’n Gedagte broei in my kop, deel twee

MAANDAG 8 DESEMBER 2003

’n Gedagte het in my kop begin broei êrens in die eerste deel van Oktober. Ek kan beweer dat ek sedertdien aan niks anders gedink het as aan die eier wat in sy nes gelê en wag het nie, maar hierdie idee is een van daai wat in fases uitbroei. Ek is nou eers, in die eerste deel van Desember, gereed om die ander ent van die eier te tik in die hoop dat die volle waarheid skreeuend uit sy dop sal kruip.

My vraag was laas, hou ek steeds in my agterkop dieselfde sjabloon wat betref my toekoms? Ek het tot ’n groot mate neergevel wat ek wou sê, en ek loop die risiko dat ek net dieselfde politiek weer gaan uitgorrel, om dit weer ’n keer op te dis as iets nuuts wat ek nog wil bysê.

Ek meen nou al vir ’n geruime tyd dat ek hierdie onpubliseerbare versameling stukke gaan afhandel, al my kontant in ’n plastieksak gaan toedraai, en sal teruggaan Suid-Afrika toe. Daar aangekom sal ek dit en dat doen, naamkaartjies laat druk wat sê wie ek is, hoekom ek op daai dorp my sole wil deurloop, en hoe ek reken ek by die gemeenskap inpas – in terme wat my dorpsgenote sal verstaan. Ek sal binne enkele weke ’n plaaslike burger wees wat herken, en vriendelik gegroet sal word elke Saterdagmiddag as ek balle by die gholfbaan gaan optel om te verkoop vir brood en twak.

Lank voordat ek sal begin verlang na Taiwannese vrouens en diepgebraaide seekat, sal ek aansit vir aandete by ’n vooraanstaande linksgesinde op die dorp se dogter. Kort daarna sal sy te bly wees dat iemand soos ek met háár sal wil trou, siende dat sy nét vyf operas op die klavier kan speel, gereeld haar humeur verloor vir sosiale onreg, haar ma altyd sê sy’s heeltemal te slim om ooit ’n goeie man te kry, en dat sy ’n veels te goeie sin vir humor het om ernstig opgeneem te word deur enige regdenkende digter of skatryk ingenieur.

En so sal my lewe voortgaan volgens die konvensionele model. Die skoonfamilie sal soms verplig voel om verskoning te maak oor my sogenaamde verlore jare, toe “hy na die Verre Ooste toe gegaan het om Engels te gee en te skryf, en so aan”. Ek sal egter wees waar meeste burgers van die Middelkosmos eens net gedroom het hulle sal opeindig – getroud, huis, werk, kinders, grassnyer …

Ek weet ek maak myself skuldig aan stereotipes. Ek weet lewe in die middelstratum van die samelewing is geen Voortrekkerkamp of Sondagskoolpiekniek nie. Ek weet alle mense, middel of nie, wil graag ’n behoorlike dak oor hulle koppe hê. Ek weet almal probeer hulle bes om genoeg geld elke maand bymekaar te skraap om siel binne vel te hou. En ek verstaan om jou eie kind in jou hande vas te hou verander jou beskouing van sake op wyses wat jy nooit sou kon raai nie.

Steeds wonder ek: Is die ideaal van ’n middelklasbestaan vir elke volwasse persoon beskore? Wat, om die noodwendige opvolgvraag te vra, is die alternatiewe modelle van ’n suksesvolle, gelukkige, vervullende volwasse lewe?

Een probleem wat ’n mens teëkom in die beantwoording van hierdie vraag, is definisie van ’n middelklasbestaan. Daar’s ook faktore wat ’n antwoord verskillend maak vir verskillende mense – maatskaplike realiteit, kulturele verwagtinge, en sienings van wat ’n suksesvolle volwassene is, speel alles ’n rol.

Siende dat hierdie nie ’n akademiese werk is nie, en omdat ek nie in die posisie is om oor enige iemand anders se lewe te skryf nie, slaan die byl dus weer teen my eie voordeur vas. Wat sou dus die alternatief wees vir my, of dan ten minste vir iemand in my posisie? Ek is 32 jaar oud; ek besit geen eiendom nie, en ek besit nie ’n motorkar nie. Die paar stukke meubels wat ek my eie noem, staan ’n woonstel in Noordoos-Asië vol. Ek het die ekwivalent van ’n paar duisend rand in die bank; ek glo kredietkaarte is ’n euwel; ek het geen dokumentasie van ’n vaste salaris om ’n bankbestuurder mee te beïndruk vir ’n huislening nie, en ek het ’n hardkoppige streek wat maak dat ek wil skryf wat ék wil skryf ongeag of dit publiseerbaar is, selfs as ek eintlik aksies moet neem om meer geld te verdien.

Wat is my opsies, as ek nie kwalifiseer vir die standaard ideaal van ’n middelklas gesinsman nie, as konserwatiewe, middelklas, “family values” gemeenskappe (wat insluit my eie ouers, my susters, en vriende wie ek om verskeie redes as belangrik ag) se kriteria van wat ’n “volwassene” behoort te doen, vryelik bokant my kop verby swaai?

DINSDAG 9 DESEMBER 2003

Om te trou en kinders te kry is meer as net ’n leefstylkeuse – dit is, en was heel moontlik nog altyd, oor kultuur- en tydsgrense heen, die primêre vereistes om te kwalifiseer as ’n volwaardig volwasse lid van die gemeenskap.

Natuurlik betwyfel niemand jou vermoë om keuses te maak, en verantwoordelikheid te neem vir jou eie aksies as jy ouer as 21 is nie, en soveel te meer as jy reeds die Groot Drie geslaan het. Dis egter een van daai gevalle waar mense sal sê “Ja, jy is nou oud genoeg om saam te gesels, maar …,” en dan nie altyd hulle sin kan voltooi nie.

’n Vriendin vra onlangs vir my – sonder dat sy bewus was daarvan dat dit ook een van mý huidige troetelkwessies is, wanneer ek reken ’n mens se ouers jou sien as ’n volwassene, as volwaardig een van “ons”. Mý vraag is, wanneer sien nie net jou ouers nie, maar die breë gemeenskap jou as ’n volwasse een van hulle? ’n Voorlopige antwoord was reeds aangebied – trou-en-kinders (en as jy kwalifiseer vir ’n lening, kan huiskoop bygevoeg word).

Wat ons terugbring by my vraag van gisteraand: Gestel trou-en-kinders is óf nie jou keuse nie, óf jou nie beskore nie, wat dan? Gaan jy tot jy tagtig is behandel word as ’n tweedeklas volwassene? Gaan volwassenes wat kwalifiseer om as sulks beskou te word volgens die genoemde kriteria geïrriteerd raak as jy ’n mening wil lewer oor “volwasse sake” soos kinders en die opvoedingsproses, omdat “jy nie weet nie, want … jy weet net nie”?

(Terloops, die drie dinge – huiskoop, trou, en kinders kry, word gereeld in een asem genoem as mylpale wat ’n mens kwalifiseer as ’n volwassene. Maar selfs al besit jy nie eiendom nie, al is jy geskei of al was jy nooit eens getroud nie, wat werklik saak maak is of jy die verantwoordelikheid ken van om jou eie kind groot te maak. Dit, meer as enige iets anders, is die Goue Ongeskrewe Vereiste.)

Natuurlik is daar uitsonderings op die reël; mense wat nooit hulle eie kinders produseer en/of grootmaak nie, wat wel gerespekteer word as volwaardige volwassenes. Die beste voorbeelde waaraan ek kan dink is die Katolieke Pous en die meerderheid Katolieke priesters. Hierdie groep word inteendeel gerespekteer omdat hulle die vreugde (en verantwoordelikheid) van eie kinders uit vrye wil prysgegee het, sodat hulle die Kerk, en hulle geloofsgemeenskap kan dien soos hulle leerstellings dit uiteensit. Selfde met die Dalai Lama en Boeddhistiese monnike. Mens kan amper sê dat voltydse lede van hierdie religieuse en ander soortgelyke gemeenskappe spesiale “vrywaringsbriewe” het om nie aan die konvensionele kwalifikasies vir volwaardige volwassenheid te voldoen nie.

Wat van ander volwassenes wat buite die konvensionele kriteria val? Waar pas die volwassenes in wat hulleself in inrigtings bevind, of wat op straat slaap en as “boemelaars” geklassifiseer word? Niemand verwag werklik van volwassenes in sielkundige inrigtings om op te tree, of te funksioneer as volwassenes nie (en van hulle word moontlik opgesluit in die vrees dat hulle wel kinders sal verwek); en boemelaars word in elk geval nooit geag as goed genoeg vir enige iets anders as miskien ’n muntstuk en ’n kort prekie in die parkeerterrein nie. Maar pas hulle steeds op ’n manier in as volwasse lede van die gemeenskap? Hulle word nie heeltemal as kinders behandel nie, en in sommige gevalle word daar van hulle verwag om verantwoordelikheid vir hulle aksies te neem, so … sal ons dit vir die oomblik daar laat om hulle “semi-volwassenes” te noem?

Om terug te kom by my spesifieke situasie: as ek ’n versteurde priester-boemelaar was wat myself “Pous” genoem het, kon ek nog ingeval het in die semi-volwasse groep, hoewel ek ook vrywaring kon eis van konvensionele kriteria vanweë my priesterstatus. Maar omdat ek nie geestelik versteur is nie, nie ’n boemelaar is nie, omdat ek nie ’n Katolieke priester of monnik is nie, en ook omdat ek nie kinders het nie, bevind ek myself in ’n spesiale groep: ongetroude, enkellopende, werkende volwassenes wat volgens vele se standaarde nie kwalifiseer vir volwaardig volwasse status nie.

Pla dit my? Dit irriteer meer as wat dit pla. Ek beskou myself as ’n volwaardige volwassene, maar as die vereistes van kinders en (moontlik) eiendom geld, gaan ek altemit nie as ’n volwaardige volwassene behandel word deur mense wat wel voldoen aan hierdie vereistes nie.

Ek kan die hele debat omgooi na die ander kant toe en sê dat daar baie volwassenes is wat “Ouer” kan skryf op hulle identiteitskaartjies, maar wat ek as … sal ons maar net sê, onderontwikkeld sal beskou volgens my eie maatstaf van volwasse opinies en gedrag.

Noudat ek daaraan dink, behoort daar nie iets te wees soos ’n kredietstelsel nie? Behoort mens nie krediet te kry vir uitgesorteerde opinies oor “volwasse” sake wat relevant is vir alle volwassenes nie; krediet wat sal opmaak vir die gebrek aan krediet wat ander se beloning is vir intieme eerstehandse kennis van ouerskap, al het hulle dalk nog nie soveel uitgesorteerde opinies nie? Die antwoord is heel waarskynlik negatief. Ouer-volwassenes het die breë gemeenskap aan hulle kant. Goed en wel as jy jou weergawe van die betekenis van die lewe, en kwessies soos identiteit en die rol van plek in die mens se lewe uitgesorteer het in “volwasse” woorde; wat egter saak maak, is of jy kinders het of nie.

Hoe sal dit my opinie verander as ek wel eendag my eie kind in my arms toevou? Ek sal graag wil antwoord dat dit nie my opinie sal verander nie. Dit sal my nog steeds irriteer as iemand van mening is dat ek nóú kan deelneem aan die gesprek as dit oor kinders gaan, “want jy’s mos nou self ’n ouer”. ’n Persoon is ’n volwaardige volwassene omdat hy of sy ’n volwasse ouderdom bereik het, omdat hulle weet hoe om te funksioneer as volwassenes, en omdat hulle verantwoordelikheid neem vir hul eie aksies in die gemeenskap waarbinne hulle hulself bevind. Ek het nie kinders van my eie nodig om as ’n volwassene gedefinieer te word nie, en ek het nie kinders van my eie nodig om ’n opinie oor die onderwerp van kinders grootmaak te lug nie.

(Is daar mense wat, bewustelik of onbewustelik, gemotiveer word om kinders te kry net sodat hulle kan kwalifiseer as “werklike” volwassenes in hulle gemeenskap? Ek glo daar is.)

Hierdie stuk het ’n paar draaie geloop waarop ek nie oorspronklik gereken het nie. (Ek beplan in elk geval nie my stukke nie. Ek skryf meeste van die tyd wat ek andersins hardop vir myself sou vertel, dink dan ’n titel uit en noem die eindresultaat “’n stuk”). Ek dink ek wou aanvanklik geweet het of ek net die een opsie het vir die toekoms, naamlik om terug te gaan Suid-Afrika toe, geld te verdien, huis te koop, te trou en kinders te kry.

Ek wou op een of ander kol nog alternatiewe noem, soos die ou wat twintig jaar lank in Hong Kong woon, vlot Chinees kan praat, baie reis, elke jaar hope literêre materiaal produseer (beide publiseerbaar en onpubliseerbaar), en geken sal word as die “eksentrieke oom van die Ooste” deur sy susters se kinders.

Ek glo egter die kwessie van hoe volwaardige, respekteerbare volwassenheid gedefinieer word, is die dieperliggende aangeleentheid agter die oorspronklike gedagte wat gebroei het in my kop.

NASKRIF

Die probleem in hierdie stuk was dat mense wat kwalifiseer volgens sekere kriteria, behandel word as “volwaardige volwassenes”. As jy oud genoeg is om by verstek te kwalifiseer maar jy voldoen nie aan hierdie sogenaamde “benchmarks of adulthood” nie, word jy steeds aanvaar as ’n mede-volwassene, maar jy word gereeld op subtiele wyses herinner daaraan dat jy nie aan ’n paar kardinale vereistes voldoen nie.

Ek het egter veel later aan iets anders gedink. Vind mense nie in soveel gevalle enige iets om hulleself in ’n beter lig te stel nie? As die ander volwassene nie getroud is nie en/of nog nie enige afstammelinge geproduseer het nie, dan vind hulle dit daarin. Dan sal dit hierdie saak wees waarop hulle sal hamer tot vervelens toe. As hulle dit nie daarin vind nie, dan sal dit wees oor die ander persoon se werk, of hulle kinders wat te veel lawaai maak, of “hulle verbasende swak smaak in huisdekor in ag genome dat hulle soveel geld het”.

Sekerlik is dit naïef om te verwag dat jy dieselfde reaksie sal kry van ander volwassenes om die tafel as die gesprek gaan oor misdaadbestryding in die plaaslike distrik, as die ander volwassenes woonagtig is in die distrik, en jy woon in ’n misdaadvrye enklawe in Skandinawië. Of dat jou mening noodwendig dieselfde gewig sal dra as die gesprek gaan oor die opvoeding van kinders, as jy nie enige kinders het nie. Dieselfde vir ’n gesprek oor huweliksprobleme as jy nog nooit getroud was nie.

Tog, sommige volwassenes sal altyd standaarde koester, fyn uitgekies en blink gepolitoer, wat hul eie lewens in ’n beter lig stel. Vir hierdie rede, sal volwassenes wat glo in hul eie waarde ten spyte van die somtyds eensydige menings van ander volwassenes, dit makliker vind om voort te gaan om ’n sukses te maak van hul eie lewens, ongeag hul verhoudingstatus en eiendomsportefeulje, en ten spyte van ’n moontlik algehele gebrek aan begeerte, of selfs onvermoë, om kinders te produseer.

______________________

Voorraadopname, 4 Desember 2003

Oukei, laat ek nou net alles vir ’n slag weer uitskryf. Dis Donderdag 4 Desember 2003 om twintig oor elf in die oggend. Ek luister Tom Waits se Rain Dogs, die winterson skyn warm buite, en ek wag vir my pot tee om koud genoeg te word sodat ek nog ’n smoke break kan vat. Die lewe is orraait. Ek het nog 67 000 Taiwan dollars in die bank, en omtrent 11 000 in die laai. Ek het ook nog drie teesakkies in die blik, en seker so vyftien sigarette.

’n Tyd gelede het ek weer die sogenaamde “Middelburg Plan” se saak gestel met passie wat my stem laat bewe het. Ek het gemeen: verkoop ’n reeks Engelse kinderboeke vir ’n miljoen, of ’n kwart. Dan prop ek my 32 bokse en my 9 meubelstukke in ’n 20-voet container, en dan gaan kap ek my hakke vas in ’n linoleum vloer in Middelburg vir R895 per maand. Jippie, uiteindelik.

Tydens ’n onlangse rondte navorsing wat foto’s van 20-voet skeepshouers opgelewer het, het ek ook ’n bietjie rondgesnuffel op webtuistes van plaaslike uitgewers van taalhandboeke. Ligte wat gewaarsku het van naïewe onkunde het geflikker soos polisie-sirenes: Skrywers van Engelse handboeke stap nie gewoonlik met kontanttjeks uit kantore oomblikke nadat hulle uitgewers oorweldig het met ’n paar maande se werk nie. Die proses, helaas, vereis ’n bietjie meer geduld.

Maar nou, is ek Besigheidsman, of is ek Skrywer? Ek is ’n skrywer, maar ek wil baie graag ’n besigheidsman wees, want ek het geld nodig om huis toe te gaan.

My vraag is, as ek in Suid-Afrika woon en ek het nodig om dadelik vyf ure se werk op die rekenaar te doen vir my besigheid, en ek stap terug van die Pick & Pay af met ’n essay in my kop wat my twee ure gaan vat om te skryf, wat gaan ek doen?

Ek wil graag ’n besigheidsman wees, en nie net oor die kontant waarmee ek vliegtuigkaartjies en container-spasie kan koop nie. Ek wil ook ’n rondte wen teen mense wat agter hulle hande fluister, “Shame, hy’s ’n skrywer – of ten minste, hy probeer om een te wees. Hy weet nie van dinge soos rekeninge betaal en kredietkaarte en geld soos ons grootmense nie.” Ek weet dis ’n persoonlike saak wat ek tot ’n groot mate te pletter geskryf het, maar ek het steeds nodig om … miskien vir niemand anders nie as myself te bewys dat ek oor geld kan praat met dieselfde vernuftigheid as oor “betekenis van die lewe”.

Wil ek my brood aan albei kante vol grondboontjiebotter hê? Ek weet volgens populêre mening is dit ontoelaatbaar … maar as ek net ten minste genoeg kan maak vir ’n vliegkaartjie, en ’n bietjie spasie in daai container.

Ek is ’n skrywer. Ek weet dit, want ek sit hier op Donderdag 4 Desember en skryf nog ’n nota aan myself, terwyl ek baie goed weet ek het werk om te doen met profyt in die pyplyn.

Tyd vir ’n plan. Ek voer op die oomblik die plan uit van vroeg Augustus toe ek gemeen het dis ’n briljante idee om twee-derdes van my klasse te kanselleer en net te fokus op Besigheid! en Chinese studie. Toe trek ek na ’n ander ou woonstel toe, skryf nog ’n miljoen bladsye oor “identiteit en plek” en dink besigheidsidees uit (lees: ander tipe skryfwerk) waarmee ek so gou as moontlik ’n miljoen rand kan maak.

Nagmerries oor ewigdurende ballingskap, en drome van braaivleis en mense wat Afrikaans en Zulu praat, open toe my oë tot ’n kombinasie van Planne A en B: gaan voort met wat ek skryf, en gee genoeg klasse vir enkelsyfer maande om na enkelsyfer maande te kan teruggaan. As dit met besigheidsgeld is, mooi. Indien nie, dan met ander geld.

Die stryd sal voortgaan. My swaard is geslyp vir enige uitdaging.

______________________

Ek en jy

WOENSDAG 3 DESEMBER 2003

Ek is, helaas, nie van ’n ander planeet nie. Ek is tot ’n groot mate net ’n gewone ou. Ek slaap, eet, gaan badkamer toe verskeie kere elke dag van al die tee wat ek drink, en lag as iets snaaks is. Ek hou van flieks, kyk so nou en dan sport, en lees die koerant elke tweede dag. As ’n heteroseksuele man kan ek myself soms verkyk aan mooi vrouens, en ek het normale drange. Ek moet rekeninge betaal, en van tyd tot tyd die tandarts besoek. Ek kry griep so een keer per jaar, kry koud in die winter, en veels te warm in die somer.

As ek dus sê hierdie is mý literêre projek en niemand anders s’n nie, is ek dus net half reg. Wat ék ervaar, ervaar baie mense. Wat ek vrees, word deur ander ook gevrees. Wat my irriteer en kwaad maak, het dieselfde effek op ander mense.

Tog, ek is nie net die volgende ou met ’n ander naam en ander lyne oor my gesig nie.

Ek was vroeg in my lewe al bewus van die grootsheid van dinge, en daarmee saam ook ’n intense bewussyn van my eie nietigheid. Ek het aanvanklik die noodwendig gepaardgaande angs probeer neutraliseer met godsdiens, tot dit om verskeie redes effektiwiteit verloor het.

Die verskil tussen my en jou is dalk dat ek bewus is van die feit dat ek aan die einde nie werklik saak maak nie. Ek aanvaar dit tot ’n mate.

Maar vreemd soos die lewe is, probeer ’n mens steeds jou bes om wél op een of ander manier vir iemand anders iets te beteken. My keuse, in ag genome hierdie hoop of begeerte, is om te skryf.

Ander mense doen weer ander dinge om iets vir iemand anders te beteken. Miskien doen jy – die leser van hierdie teks – iets spesifiek in ’n waardige en opregte poging om meer waarde aan jóú lewe te gee. Miskien doen ék nie daai spesifieke ding nie. Dalk skryf jy ook. Dalk skryf ons selfs oor dieselfde onderwerpe … wat sal beteken die enigste verskil tussen my en jou is ons name, en die lyne op ons gesig … Ag, whatever. Eintlik ’n kakkerige stuk, maar wat maak dit saak …

______________________

Ons van hierdie tyd

WOENSDAG 3 DESEMBER 2003

My oggend het ’n paar gesigte opgelewer: die eerste een was my eie in die waas van ’n gevlekte badkamerspieël; die tweede was die jong gesiggie van enige van die kleuters in Nommer Nege Gebuigde Dorp; die derde was dié van die ou man, agter sy lessenaar by die skool in Nommer Nege, wat lyk soos Ho Chi Min; die vierde gesig het behoort aan ’n babaseun op die trein terug na Fengshan. Hierdie versameling portrette het my aan die dink gesit.

Ekself was ’n kleuter in die vroeë jare sewentig. Hoewel ek ook toe, soos nou, asem gehaal het, geëet het en van tyd tot tyd iets te sê gehad het, kan ek baie min van daai tyd onthou. Ek het geskiedenisboeke en ou koerante nodig om die res van die storie aan te vul van ’n tyd toe meeste van wat gebeur het nooit my bewussyn binnegesypel het nie (of nie sin gemaak het vir my onderontwikkelde grysstof nie). Ek het byvoorbeeld eers later geleer dat B.J. Vorster die Eerste Minister was van Suid-Afrika gedurende hierdie periode; Richard Nixon, en toe Gerald Ford die presidente van Amerika; die hoogdrawende Brezhnev Kameraad Een in die Sowjet Unie; en Pol Pot Broeder Een in ’n land wat ek eers twee dekades later sou ontdek op ’n wêreldkaart. Op ander gebiede, soos ek ook veel later eers sou uitvind, het Jim Morrison, Jimi Hendrix en Janis Joplin reeds vertrek na die hiernamaals, Bruce Springsteen het op ’n tafel gespring en is die volgende dag geëer as die toekoms van Rock & Roll, en die Britse Leeus onder leiding van ene Willie John McBride het trane en weemoed gesaai oral waar hulle aan ’n rugbybal gevat het.

Ek weet al hierdie dinge nóú omdat ek dit gelees het. Dit kon net sowel geskiedenis van die Middeleeue gewees het as dit nie was vir die feit dat ék ook êrens op die planeet was op dieselfde tyd nie.

Die sewentigs was my toeskouer dekade – al het ek nie veel verstaan van wat op die speelveld aangegaan het nie. Ek het meeste van my dae tydens daai dekade gespandeer in sandputte, toegesluit in ’n ou wrak in ons agterplaas (gewoonlik my eie skuld), en langs kombuistafels besig om my liggaam sterk genoeg te eet vir die volgende dekade.

Die eerste deel van die tagtigerjare was ek tot ’n groot mate steeds onbewus van enige iets buite my onmiddellike omgewing. Teen die einde van die dekade was ek egter oud en slim genoeg om konsepte te verstaan soos “Die Koue Oorlog”, “Apartheid”, “Die Kommunis is Satan” en “Nelson Mandela gaan die eerste swart president van Suid-Afrika word”. Ek kon ook teen 1989 goed genoeg lees en skryf om skool te kon verlaat, en ek het slim probeer klink as mense my gevra het wat my volgende stap in die lewe gaan wees.

In die negentigerjare het ek ’n meer aktiewe lid van die gemeenskap geword, en is steeds op my eie manier gedurende hierdie eerste dekade van nul. Ek is nou oud en bles genoeg dat dit nie ongehoord is dat ander volwassenes vir my vra, “En wat dink jy?” nie. Ek is ook verstandig genoeg om te kan trou en om kinders te kry (of verstandig genoeg om dit nie te doen nie), en om my stuiwer in die beurs van Beleefde Beskawing te gooi.

Nou, bogenoemde is bruikbaar as ’n kort biografie oor myself, maar dit is ietwat beperk as ’n groter beskouing van die spreekwoordelike “ons” wat gedurende hierdie tyd ons bestaan voer. Hoewel ek graag die laaste dekade en die huidige een – die jare van my laat twintigs en vroeë dertigs – wil beskou as mý tyd, is dit net ’n fraksie van die waarheid. Hierdie is ook die tyd wat die kleuters in Gebuigde Dorp dieselfde son op hulle bakkies voel as ék op my halfbebaarde gesig. Dieselfde met die babaseun op die trein, en die oupa aan wie die kleuterskool behoort. Ons almal leef in hierdie tyd.

Vyfhonderd jaar van nou af gaan dit nie saak maak dat ek 32 was gedurende hierdie dae, die kleuters 5 of 6, die oupa 75, en die babaseuntjie 6 maande nie. Hierdie tyd is ons almal s’n, al kan sommige van ons nog nie behoorlik ons name skryf nie, en al het sommiges al soveel keer hulle name geskryf dat hulle wens iemand anders kan dit vir ’n slag namens hulle doen.

Ons is geneig om baie gesteld te wees op ons ouderdom, en om onsself in te deel volgens ’n groeiende aantal klassifikasies. Daar’s Kleuters, Pre-tieners, Tieners, Jong Mense, Vroeë Twintigs, Laat Twintigs, Vroeë Dertigs, Middel Dertigs, Laat Dertigs, Middel Veertigs, Vyftigs, Sestigs, Sewentigs, Afgetree, Bejaard, Regtig Oud, en Oud Genoeg Om In Die Guinness Book of Records Te Verskyn.

Ekself pas in die Vroeë Dertigs vakkie, en is party dae regtig verlig dat ek nog nie in my middel dertigs is nie. Ek het vriende in hulle middel twintigs (of soos ek hulle graag daarop wys, amper aan die “verkeerde kant” van 25). Ek het ook vriende in hulle laat dertigs, en van my beste vriende is in hulle middel veertigs (die sogenaamde middeljare). Ek kan opreg sê dat ek gelukkig is daarmee om 32 te wees. Ek is bly ek is nie nou ’n tiener nie. Ek is ook baie dankbaar dat ek nog nie bejaard is nie.

Die vraag is, wat maak dit saak? Natuurlik is daar ’n verskil tussen 15 en 75, en tussen 25 en 55. Maar kom ons kyk na almal wat nou, sê onder 35 is. Dit sluit dus in myself, my twee susters, ’n paar vriende en vriendinne, die tieners van vandag, maar ook die klomp snotneusies by die kleuterskool. Dit sluit selfs in die sesmaand-oue baba op die trein. Waar gaan ons staan in verhouding met mekaar oor dertig jaar (of dan dié van ons wat dit so ver maak)? Ek sal 62 wees; nie meer vandag se kind nie, maar ook nog nie bejaard nie. My een vriendin wat nou 25 is, gaan 55 wees. My twee susters gaan 56 en 64 wees. Die klomp by die kleuterskool gaan tussen 34 en 36 jaar oud wees, en die baba op die trein sal pas 30 geword het. Hoewel hierdie laaste groep die jongste is van dié wat vandag son op hulle wange gevoel het, sal selfs húlle dus nie meer vandag se kinders wees nie (by wyse van spreke). Van die laities gaan al bles wees; van die meisies gaan moontlik al hulle eie tienerseuns en -dogters hê.

Twee-en-sestig, laat-vyftigs, middel-dertigs … ons gaan almal volwassenes wees van die Tyd en Wêreld van 2033. Dis moontlik dat ék nog kinders sal verwek wat aan die einde jonger gaan wees as die kinders van die pikkies wat vanoggend aan my been gehang het. Maar op hierdie oomblik het ons álmal ons voete in hierdie tyd – hier en nou. As dit reën vanaand, voel ons almal dit. As daar ’n epidemie uitbreek, word ons almal geraak.

Die versoeking is daar om te sê ek weef net hierdie opstel aanmekaar om myself beter te laat voel oor my eie jare wat aanstap. Of omdat ek soos Oupa Ho Chi Min gevoel het toe ek vanoggend ’n tweejarige in ’n dik jas gesien dans het met lomp bene, sy knikkende kop nie veel groter as my knie nie. Of omdat ek herinner was aan hoe ver ek al is op die pad van gemiddelde lewensverwagting toe ek die baba op die trein opgemerk het, rustig aan die slaap, en onbewus van enige iets anders as die warm knusheid van sy ma se arms. Nietemin, nie een van hierdie dinge sal enige iets verander nie aan die feit dat ’n verskil in ouderdom tussen twee mense toenemend vervaag soos die jare aanstap vir beide. Dit sal ook niks verander aan die feit dat instellings, konvensies, en die eksterne bewyse van ons bestaan, ons heel moontlik gaan oorleef nie.

Feit is ook dat ander mense vóór ons hier was. Demokrasie, die vryemarkstelsel, moderne arbeidsverhoudings, stede wat uit hulle nate bars, en mense wat nie meer weet hoe ’n grot of ’n lappie groente lyk nie, is nie net te wyte aan ons eie aksies nie. Ons het hierdie wêreld geërf. En dis weer óns plig om te doen wat ons kan om iets na te laat aan dié wat 200, en 500 jaar na ons gaan tob oor die sin van húlle bestaan.

Nie ek, my twee susters, my amper-aan-die-verkeerde-kant-van-25-vriendin, my middeljarige en laat dertigs vriende, die tandloses in die kleuterskool en op die trein, of enige van die tandlose ou mans met lang wit baarde gaan nog hier wees oor 200 jaar nie. Dit – dit is wat ons almal van hierdie tyd aan mekaar bind. Nie een van ons het geleef in die tyd van Julius Caesar of Napoleon Bonaparte of Strandloper X nie (teorieë oor reïnkarnasie of tydreise vir die oomblik tersyde gestel). Net so het nie een van die mense wat geleef het in die tyd van die Franse Rewolusie, of tydens die Goue Jare van die Romeinse Ryk, dit gemaak tot 2 Desember 2003 nie. Hulle het almal gesneuwel. Almal. Sonder uitsondering.

Dit sal dus nie onvanpas wees nie om aan die einde van hierdie stuk – ter illustrasie – te vra wat dit nog vandag saak maak dat een vrou in Desember 1541 aan die later kant van 25 was, of wat dit saak maak dat een ou toppie in sy sewentigs was. En maak dit nog vandag saak dat daar ook toe ’n driejarige kind was wat met lomp bene gedans het op ’n vergete wysie?

Historiese Voetnota:

“En,” vra iemand 462 jaar van nou af, “wat maak dit saak vandag, Woensdag 2 Desember 2465, dat ’n 32-jarige man in Desember in die jaar 2003 in die laat agtermiddag gesit en tob het oor die waarde van sy eie bestaan?”

______________________

Net nog ’n stuk

SONDAG 30 NOVEMBER 2003

Hierdie jaar het ’n paar goeie dinge opgelewer. Ek het onder andere besef nie een van my planne gaan ooit uitwerk nie en dat ek heel waarskynlik vasgevang gaan wees in ’n “Ballingskap”-essay vir die res van my lewe. Ek het ook baie dinge wys geraak oor die lewe, en baie stukke geskryf daaroor. Die verwikkeling wat egter aanleiding gegee het tot hierdie spesifieke skrywe, is dat ek weer tennis begin speel het. Hierdie heerlike gryp terug na die dae van my jeug was te danke aan my vriend O. – altyd opsoek na iemand om saam met hom een of ander sportiewe aksie te onderneem.

So gebeur dit toe dat ek en my aktiewe vriend Donderdagmiddag ou tennisballe rondjaag. Ek neem toe so in die middel van ’n dubbelfout notisie van die spelers op die baan oorkant ons. Enige iemand wat al ooit tennis gespeel het enige plek in die wêreld sou die skouspel herken het – ’n afrigter, en ’n tienerseun wat die een perfekte voorarm na die ander oor die net stuur.

Die voorarm-aksie was egter nie wat my die meeste beïndruk het nie. Die jong speler was geklee in die mees perfekte oefendrag wat mens uit enige tennistydskrif kon begeer. Duur tennisskoene. Duur, behoorlike tennissokkies. ’n Broek wat hom pas, en ’n duur, hoë kwaliteit T-hemp met een of ander logo op. Die jong tennisspeler het goed gelyk. Hy sou enige tienermeisie in die omgewing se aandag kon trek soveel vir sy indrukwekkende voorarm-aksie as vir die feit dat hy ’n toonbeeld was van sukses: aantreklike bou, atletiese vermoëns, en natuurlik finansieel suksesvolle ouers – wie anders kan so ’n perfekte tennis uitrusting en ander toebehore bekostig?

Hierdie jong man het gelyk soos wat ek wou verskyn aan die wêreld, tien, vyftien jaar gelede op die bane van tennisklubs in Stellenbosch en in voorstedelike Pretoria. Toe het dit saak gemaak, want mens vergelyk jouself tog graag op so ’n jong ouderdom met ander in die omgewing wat meeding vir dieselfde plekke in die son. En as mens jouself opgeweeg en ’n bietjie lig in die broek bevind het, het jy gewoonlik jou vrot tennisballe in jou plastieksak geneuk, jou raket se snare reguit gedruk, en gemaak dat jy by die huis kom.

Daar staan ek egter toe, tien jaar later, op baan nommer vier van die Yang Ming Tennisklub in Kaohsiung. Ek het ’n broek aan wat twee nommers te groot is vir my, ’n wit T-hemp met ’n draakmotief in swart, en aan my voete ’n paar ou skoolsokkies en ’n paar draftekkies met deurgetrapte sole. Soos ek toe nog ’n bal in die net moker, dink ek hoe lekker dit is dat dit nie meer saak maak dat ek lyk soos ek lyk nie, terwyl die ou op die ander baan lyk soos ’n jong Pete Sampras.

Hoekom maak dit nie meer saak nie? Omdat ek nou iets het wat ek destyds gedink het die beste tennis uitrusting vir my sou gee: Ek voel goed oor myself. Hoekom? Omdat ek gevind het wat ek graag wil doen; iets waarin ek reken ek ten minste nie vrotter is as met tennis nie. Ek is ’n skrywer, wat so een keer per week saam met ’n vriend tennisballe rondjaag. Ek is nie ’n tennisspeler wat op dertig wens ek het eerder weggegaan na ’n vreemde land toe om opstelle te skryf oor die betekenis van die lewe nie. Ek voel goed oor myself, en ek het nie meer duur tennisskoene en ’n professionele afrigter nodig om my dit te gee nie.

En dis waar hierdie stuk sou geëindig het as ek my sin kon kry. Maar net toe ek die bal met ’n pragtige rughand uiteindelik langs die regte lyn afstuur, kom die interne argument:

“So jy voel goed oor jouself omdat jy kastig ’n skrywer is?”

“Wel, ja. Ek skryf, en ek weet ek skryf nie kortverhale of goed vir De Kat of die Sarie nie, maar ek skryf.”

“Is dit belangrik dat jy actually góéd moet kan skryf om goed te kan voel oor jouself?”

“Ek neem aan vir die formule om te werk moet ’n mens seker nie te sleg wees nie. Jy moet eerlik wees. En jou identiteit moet gewortel wees in geloofwaardige eksterne realiteit. So … ja. Ek dink as jy jouself ’n skrywer noem, moet jou materiaal seker orraait wees.”

“En jou materiaal is orraait?”

“Ek is nie die beste skrywer van my geslag nie. Ek is nie eens regtig oorspronklik nie. Ek sê nie noodwendig wat ander nie sê nie. Maar ek sê wat ék wil sê, op die manier wat ek dit wil sê. En as ek my gat moet sien as ’n skrywer … wel, dan moet dit nog gebeur.”

“So jy sou saamstem dat die feit dat jy nou se dae goed voel oor jouself moontlik gebaseer is op jou eie wanopvattings en illusies?”

“Dis moontlik. Maar die lewe is ’n stryd, en ek staan nog. So ek kan nie té sleg doen nie.”

Ek en my vriend O. het klaargemaak met ons twee stelle tennis. Ons het die paar korrels sout van ons voorkoppe afgevee, ons koeldrank gedrink, en weggestap. Op pad na ons vervoermiddels deel ek met hom my gedagte van hoe ’n sekere klas tennisspeler altyd dieselfde lyk, ongeag of jy nou in Taiwan of in Suid-Afrika is.

Ons lag toe lekker oor rykmanskinders, solo tennis met houtspane en haarlose tennisballe, en hoe ’n mens die gevoelens van onvergenoegdheid oor jouself afskud na jare se marteling van om jouself te vergelyk met mense wat soveel beter in die son lyk as jy.

Ek sê toe dat dit soms wil voorkom asof ’n mens jare spandeer om jou eie wêreld so te konstrueer dat jy aan die einde goed kan voel oor jouself, om nie meer sleg te voel oor die dinge wat jy nie in jou jeug beter kon gehad het nie. En, soos O. toe byvoeg, om te kan lag oor die dinge wat ons so in verleentheid gelaat het.

Maar ek is nooit tevrede met ’n onafgehandelde argument nie, en ek weet die standaard vir ’n “goeie punt” is hoog. Ek kan immers nog wegkom met ’n debatteerbare punt as my opponent van vlees en bloed is, maar my woordewisselings deesdae is hoofsaaklik met die Interne Man van Staal. Hy duld nie half geweefde argumente nie, en hy rus nie voor ’n punt opgelos is nie.

“Wat beteken dit om goed te voel oor jouself?” maak die Man weer sy verskyning soos ek wegry huis toe. (“Ag tog!” wou ek oombliklik uitskree.)

“Dit kom onder andere daarop neer dat jy deur ’n proses gaan waardeur jy uitsorteer wat nie vir jou belangrik is nie,” beantwoord ek toe my eie vraag. “Of jy gaan deur ’n proses waardeur jy tot die insig kom dat sommige dinge nie so belangrik is as wat jy op ’n stadium van jou lewe gedink het dit is nie. Jy distansieer jouself uiteindelik van dinge wat nie meer soveel saak maak nie, en die eindresultaat is dat jy beter voel oor jouself.”

“Jy bedoel dinge soos duur tennisskoene en foutlose voorarmhoue na jou professionele afrigter toe?”

“Ja, om een voorbeeld te noem. Die proses behels verder dat jy die dinge identifiseer waarin jy werklik belangstel, wat werklik vir jou belangrik is … jou talente, jou sterk punte; dinge wat jy kan gebruik om ’n sukses van jouself te maak. Die idee is, jy gaan deur hierdie proses, en jy kom aan die ander kant uit met ’n beter idee van wie jy is, en wat jy moet doen om gelukkig te wees. Om dan …”

“… goed te voel oor jouself.”

“Ja.”

“Maar wat maak dit saak as jy goed voel oor jouself?”

Geagte leser, jy mag dalk dink hierdie materiaal is vervelig. Jy mag dalk dink ek hamer voortdurend voort op dieselfde punte. Jy mag dalk dink ek hou hierdie projek kunsmatig aan die gang omdat ek te lafhartig is om ’n meer genadelose wêreld te konfronteer in my eie land. Jy mag selfs lus voel om hierdie leesstof neer te sit en eerder TV te kyk, of dalk self ’n bal haarloos te gaan slaan teen ’n baksteenmuur.

Ek vra egter beleefd een guns voor jy dit doen: Stel jouself voor hoe dit moet voel om ek te wees.

Ek kan niks net as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek moet álles bevraagteken, en ten minste probeer om alles te verstaan. En nie eens net om by die huis agter my rekenaar te kan inskuif en ’n opstel te skryf daaroor nie. Ek moet verstaan sodat ek kan funksioneer – in hierdie wêreld, in hierdie spesifieke periode van die mens se bestaansgeskiedenis, op hierdie planeet!

Teen hierdie tyd het ek inderdaad voldoende begrip ontwikkel van die tyd en wêreld waarin ek leef. (Hoe anders? Ons almal weet wat gebeur met mense wat nie behoorlik kan funksioneer in ’n Beleefde Beskawing nie.) Ek sal selfs so verwaand wees deesdae om oor ’n koppie tee te vertel dat ek weet wat die “betekenis van die lewe” is, selfs dat ek verdien om te weet, of teen hierdie tyd al genoeg jare gespandeer op die vraag om ten minste ’n goeie idee te hê. Ander mense van my ouderdom het al huise en karre en kredietkaarte en kinders. Ek moet immers iets hê om by ’n sosiale geleentheid te kan sê! (“Hallo, ek is Brand. Ek’t nie ’n huis, ’n kar, ’n kredietkaart of ’n kind nie, maar ek weet wat die ‘betekenis van die lewe’ is …”)

Dis natuurlik altyd moontlik dat almal weet wat die “betekenis van die lewe” is, dat ek net ver agter die tyd is, soos om laat by ’n partytjie aan te kom en die verkeer te blameer. En eers as vriende en familie vir mekaar kyk dan weet ek almal moes deur dieselfde verkeer kom om betyds te wees. Dit was net ék wat by elke hoek eers wou uitklim om ’n smoke break te vat, om eers ’n bietjie rond te kyk en “alles in te neem”. En net miskien was die sogenaamde betekenis van die lewe nooit so ’n groot geheim van die begin af nie.

Nietemin, hoekom op aarde vra ek hierdie vrae? En ek weet ek is nie die enigste een nie! Dit voel soms asof ek alleen is op hierdie soektog as ek nag na nag by die kombuisvenster uitstaar, maar ek weet almal wonder maar oor hierdie dinge – of dalk hoop ek net so.

Het mense nog altyd hierdie vrae gevra? En ek praat nie nou van Griekse leermeesters en Romeinse skrywers en Confucius en die Boeddha nie. Ek praat van die kleinboere en herbergiers en markvroue en diensmeisies en matrose en soldate van ’n paar eeue gelede. Het hulle die antwoorde geken op belangrike lewensvrae? Het hulle daaroor gewonder? Wat van mynwerkers vandag, en moeders met krullers in hulle hare en ’n baba op die heup, en straatveërs, onderwyseresse, ambagsmanne, advokate en ingenieurs, en professionele tennisspelers en hul afrigters.

Wanneer ernstige vrae ons uitdaag, hoeveel van ons is gereed om ’n antwoord te resiteer waarin ons werklik glo?

______________________