelope paar dae, kon ek nie ignoreer dat ek nie meer hoort nie in ’n plek wat sinoniem geword het met die daaglikse werklikheid dat ek hóórt, vir nou, op hierdie eiland. Hierdie struktuur, hierdie bouvallige mure, die vier vensters wat nooit genoeg vars lug in my lewe ingelaat het nie, die voordeur wat skuur teen die ongepolitoerde marmervloer, die voorstoep met ou sigaretstompies en onoopgemaakte pos in die een hoek, die oorbekende paadjie tussen die voordeur, my “kantoor”, die sitkamer, my slaapkamer, die badkamer, die kombuis, en terug na die voordeur, was waar ek gehoort het die afgelope amper vyf jaar. Ek het nie gehoort by die bure nie. Ek het nie gehoort by die 7-Eleven, of by enige ander plek in hierdie stad, hierdie land, of hierdie wêreld meer as wat ek gehoort het in hierdie bedompige, dofverligte woonstel nie. (Ek oordoen dalk die “donker woonstel”-ding ’n bietjie ter wille van literêre effek. Natuurlike sonlig hét soms die binneruim gepenetreer. Ek het ook verskeie elektriese ligte gehad wat die goed uitgetrapte paadjie sigbaar gemaak het. En het ek nie aan die einde talle oomblikke van intellektuele verligting ervaar in hierdie plek nie?)

Die feit bly staan dat ek nie meer hier hoort nie. En dit het niks uit te waai met identiteit, godsdiens, of ’n vae begrip van die kosmos nie. (Of het dit?)

Nodeloos om te sê het ’n onaangename sensasie my aan die strot beetgehad vanweë hierdie opgeskorte bewussyn van plek. En ek reken dis waar begrip ’n verskil maak. As iemand jou tromp-op loop en kla oor ’n onaangename sensasie in die deel van sy anatomie waar jy weet sy maag geleë is, sal dit vir jou ’n plesier wees om aan hierdie idioot te verduidelik dat hy net sy mond vol diepgebraaide seekat moet gaan prop: honger is die probleem, kos is die antwoord. (Tensy jy natuurlik verkeerd is en hy eintlik kla oor ’n meswond in sy laer buik.)

In die geval van my eie onaangename sensasie kon ek myself gerusstel met die verduideliking dat ek slegs ’n verminderde sin van my plek in die wêreld ervaar, en dat dit ’n normale reaksie is op ’n tydelike situasie. Ek kon verder gaan en sê dat ek reeds ’n ander plek het, en dat my sin van waar ek behoort, spoedig herstel sal wees.

Nog steeds, ek kon nie toelaat dat so ’n rare, konkrete manifestasie van onsekerheid wegkom sonder om dit te melk tot die laaste druppel angs nie …

MYSELF: “As jy sê ‘ander plek’ verwys jy natuurlik na die woonstel in Benewelde Lig, reg?”

EK: “Ja. Jy sal môre al jou goed soontoe skuif, en teen volgende week sal jy heeltemal tuis voel.”

MYSELF: “Hoekom?”

EK: “Omdat al jou goed daar sal wees! En jy sal weer jou eie voordeur hê, en meer vensters as wat jy kan tel!”

MYSELF: “Daar’s sestien vensters. Ek het hulle getel.”

EK: “Wel, daar het jy dit! Jou sin van waar jy hoort sal herstel wees voor jy ‘eksistensiële angs’ kan sê. Jy sal selfs ’n uitsig op die bure se kombuis hê.”

MYSELF: “Dis nie my woonstel nie. Dit behoort aan iemand wat my werkgewer ’n guns doen deur die woonstel aan my te verhuur.”

EK: “Ja, ek weet. Maar dit sal joune wees vir alle praktiese doeleindes, ten minste vir ’n paar maande.”

MYSELF: “Maar ek hóórt nie daar nie. Nie soos mens hoort op jou eie lappie grond, as jy kan slaap tussen jou eie koolkoppe nie.”

EK: “Dis waar … Maar hoort ons ooit op enige plek vir ’n onbepaalde periode van ons bestaan? Of is ons vreemdelinge meeste van die tyd, wat hardloop van die een plek na die ander – dan hoort ons hier, dan hoort ons nie daar nie? En aan die einde van die dag haas ons ‘huis’ toe want dis waar ons dink ons hoort – tussen ons eie mense? Wat gebeur as dit nie uitwerk nie? Wat gebeur as die verhoudings by die ‘huis’ disfunksioneel is tot so ’n mate dat ons voel ons hoort ook nie dáár nie? Hou ons aan om te swerf soos die diere wat ons is? Veg ons net voort vir ons daaglikse oorlewing, vir ons reg tot ’n waardige lewe? Hou ons aan om rond te snuif in ’n desperate poging om ’n vaag bekende reuk op te tel? Ons is weerlose diere, magtag! Wat meer wil jy hê?”

MYSELF: “Miskien wou ek net dít gehoor het. Miskien wou ek net gehoor het dit werk nie altyd uit nie. Dat mens dankbaar moet wees wanneer dinge wél uitwerk, en wanneer jy wél voel jy hoort êrens. Want jy weet dit hou nooit vir altyd nie, en as jy die goeie dinge van die lewe kan geniet vir net één dag, en dan nog een … dan’s dit beter as om dit nooit te kon hê nie. Liefde hou nooit vir ewig nie. Die lewe hou ook nie vir altyd nie. Op een of ander tyd in jou lewe gaan jy noodwendig verlies ervaar, en ’n verminderde sin van jou plek in die wêreld. Hoe jy dit hanteer wanneer dit na jou toe kom … dít, dit is wat vir jou ’n gevoel van sekuriteit gee.”

EK: “Maak die meeste van wat jy het, terwyl jy dit het?”

MYSELF: “Ja. Dis seker waarop dit neerkom. Om die kraag teen die wind te hou. Om te stry vir oorlewing, en wanneer jy oorleef, om voort te stry vir die beste wat jy kan kry. En wanneer dinge vir jou uitwerk, om die goeie wat jy het, te deel met ander mense. Andersins, wat is die punt?”

EK: “En moet nooit vergeet dat die lewe delikaat is nie? Dat die dood aan die einde alles oorwin? Dat ons almal aan die einde sal terugkeer tot stof?”

MYSELF: “Wel … as jy die mens beskou as bloot ’n versameling vleis en been wat rondsnuffel vir ’n plek om sy kop neer te lê aan die einde van die dag, kan jy jouself seker herinner aan al daai goed.”

EK: “En … jy moet ook nog ’n paarmaat probeer vind saam met wie jy ’n bydrae kan maak tot die voortbestaan van hierdie ellendige spesie, of hoe?”

MYSELF: “Hmm … is daar nie nog ’n paar bokse wat ons kan rondskuif nie?”

En so val nog ’n paar druppels in die emmer …

______________________

Stigting van die Anti-beuselagtigheidsliga

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Bestaan daar iets soos ’n anti-beuselagtigheidsliga? Indien nie, roep ek dit nou tot lewe op hierdie oomblik. Ons leuse sal niemand se tyd mors nie: “Wat is die punt?” Die liga sal ’n oefening wees in betekenisvolle onderneming – ’n doelgerigte aanval op nutteloosheid. (Die gedagte het wel onlangs by my opgekom dat hierdie materiaal waaraan ek werk dalk net ’n nuttelose onderneming is. Wie gee werklik om of ek my eie ware naam ken? Wie gee om of ek betekenis in my lewe sien, en of ek my dae vul met betekenisvolle aksies?)

Ons almal het groepe waaraan ons behoort – of meeste van ons, in elk geval. Meeste mense hou daarvan om deel te wees van iets, so nou is daar nog ’n groep waarvan u as leser ’n trotse lid kan word! Ons kan selfs naamkaartjies laat druk, en aan elke lid ’n spesiale nommer gee.

Lidmaatskap sal natuurlik gratis wees vir die eerste miljoen lede; daarna kan ons ’n klein jaarlikse fooitjie hef. Een reël sal wees dat almal behalwe arm kunstenaars koek en tee moet bring na vergaderings toe, en verkieslik genoeg daarvan sodat die kunstenaars hulle plastieksakke en leë koeldrankbottels kan opvul na die tyd.

Miskien moet ons ’n geheime organisasie wees, met selle wat gemeenskappe oral in die wêreld kan infiltreer! Dan kan ons ’n manifes skryf, en oor vyftig jaar Rusland oorneem, of Kuba, of Mpumalanga. Ons kan ook protesaksies loods teen nuttelose organisasies en instellings, soos uitgewers wat net ingestel is op profyt. Ons kan selfs sendelinge oplei om van deur tot deur te gaan met traktaatjies …

______________________

As die gewaarwording versteur word

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Ek het ’n teorie: Wanneer ’n persoon se gewaarwording van waar hy hoort versteur word, aktiveer die onderbewuste onmiddellik ’n proses om die steurnis te neutraliseer. Hierdie proses manifesteer in sekere aksies wat onderneem word om die persoon se identiteit, en daarmee saam sy gewaarwording van waar hy hoort, te bevestig.

My situasie die afgelope paar weke dien as voorbeeld. Ek was skielik gedwing om my goed te vat en te loop nadat ek vir amper vyf jaar in ’n spesifieke woonstel gewoon het. Hierdie ervaring – wat ingesluit het die verpakking van al my besittings in bokse, mure wat gestroop is van prente en ander parafernalia van my bestaan, en ek wat tussen die bokse en die kaal mure geleef het vir omtrent ’n week – het my gewaarwording van my plek in die wêreld, van waar ek inpas, effens versteur. Ek het instinktief – sonder om bewustelik te dink daaraan om stappe te neem om hierdie steurnis te verlig – begin om te skryf met ’n ongekende dringendheid elke keer as ek ’n breuk gevat het van die pakkery, en daardeur aktief die deel van my identiteit te bevestig wat ek as fundamenteel beskou vir my bestaan. (Belangrik om te noem dat ek verwag om terug te keer na die gewone trant die oomblik as my gewaarwording van waar ek behoort, herstel is.)

Indien hierdie teorie korrek is, mag dit moontlik impliseer dat ’n meer ideale bestaanstoestand – ter wille van die argument kan dit gedefinieer word as ’n toestand waar meeste van my behoeftes bevredig word op ’n redelik gereelde basis – nie bevorderlik sal wees daarvoor om ’n driftige tempo in my skryfwerk te handhaaf nie. Dit kan moontlik ook toegepas word op ander mense, en die kreatiewe werk wat húlle doen. (Natuurlik is wat geldig is vir een persoon nie noodwendig geldig vir ’n ander nie. Dit hang sekerlik ook af van die tipe kreatiewe werk waarmee jy jouself besig hou.)

Die vraag kan ook gevra word wat die belangrikste is: gereelde bevrediging van al my behoeftes – en die noodwendig gelukkige resultaat van ’n meer ideale bestaanstoestand, of ’n sekere drif in die produksie van kreatiewe werke? Mens mag selfs wonder watse verskil gereelde bevrediging van al jou behoeftes op die kwaliteit en inspirasie van jou kreatiewe werke sal hê.

Hoe belangrik is dit aan die einde om kreatief te wees? En as dit daarop neerkom, is dit belangriker as om “gelukkig” te wees? Al die vrae in hierdie verband is duidelik nog nie gevra nie.

______________________

Die (werklike) waarde van geld

MAANDAG 22 SEPTEMBER 2003

Baie mense wil ryk wees vir die gemak en sekuriteit wat dit verskaf. Baie mense wil ook ryk wees omdat hulle glo dit sal hulle belangrik laat voel, en belangriker laat verskyn aan ander.

Finansiële welvaart is ook bevorderlik daarvoor dat die gemiddelde persoon wie se lewe geanker is in die immer veranderende kulturele moeras van die sosio-ekonomiese middelklas meer oortuig kan wees van sy of haar identiteit. Geld stel ’n mens in staat om die kentekens aan te skaf wat die individu nodig het ten einde hom- of haarself op ’n sekere wyse aan die wêreld te kan vertoon. Sodoende kan die individu dus aan ander mense sê: “Dit is wie ek (dink ek) is, wie ek graag wil wees, en hoe ek graag gesien wil word. Hier is die sigbare bewyse daarvan.”

Rykdom word dus (meestal onwetend) gesien as ’n maklike manier om identiteit te definieer, en voortdurend te bevestig – veral deur mense wat nie oor baie geld beskik nie, en wat daagliks omgaan in omgewings waar geld ’n prominente rol speel in die vorming en vertoning van identiteit.

… en ’n akademiese nota

Bogenoemde kan genoem word ’n “antwoord” soos wat ek bedoel het ’n paar stukke gelede. In hierdie geval sal die aanvanklike vrae wees: Hoekom wil so baie mense ryk wees? Gaan dit net oor die sekuriteit van om te weet jy sal genoeg hê om te eet vandag, en môre, en moontlik nog volgende maand ook? Of word die mens ook gedryf deur ’n ander instink of motivering?

Meeste van my sogenaamde antwoorde is niks meer as persoonlike teorieë nie. My metodiek is ook nie vreeslik wetenskaplik nie. Ek sal byvoorbeeld dink: “Dit wil vir my voorkom of [Persoon X] steeds nie oortuig is van haar eie identiteit nie.”

Dan, in hierdie spesifieke geval, sal ek verder afstof, of vlekke op die vloer probeer wegvryf, tot ’n volgende gedagte by my opkom: “Snaaks, sy was nog altyd een wat oordrewe aangetrokke was tot geld.”

Dan, soos ek staan met ’n stoflap vol lighter fluid in die een hand, en ’n sigaret in die ander, kom die oomblik van insig: “Het die een moontlik iets uit te waai met die ander?”

Met laasgenoemde het ek dan ’n VRAAG geformuleer. Nadat ek vorendag gekom het met die mees waarskynlike ANTWOORD, kan ek  voortgaan om ’n TEORIE te formuleer.

Dan sal ek by die spieëltafel gaan sit, my notaboek oopmaak en iets skryf soos: “Baie mense wil ryk wees vir die gemak en sekuriteit wat dit verskaf. Baie mense wil ook ryk wees omdat hulle glo dit sal hulle belangrik laat voel …”

______________________