Oorspronklike begin van die SLOTHOOFSTUK

MAANDAG 26 APRIL 2004

[Ek het op hierdie Maandag aan die einde van April 2004 ’n elektroniese dokument met teks begin vul wat uiteindelik die SLOTHOOFSTUK sou word. Die volgende paragrawe – wat ’n ou tema aanraak – was dus die oorspronklike begin van wat ek gereken het die laaste stuk sal wees van die “Persoonlike Agenda” projek.]

Die idee van “ballingskap” is steeds ’n bruikbare konsep om te verduidelik – aan myself, meer as aan enige leser van hierdie teks – wat ek die afgelope tien jaar van my lewe gedoen het.

Ek het onlangs gereken dat my ballingskap in werklikheid begin het toe ek teruggekeer het van ’n vyf-week besoek aan Europa in 1995. Van die dag wat ek weer my voete op Republiek grond gesit het, het ek myself soms onbewustelik, en soms doelbewus gedistansieer van die wêreld om my – ’n geval van, “Ek is nie regtig hier nie. Ek is eintlik op pad êrens heen …”

In 1995 het ek besef dat die tyd wat ek vir jare al gevrees het, aangebreek het. Ek moes begin om meer geld te maak as wat ek verdien het met deeltydse werk as ’n student, want ek moes die post-universiteit wêreld van verantwoordelike volwassenes betree. Ek het ook geweet my stryd was elementêr: dit was óf geld verdien, óf boemelaarskap.

Om alles ’n bietjie te kompliseer, het ek ook gely onder die ietwat verwaande oortuiging dat ek “spesiaal” is, dat om “net” ’n konvensionele lewe na te streef sal beteken dat ek die eintlike doel van my lewe sal mis.

Twee jaar in Korea en meer as vyf jaar in Taiwan was hoe ek probeer het om verantwoordelik te wees sonder om vasgevang te word in die “rat race” – of dan, my eie oorvereenvoudigde beskouing daarvan, en terselfdertyd te poog om uit te sorteer presies wat die doel en sin van my lewe is, of veronderstel is om te wees.

Dit was ’n lang reis; nie so lank of moeilik soos ons voormalige legendariese president s’n nie, maar lank genoeg in my eie boek – by wyse van spreke.

Wat is hierdie boek waarvoor jy, die leser, soveel ure se vermaak opoffer? Is dit die moeite werd om te lees van my soeke na identiteit? Is dit interessant om te lees oor planne wat vir geen persoon buite my intieme binnekring van enige waarde is nie?

Hierdie boek is uiteindelik ’n klein venstertjie op die lewe van net nog ’n mens-dier, in meer opsigte soos jy as wat jy dalk bereid is om te erken in helder daglig. Dit is ’n storie wat handel oor één persoon se soeke na identiteit, na sy plek in die wêreld, en na wat vir hom belangrik is.

As ek nooit hierdie boek geskryf het nie, sou die wêreld heel moontlik dieselfde daarna uitgesien het as nou. Geen aardskuddende ontdekkings is gemaak nie. Geen bisarre staaltjies is vertel wat dalk vermaaklik kon wees nie. In bleker oomblikke kan mens selfs sover gaan om te sê dat hierdie hele literêre projek ’n mors van tyd was – in die Groter Beskouing van Dinge.

Die waarheid is egter dat ons daaglikse bestaan soms ver verwyderd voel van die Groter Beskouing van Dinge. Ons leef in die wêreld van vrot melk en kinders wat skree en vals musiek. Ons leef in ’n wêreld waar misdadigers wegkom met hulle kriminele dade, waar mense noukeurig bou aan kaarthuise wat deur ’n kil windjie omgewaai word die oomblik as hulle anderkant toe kyk om te sien hoe die son ondergaan. Dit is in hierdie wêreld waarin ek die afgelope tien jaar gesit en skryf het, en dit is in hierdie wêreld waar ek my heil moet vind.

Is my boek dus belangrik? Ja, want ék dink dis belangrik.

Dink jý hierdie boek is belangrik? Omdat ek nie my brood moet botter met geld wat ek verdien uit hierdie materiaal nie, kan ek eerlikwaar sê dat dit nie saak maak wat enige iemand daarvan dink nie. Dit is geskryf. Dit kan gelees word. Dis belangriker as ’n Koreaanse resepteboek in die gemiddelde Suid-Afrikaanse kombuis, maar minder belangrik as die Bybel. As enige iets waarde kan hê afhangende van die persoon of die situasie, dan kan enige iets wat enige iemand skryf oor sy of haar eie lewe, waarde hê.

So is dit dan ook met hierdie literêre projek.

Ek sit wel aan die einde met nuwe vrae, wat ek [aanvanklik] gereken het ek nie gaan vermeld in hierdie laaste hoofstuk nie [maar wat sover reeds genoem is in enkele aantekeninge]. Die vrae sluit aan by van die vraagstukke wat ek gedink het ek vir myself opgelos het deur die jare, maar wat teruggesluip het in die middel van die nag met skrikwekkende nuwe formulerings.

Hoe, om een voorbeeld te noem, definieer ’n mens die “self”? “Vind” jy jouself, of besluit jy wie jy wil wees, en word dit dan?

Hoe definieer ek konsepte soos “huis” en “plek” wat so gereeld gebruik is in hierdie bladsye, en wat mens altyd veronderstel almal op dieselfde wyse verstaan?

En nou dat ons op hierdie punt is, wat moet mens maak met die idee dat die raamwerk en beperkinge van taal van allergrootste belang is in filosofiese vraagstukke? Beteken dit “ek” is veel meer ’n produk van my kulturele herkoms, en veel meer afhanklik van veral die Afrikaanse en Engelse taalgemeenskappe as wat ek voorheen vermoed het? Sekerlik kan mens ’n bewussyn hê van die “self” sonder taal, dan nie? Maar kan ’n mens uitdrukking gee aan jou selfbewussyn as jy nooit ’n taal bemeester het nie, as jy nooit deel was van ’n gemeenskap wat ooreenkom oor die betekenis van die klanke waaruit ’n taal bestaan nie?

Wat is die mens dan, anders as ’n hoogs ontwikkelde soogdier?

En hoekom, terloops, is dit so belangrik om meer te wees as net nog ’n soogdier? Ek meen, eerder ’n soogdier as ’n reptiel, reg? Of is ek snobisties?

______________________

Ek besit sewe onderbroeke …

SONDAG 25 APRIL 2004

Stelling: Ek het ’n plek, ’n huis nodig gehad ten einde te kon weet wie ek is.

Vermoede: Miskien het mens ook besittings nodig om te kan sê wie jy is – soos ’n versameling van amper 200 flieks wat sê, “Ek hou van movies,” of wat bevestig wat jy beweer jy is, of waarvan jy hou.

Vraag: Is die ideaal om sonder plek, en sonder besittings te kan sê, en te weet wie jy is?

Opvolgvraag: Wat anders definieer identiteit? Verhoudings, waarmee jy jou tyd verwyl elke dag, wat jy doen vir geld, waaraan jy glo, waaroor jy meeste van die tyd gesprekke voer …

Bogenoemde lei tot ’n interessante vraag: As jy geen tuiste het nie, geen besittings nie, geen vriende of familie nie, as jy nie veel doen terwyl jy wakker is nie, niks doen om geld te maak nie, jy’t geen godsdienstige oortuigings nie, as jy nooit enige gesprekke voer of reageer op iemand anders se spraak nie, wie is jy dan? Wat is jy?

As jy jouself bevind in ’n stedelike omgewing, jy oor geen kapitaal beskik nie, geen huisvesting van jou eie het nie, geen inkomste verdien nie, en daagliks net genoeg doen om fisies aan die lewe te bly, kom dit in die praktyk daarop neer dat jy uit asdromme eet (wat beteken jy’s ’n “boemelaar”), of kos bedel (’n “bedelaar”), en dat jy elke nag slaap waar jy naastenby beskerm is teen die elemente (weereens ’n “boemelaar”).

Dus, as jy nie ’n tuiste het nie, geen besittings het nie, geen verhoudings met enige iemand het nie, aan niks glo nie, as jy slegs ’n bietjie moeite doen een of twee keer per dag om ’n paar eetbare stukkies oorskiet en ’n bietjie vloeistof te vind voor jy weer gaan lê op enige plek waar jy jou lyf kan uitstrek, niks doen vir geld nie, en nooit praat of reageer as iemand met jou praat nie, word jou identiteit noodwendig gedefinieer deur al bogenoemde, en die gemeenskap neem dit dan op hulself om jou te definieer as sulks.

In meeste gevalle sal die eindresultaat wees dat jy ’n “boemelaar” genoem sal word, en so aanvaar sal word in en deur die gemeenskap. Omdat jy dus misluk het daarin om jouself op ’n soortgelyke wyse te definieer as hoe meeste ander mense hulself definieer – naamlik, om jouself in bekende kategorieë te plaas en deur elemente van identiteit te gebruik wat bekend is aan meeste mense in die gemeenskap, sal jy geplaas word op die laagste trappie van die sosiale hiërargie.

Kan mens dan anders as om af te lei dat woning, besittings, verhoudings, oortuigings, aktiwiteite (kreatief en andersins), en woorde en reaksies noodsaaklik is vir ons om te kan wéét wie en wat ons is, en om onsself op verstaanbare wyse te kan “aanbied” aan die Gemeenskap?

Wie is ek dan? Kom ons kyk: In terme van aardse besittings, is ek die trotse eienaar van sewe onderbroeke, twee langbroeke, ’n paar hemde en ’n paar tekkies, ’n paar meubelstukke, ’n rekenaar, ’n notaboek en vyf penne (twee bloues, twee rooies en ’n swarte); ek woon in my sitkamer; ek droom van ’n verhouding met Marilyn Monroe se Taiwannese niggie; ek koester geen geloof in dogmatiese religie nie; ek skryf boeke wat nooit geld sal maak nie; ek reageer net as iemand nonsens praat, en sê andersins nie veel nie …

______________________

Insigte uit twee films

SATERDAG 24 APRIL 2004

Insigte uit Fight Club

[Fight Club is ’n 1999-movie met Brad Pitt en Edward Norton waarin hulle/hy ’n “fight club” begin, waar mans – soos die gesegde gaan – weer mans kan word. Uiteindelik ontwikkel die fight clubs tot ’n stedelike terreurorganisasie wat chaos saai, en onder andere die kredietkaart maatskappye se hoofkantore opblaas.]

Handige opmerking oor identiteit: “I flipped through catalogues, deciding which dinner table would best define who I want to be …”

Sê Brad Pitt se karakter, Tyler Durden: “I say ‘never be complete!’ I say ‘Stop being perfect!’ I say ‘let’s evolve, let the chips fall where they may!’”

Opmerking: To do so (to throw your hands in the air and “letting go”) would inevitably affect how the “chips” would fall. You thus still manipulate the outcome of your “evolution”.

Altyd ’n goeie een: “… working jobs we hate, so we can buy shit we don’t need. We’re the middle children of history – no purpose or place, no great war or depression. Our Great War is a spiritual war. Our Great Depression is our lives.”

En ’n goeie vraag (miskien spesifiek vir mans, maar dieselfde kan gevra word oor ’n goeie redenasie met ’n tweede party): “How much can you know about yourself if you’ve never been in a fight?”

Die punt, aanvanklik, was dat deelname aan vuisgevegte, wen of verloor, aan die mans selfrespek gegee het. Dit was hoekom, toe ’n groterige ou in die bus klim en die twee hoofkarakters stamp in die verbystap – doelbewus, en met ’n houding dat hy nie ’n duit omgee nie, hulle nie gereageer het nie, omdat dit nie hulle selfrespek skade aangedoen het nie.

“Tyler Durden” was ook gerespekteer deur die ander mans, nie omdat hy die beste fighter was nie (almal het verloor van tyd tot tyd), maar omdat hy fisieke pyn kon verduur, en nie fisieke konflik gevrees het nie.

Tog, om nie fisieke konflik te vrees nie, kan tog godsonmoontlik nie die enigste standaard wees vir manlikheid nie?! Hoekom is dit egter steeds so belangrik? (En ek vra dit met heelhartige erkenning dat ek nie groepeer onder dié wat kwyl van afwagting vir ’n goeie vuisgeveg nie.)

Dis steeds belangrik omdat, a) ons steeds nie te ver van ons primitiewe genetiese voorsate af is nie, en/of b) vrees vir fisieke konflik dui op iets anders, naamlik vrees vir pyn, en die eindresultaat van ondraaglike pyn, die dood.

Weet egter dat jy sal sterf … maar ons hou tog vas aan die lewe vir so lank as moontlik.

Vrees vir fisieke konflik ondermyn uiteindelik ’n man se beeld as een wat kan beskerm. Dit dui ook op ’n vrees vir verleentheid, waarop onvermoë om homself te kan handhaaf tydens fisieke konflik, sal uitloop. Dit sal ook die man ontbloot, as’t ware, as die magtelose figuur wat hy heel moontlik reken hy is.

Insigte uit Altered States

[Altered States is ’n 1980 wetenskapfiksie film waarin die hoofkarakter, vertolk deur William Hurt, gebruik maak van verskeie metodes om terug te keer na sy oorspronklike genetiese vorm. In die proses was hy ook vir een nag ’n aap-mens. Die eerste aanhaling verwys na die betrokke aand.]

“I was utterly primal. I consisted of nothing more than the will to survive, to live through the night, to eat, to drink, to sleep. It was the most supremely satisfying time of my life.”

[Die tweede aanhaling kom uit die einde, nadat hy geslaag het daarin om sy oer-vorm te bereik.]

“I was in that ultimate moment of terror that is the beginning of life. It is nothing – simple, hideous nothing. The final truth of all things is that there is no final truth. Truth is transitory. It is human life that is real.”

______________________

Tentflappe – nuwe geloof/nuwe identiteit

VRYDAG 23 APRIL 2004

Slaan die tentflappe vas

Ek is lus vir mense, en ek is lus vir alleen wees. Ek voel sterk, en ek voel swak. Dit voel asof ek op pad is, maar ek weet nie presies waarheen nie. Vyf tot twintig jaar van handhaaf en hou. Bang vir pleb wees, bang om oud te raak. Bang ek raak een oggend alleen wakker in ’n woonstel in Suid-Afrika en ek is 37. So nie werk dinge hier uit en ek is uiteindelik 37 en gelukkig in Taiwan. Stry die stryd waar dit saak maak. “Kom terug!” Takkies na finale omhelsings. “Volgende jaar, rêrig!” Taiwan vir geen spesiale rede nie, die plek is orraait. Wees wie jy is, of wie jy geword het, waar dit saak sal maak. Geld en vrouens. Los my uit, hou my vas. Meer antwoorde as vrae, as ek net die antwoorde kan onthou. Jobs, projekte, geloofwaardigheid. Antieke kassies en ou tafels. Taai sweet, winter, braaivleis, somer, flieks. Saterdagmiddae saam met vriende en familie. Boek royalties, seks, girlfriends, huwelik, alleen oud word, mal raak, hande vashou, pieknieks, gedigte, gesondheidsredes, ou woonstelle, nuwe huise, karre, fietse, arm digters, dinge wat uitwerk, dinge wat nie uitwerk nie, vraagstukke, probleme, issues, sosiale aanvaarding, skaamheid, verskansings, vriendskappe, sigarette, e-mail, bokse, geld. O ja, en rewolusies, burgeroorlog, en swaar artillerie.

SATERDAG 24 APRIL 2004

Nuwe geloof/Nuwe identiteit

Bekering tot ’n spesifieke religie impliseer altyd ’n transformasie van identiteit.

Vraag: As ’n persoon homself bekeer tot ’n spesifieke religie, impliseer dit noodwendig dat hy nie gelukkig was met wie hy was tot op daai stadium nie? Hoeveel het dit te make met geloof, of ’n partikulêre “waarheid”, en hoeveel met die menslike behoefte om veilig te voel deur middel van identiteit – indien nie altyd in die onmiddellike omgewing nie, soos byvoorbeeld Christene in sekere areas van Pakistan, maar “veilig” in die Groter Geheel?

[Ekstra gedagte: Elke persoon se bekering, en gepaardgaande aansluiting by ’n spesifieke gemeenskap van gelowiges, bevestig die “waarhede” van daai religie. Hoekom? Want nog een het dit oorweeg, en bevestig met sy bekering. Dit maak die “waarhede” van ’n spesifieke religie derhalwe nog meer geldig vir dié wat dit aanhang, ongeag watter religie dit is, en ongeag die spesifieke dogma wat gepredik word.]

______________________

Stellings, vraag en antwoord – Omgewing Z

DINSDAG 13 APRIL 2004

Stelling 1: Vele mense raak na jare bewus van die feit dat “the odds are loaded against them”, en selfs al draai dinge oukei uit vir hulle, is daar massas ander vir wie dit nooit goed sal uitdraai nie. Die mens is ook bewus van sy bogemiddelde intelligensie onder die diereryk – wat onder andere beteken dat hy weet hoe om sy eie lewe te beëindig. Redes hoekom hy dit nie doen nie sluit in gebrek aan durf om voor ’n trein in te spring, besorgdheid oor geliefdes, of selfs vae idees oor wat met sy “siel” kan gebeur. Maatreëls word getref om “dinge die moeite werd te maak” …

Stelling 2: Om te beweer dat goeie dinge nie met mens kan gebeur nie, is eenvoudig nie waar nie.

Vraag … Hoeveel premie moet mens plaas op jou ideale visie van hoe dinge moet wees, jou ideale plek en omgewing, en jou ideale rol in die samelewing? Hoeveel premie moet mens plaas op dinge wat “altyd moontlik is”, as die feit dat dit nie in die proses is om gerealiseer te word nie, jou daagliks meer neerdrukkend maak? Of is dit die “duiwel” wat kleingelowigheid in my oor fluister? (13:16)

En antwoord: Hoekom het mens hierdie “ideale” visies? Miskien omdat jou huidige situasie nie jou behoeftes bevredig nie?! Miskien omdat die langtermyn volhoubaarheid van jou huidige lewe alte moontlik, en alte verskriklik is?! (13:20)

WOENSDAG 14 APRIL 2004

Is dit ek, of is dit Omgewing Z?

Sosiale identiteit is belangriker as wat ek soms wil toegee. In die lig hiervan is dit toepaslik om te noem dat ek nie te gemaklik is in tipiese “male bonding” scenario’s nie; ek is nie veel van ’n “man’s man” nie.

Pla dit my? Nee, ek noem dit maar net omdat ek daaraan gedink het, en ek wou dit net erken.

Ook belangrik is dat as mens hierdie tipe situasie nie reg hanteer nie, dit kan lei tot ’n gebrek aan selfvertroue en ’n verlaagde selfbeeld in die tipe omgewing waar dit wel die norm, of die hoof kriterium vir agting en respek is.

* * *

Dit kan ook op ’n breër terrein toegepas word. Persoonlikheidsaspek X is dalk nie een wat jou definieer nie, of waarmee jy jouself kan assosieer nie, maar hierdie einste persoonlikheidsaspek is dalk ’n belangrike norm vir respek in Omgewing Z. Omdat jy nie beskik oor ’n voldoende graad van X nie, word jy nie noodwendig gerespekteer in daardie omgewing nie. Dit word dan deel van jou gewaarwording van jouself in Omgewing Z, en mag moontlik lei tot verlaagde selfrespek.

Die geheim? In Omgewing Q word jy dalk gerespekteer vir presies die afwesigheid van Persoonlikheidsaspek X. Daar is dus heel moontlik nie inherent iets verkeerd met jou nie, net met jou in ’n bepaalde omgewing.

______________________