Vrye en onvrye verskynings

DONDERDAG 2 DESEMBER 2004

As mens te veel gebuk gaan onder voorskrifte van wat jy mag sê en wat nie, wáár jy sekere dinge mag sê en waar nie, hoe jy dinge sê en hoe nie, en as jy gebuk gaan onder die voorskrifte oor watter woordeskat jy mag uiter en watter nie, is jou spraak – die primêre wyse waarop meeste mense uiting gee aan hulle werklikheidservaring – nie vry nie. Indien jy nie vryelik uiting kan gee aan jou werklikheidservaring nie, of dit slegs doen op wyses wat aan jou voorgeskryf word, is jy nie vry nie. En siende dat die wyse hoe jy uitdrukking gee aan jou ervaring van die werklikheid tot ’n groot mate bepaal hoe jy verskyn aan die wêreld, word dit uiteindelik deel van WIE JY IS. Wie jy is, is dan tot ’n betekenisvolle graad die resultaat van onvrye selfuitdrukking. Wie jy is, is dan ’n resultaat goedgekeur volgens die voorskrifte van ’n spesifieke tyd en plek.

VRYDAG 3 DESEMBER 2004

“Betrap jy my nou tydens ’n anonieme verskyning. Nou moet ek skielik weer iemand wees!” sê “Brand” aan sy vriend [O.] toe laasgenoemde hom uit die bloute konfronteer waar hy ’n sigaret staan en rook buite ’n 7-Eleven.

______________________

ERKENNING & VERSKYNING

[Die leser mag dalk wonder wat die doel is van die enkele notas oor middagetes en Saterdagaandbraais waar dieselfde misterieuse jong vrou toevallig elke keer teenwoordig is. Behalwe dat ek hoop om die teks bietjie op te kikker met die idee dat ek nie ’n vleeslose skim is wat heeldag agter sy rekenaar of notaboek deurbring nie, is hierdie stukkies teks onlosmaaklik verweef met die meer intellektuele aangeleentheid van … ERKENNING en VERSKYNING.]

———–

DINSDAG 30 NOVEMBER 2004

Nota I: Die SKRYWER se klagte

Ek is in ’n situasie waar ek twee 25-jarige dames bevriend het, met die oog op romantiese avonture met een van die twee. My klagte is dat ek glo ek verskyn nie soos ek graag wil verskyn nie.

As wie en wat sal ek wil verskyn? As … (tromgeroffel) … die Skrywer.

WOENSDAG 1 DESEMBER 2004

Nota II: Die insig tref

02:40

Solank ek “ongepubliseerd” is, kan ek nie erkenning kry vir die belangrikste werk wat ek gedoen het die afgelope tien jaar nie, en kan ek derhalwe nie verskyn aan ander (lees: ’n vrou tot wie ek aangetrokke is) soos ek myself sien nie.

08:32

In ander woorde, ongepubliseerd beteken geen erkenning, beteken onakkurate of gebrekkige verskyning.

DONDERDAG 2 DESEMBER 2004

Nota III: Die insig tref met groter impak

“It’s so simple only a genius could have thought of it,” het Einstein van Jean Piaget gesê. Wat is so eenvoudig in my geval? Die konneksie tussen ERKENNING en VERSKYNING!

Ek kan nie glo ek het dit nie vroeër al opgelet nie! Dit spreek ook boekdele dat erkenning iets was wat ek met suspisie bejeën het, want dit sê “behoefte” en “ander mense” en doen dinge sodat mense X, Y, of Z moet dink van jou.

Tog, as jy nie erkenning kry vir jou belangrikste werk nie, kan jy nie verskyn soos jy jouself sien nie. Dis so eenvoudig dat mens onnosel moet wees om dit nie te begryp nie! (En ek is bekend daarvoor dat ek op die beste van tye ’n bietjie stadig kan wees …)

Die vraag wat noodwendig dan by jou opkom, is waarvoor wil jy erkenning ontvang?

______________________

Om neer te sien op die kinders: ’n tirade

MAANDAG 29 NOVEMBER 2004

Daar’s lede van verskillende groepe mense wat neersien op die sogenaamde massas. Daar’s dié in posisies van politieke mag wat die massas sien as “kinders” waarvoor die politieke leier, as “ouer”, verantwoordelikheid aanvaar. Dan’s daar sommige geleerde mense wat neersien op die massas as meestal onkundig oor sake wat nie hul daaglikse bestaan raak nie. In die derde geval is daar sommige ryk mense, wat die massas sien as kleinburgers wat hul klein lewens leef in onkunde van hoe goed die lewe kan wees – mits hulle slim genoeg of gelukkig genoeg kan wees om uit hul klein wêreldjies te breek.

Daar is sekerlik baie mense wat ’n probleem het met snobistiese individue, of enige iemand wat neersien op sy of haar medemens, wat ook al die motivering. Ek glo elke geval moet op sy eie meriete beoordeel word.

Daar is wel een geval waar minagting baie glad en amper outomaties uit my mond gly, en dit is vir die volwasse kinders van sommige ryk mense, en vir die volwasse kinders van sommige politici. Van hierdie individue het niks, absoluut fokkol, gedoen om hulle posisies in die samelewing te verdien. Hulle sien neer op die massas wat struggle van dag tot dag, en verwag om gerespekteer te word deur die diensknegte en diensmaagde wat agter hulle skoonmaak en hulle hoflik bedien van borde vol uitsoekkos … waarvan hulle nie een grieseltjie verdien het nie!

Hulle sien neer op mense laer af op die sosio-ekonomiese skaal, en het die verwaandheid om te verwag om gerespekteer te word deur hierdie mense. Tog het hulle fokkol gedoen om hulle eie status te verdien!

Ek het niks meer as minagting vir hierdie mense nie. Die politikus wat neersien op die algemene publiek … is ’n onderwerp vir ’n ander stuk teks. Die intellektueel wat na jare se studie kennis en begrip opgedoen het wat hom of haar onderskei van die sogenaamde massas, is in ’n meer regverdigbare posisie. En ek kan selfs van die ryk man of vrou sê wat hul eie geld gemaak het, dat hulle moontlik jare lank gewerk het om te kom waar hulle is, selfs al was geluk heel waarskynlik ook aan hulle kant.

Maar die ryk man en vrou se kinders? Die politikus se volwasse kinders?! Ek sê as hulle gerespekteer wil word, moet hulle werk vir respek!

______________________

Verleë verskynings – “knocks” in jou programmering

DINSDAG 16 NOVEMBER 2004

Verleë verskynings

Ek het vandag by [die skool vir volwassenes] effens verleë gevoel oor hoe ek verskyn het. Dit het alles te make gehad met my uiterlike voorkoms: ou, voos belt, en ’n kakkerige ou kortmouhemp.

Ook hierdie saak kan beredeneer word tot jou belt uiteindelik van jou middellyf afvrot, maar ’n elementêre waarheid bly staan: indien jy, om watter oppervlakkige rede ook al, verleë is oor hoe jy verskyn, vat dit net daai edge van jou selfvertroue af. Die teenoorgestelde is ook waar: as jy goed voel, om watter oppervlakkige rede ook al, oor jou uiterlike voorkoms, dan gee dit jou net daai ekstra boost in selfvertroue.

In ag genome hierdie besonderse insig, wat staan my te doen? Ek moet môre vir my ’n nuwe belt gaan koop; ek moet gaan kyk na ’n paar hemde, en ek moet die knoop vaswerk aan my groen broek.

VRYDAG 26 NOVEMBER 2004

Om die “knocks” in jou programmering te aanvaar, of nie

Die lewenservarings wat aan jou sielkundige “knocks” gee, maak deel uit van jou “programmering” wat bepaal hoe jy funksioneer as ’n volwassene. So het sekere ervarings in my verlede gemaak dat ek ’n patologiese onwilligheid het om vir karakters te werk wat bevele op my skree. Ek weet waar hierdie onwilligheid vandaan kom, en ek klassifiseer dit beslis as ’n “knock”. Dit dra ook by tot die partikulêre programmering van hoe “Brand Smit” funksioneer.

Nou vir die werklike interessante punt: hierdie sogenaamde programmering kan deur terapie verander word.

Wat beteken dit? Dit beteken ek kan ’n sielkundige gaan sien, en na ’n paar maande se “harde werk” sal ek heel waarskynlik ’n vaste betrekking kan aanvaar in ’n korporatiewe omgewing waar ’n poepol wat nie my respek waardig is nie, op my kan gil, en dit behoort my nie te pla nie.

______________________

Nooit te vroeg vir ketterse gedagtes nie

VRYDAG 26 NOVEMBER 2004

08:28

Die probleem met godsdiens as identiteitsbepaler is dat dit konstant moet bly om geloofwaardigheid te behou vir die mense aan wie dit ’n religieuse identiteit verleen. Maar om betekenisvol te bly as bepaler van identiteit, moet die bron van religieuse simbole (religieuse teks, instellings soos “kerk”) soms verander – bietjie vir bietjie, maar steeds tot so ’n mate dat die bron vandag fundamenteel verskil van die bron van 500 of 1,000 jaar gelede.

Wat gebeur dan wanneer iemand wat ’n spesifieke godsdiens benut vir identiteitsdoeleindes kennis en kritiese begrip bekom van hierdie fundamentele verandering? Een moontlikheid is dat so ’n persoon ’n toestand sal ontwikkel wat genoem kan word, ’n geloofskrisis.

* * *

Siende dat ek sopas opgestaan het en nog nie eens ontbyt geëet het nie, mag mens dalk wonder of dit nie ’n bietjie vroeg is vir gedagtes soos bogenoemde nie. My antwoord is, blykbaar nie – nie as mens die gedagte, formulering en al, gedink het in jou laaste droom nie!

Die droomtoneel het afgespeel aan ’n etenstafel saam met mense saam met wie ek stedelike sendingwerk gedoen het meer as ’n dekade gelede, en ook ander tydgenote van hoërskool. Terwyl ons geëet het – in die eetkamer van die vroeg twintigste-eeuse herehuis wat die hoofkwartier van die organisasie was, was daar ’n helse party aan die gang in die voortuin. Soos ek toe hap aan nog ’n heerlike dis op my bord, kom die gedagte …

08:39

Mense met wie ek in daai tyd baie noue verhoudings gehad het, mag dalk sê dat ek my religieuse identiteit verloën het. Ek is van mening dat ek my religieuse identiteit ontgroei het.

Iemand mag dalk verder gaan en met kalm oortuiging sê dat mens nie die waarheid kan ontgroei nie. Ek sal, ewe kalm, reageer: “Ek is steeds toegewyd daaraan om die waarheid te ken. En ek het nie ’n institusie-gedefinieerde identiteit nodig om die waarheid te ken, of na te streef nie.”

———–

[In vele gevalle sal leiers van religieuse bewegings aanspraak maak daarop dat hulle niks verander aan hul religie nie, hulle draai bloot terug na ’n vroeër, suiwerder vorm daarvan. Hierdie verduideliking verseker dat die religie geloofwaardigheid behou as identiteitsbepaler, en dit regverdig ook die veranderinge wat hulle aanbring aan die praktiese uitdrukking van lidmaatskap aan die religie, of dalk selfs aspekte van die teologie, juis om dit toepaslik te hou vir mense met ander religieuse behoeftes as wat mense gehad het 500 of 1,000 jaar gelede.]

______________________