Verskynings, persente wat ’n agenda dien, en enkele ander gedagtes

[Die idee om te verskyn aan ’n sekere jong vrou soos ek myself sien het my genoop om op te kom met ’n plan om van my geskrewe materiaal te sirkuleer aan enkele mense op ’n geleentheid waar ek geweet het sy teenwoordig sal wees. Die geleentheid wat hierdie doel die beste sou dien, was die Kersete by ’n vriendin se huis.

Ek het teen hierdie tyd geweet dat die betrokke dame reeds vroeg op Kersoggend by die gasvrou se woonstel sal wees om te help met voorbereidings. Ek het aangebied om hulle deur die loop van die oggend te voorsien van vars gemorskos.

Die bose plan wat ek reeds die vorige week bedink het, was om saam met die Kentucky Fried Chicken en heerlike Portugese eiertertjies aan elkeen van die dames ’n netjiese pakkie gebinde papiere in die hande te stop as “iets om te lees as julle verveeld raak”. Ek sou dan geduldig wag op ’n reaksie – wetende dat dit negatief kon wees. (Ek het vermoed dat ek ’n geselsie sou kon aanknoop oor die materiaal teen die Nuwejaarspaartie ’n week later.)

Die aanvanklike plan was om uittreksels uit al drie volumes van “Die Persoonlike Agenda” saam te stel. Hierdie proses is begin op Woensdag 15 Desember, met hersiening en verbeterings wat teen koorsagtige spoed aangebring is.

Teen Vrydag 24 Desember het ek egter my arms in die rigting van die plafon gegooi, en om 01:45 in my notaboek noteer: Kompromie – verskyn as die skrywer van … uittreksels uit die SLOTHOOFSTUK.

En so het dit gekom dat drie vrouens op Kersoggend 2004 elkeen ’n Kentucky Zinger, ’n vars tertjie, en ’n vars gedrukte kopie van “Uittreksels uit die SLOTHOOFSTUK” (met inhoudsopgawes van die drie volumes) as proviand vir die dag ontvang het.

Die hersieningsproses het, soos gewoonlik, tot nuwe insigte gelei.]

DONDERDAG 23 DESEMBER 2004

17:44

Ek lees weer deur ou materiaal. Twee dinge is baie duidelik:

1. Ek was die ellendigste die afgelope meer as tien jaar op tye wat ek nie geskryf het nie, en die gelukkigste op tye wat ek wel geskryf het.

2. Tye wat ek moes verskyn in sosiale gedaante, was tye van intense selfondersoek en onsekerheid oor wie en wat ek is, en as wie en wat ek verskyn aan die gemeenskap.

20:47

Jy kan nie verskyn as ’n skrywer as jy nie ’n boek in jou hand het, of op ’n openbare boekrak nie. Boek op die rekenaar? Nie goed genoeg nie. Uitgedrukte manuskrip op jou lessenaar? Nie goed genoeg nie …

______________________

Kort reis – prosesse – frases – keuses

SONDAG 19 DESEMBER 2004

Klein ontdekking na ’n kort reis

Ek het weer die waarde ontdek van musiek op ’n trein, en in openbare verskyning. Het Offspring geluister op pad terug van Tainan na Kaohsiung, en toe AC/DC begin luister op Kaohsiungstasie. Laasgenoemde (snit een op die Ballbreaker album) het my gevul met soveel passie dat ek bereid was om ou tannies uit die pad te stamp om by die kaartjiemasjien te kom. Twee jong dames op die trein na Fengshan kon ook nie help om onder hulle wimpers na my te loer nie, en toe ek met dieselfde passie verskyn op Fengshanstasie, het ’n groep jong bendelede my amper aangeval omdat hulle die bedreiging in my oë gesien het.

[Dit laat my wonder: wat kan mens alles doen om jou gemoedstoestand te manipuleer, en spesifiek op so ’n wyse dat dit bevorderlik is vir konstruktiewe resultate?]

WOENSDAG 22 DESEMBER 2004

Die prosesse wat bevorderlik is

Om Taiwan toe te kom, baie tyd op my eie te spandeer, te dink oor dinge en te skryf, was bevorderlik vir my om te formuleer wat my gegewe is, te definieer wat ek wil wees en ’n rol te kies wat toepaslik is vir my.

Vir ’n ander persoon is ouerskap, om ’n kind van hul eie te hê, bevorderlik vir soortgelyke resultate – of indien dan nie soortgelyk nie, miskien goed genoeg vir die persoon om ’n bestaanstoestand te bewerkstellig wat ek sal herken as soortgelyk aan die stand van my eie lewe.

Oor frases en keuses

“Om jouself te vind” ~ die konvensionele frase

“Om wat aan jou gegee is, te konfronteer; om binne die raamwerk van wat aan jou gegee is, asook partikulêre tyd en plek en behoeftes van die gemeenskap te definieer wie jy wil wees; om te besluit watse rol die toepaslikste is vir jou in ag genome al bogenoemde, en dan aksies te neem om hierdie wie-en-wat te word” ~ my woordkeuse

______________________

Drie oranje gedagtes

SONDAG 19 DESEMBER 2004

I. Hoekom “gly” sommige Christene soms terug op die “ou pad”? Een moontlike rede is omdat hulle nie gemaklik is met hul nuwe religieuse identiteite nie – identiteite wat hulle nie self gedefinieer het nie, maar wat aan hulle voorgeskryf is. (Wat my ’n nuwe gedagte gee: gegewe, gekose, en voorgeskrewe?)

II. So nou en dan sien of hoor mens ’n verwysing na die spreekwoordelike “peasant”, en ek moet toegee, ek maak self gebruik van die etiket van tyd tot tyd. Watse definisie sal mens gee van hierdie persoonstipe? ’n “Peasant” is iemand wat nie bevraagteken wat aan hom of haar gegee is nie, wat hoofsaaklik eet, slaap, werk, naai, en tyd spandeer met ander “peasants”. Dis uit die aard van die saak, soos dit maar is met etikette, ’n simplistiese karikatuur, al is mens soms in die versoeking om dit te gebruik.

My probleem met die etiket is dat baie goeie mense met hierdie kwas geverf word – goedhartige, vrygewige mense. Ook dat die karikatuur blykbaar breinloos is. As hy nie is nie en hy nie besig is om te eet, te slaap, te werk, te naai, en tyd te spandeer met ander “peasants” nie en so nou en dan dink aan dinge, is hy steeds ’n “peasant”?

III. Daar word soms gepraat van mense wat “vol” is van hulleself. My vraag is, waarvan is hulle vol – van dit wat aan hulle gegee is, of van iets wat hulle self uitgerig het? Ook, wat is die teenoorgestelde daarvan om “vol” te wees van jouself?

______________________

Insigte op Vrydagoggend 17 Desember 2004, soos hulle gearriveer het

1) ’n Vrou stap uit by ’n tempelparafernaliawinkel. Ek sien sy’s swanger. Ek kyk na haar gesig en reken daar en dan sy lyk nie te “akademies” nie. Ek dink: een opsie vir ’n man wat sy eie idees het oor die lewe en wat nie gretig is om sy hoë waardes en beginsels af te water nie, is om af te haak met ’n vrou wat hy nie as sy gelyke beskou nie.

Die voorwaarde vir sukses in so ’n verhouding is dat hy welgesteld moet wees. Hy moet die “baas” wees in die tradisionele sin waar die man aan die hoof van die huishouding staan, en ook in die moderne sin waar die persoon met die geld die grootste sê het in hoe dinge gedoen word. Die vrou in dié geval hoef nie “haar plek te ken” soos die geval was in sommige gemeenskappe vyftig of honderd jaar gelede nie; sy hoef nie kaalvoet in die kombuis rond te staan heeldag nie; en as sy sê sy’t genoeg kinders gebaar, sal hierdie man dit so aanvaar. Maar hy sal die “baas” wees in die sin daarvan dat die huishouding oor die algemeen bestuur sal word volgens sy idees en opinies.

Die ander ekstreem – ter wille daarvan om by ’n meer ideale middel te kom – is presies die teenoorgestelde: ’n vrou wat hierdie man se intellektuele meerdere is, sy leermeester, sy voorsiener …

In die middel is ’n vrou wat hy as sy intellektuele gelyke sal beskou; ’n vrou met wie hy sinvolle redenasies kan voer, wat ewe veel verantwoordelikheid, en ewe veel gesag sal hê in die bestuur van hul huishouding; ’n vrou wie se persoonlike agenda en lewensuitkyk sal strook met sy eie; ’n vrou na wie se emosionele, fisiese en spirituele behoeftes hy kan omsien, net soos die vrou na syne sal omsien.

2) In die klas, ’n paar minute later, is ek besig om die Engelse name van ’n dosyn groente aan ’n groep vyfjariges te leer. Ek vra vir die een kind – ’n nuweling – iets in Chinees, en ek reken dat hy nie te verbaas lyk dat ek as Westerling, nie een van “sy mense” nie, Chinees kan praat nie. Dink ek verder, “[vervolg]”

* * *

Nuwe insig! Is daar iets soos “Tevrede Gegewe Self”? Ek glo dit is ’n kwessie van graad, op ’n spektrum wat strek van “absolute selfminagting, gevaar vir self en gemeenskap” tot “oortuig sy is ’n inkarnasie van een of meer gode”. (Interessant dat in beide gevalle die persoon ’n goeie kans staan om opgesluit te word in ’n inrigting.)

In die middel kry jy … sal ons maar sê, 99% van die volwasse mensdom? Die formule, Konfronteer (aanvaar, verander), Definieer, en Word is dus geldig vir meer as nege uit elke tien mense!

Vraag: Inligting, opsies en moontlikhede spruit steeds uit ’n partikulêre bron. Watter bron? Meestal die Gegewe Bron, en in die geval van ’n minderheid, uit Meer As Net Gegewe Bron.

Nog ’n vraag: Wat is jou Gegewe Bron?

Laaste vraag: Wat is gegewe? (Stel ’n lys op …)

* * *

(Terug na die vorige nota:)

Dink ek toe verder: Hierdie kind verwag heel moontlik dat alle volwassenes (ten minste) Chinees kan praat, want dit is sy gegewe taal, en hy’t sover nog geen rede gehad om die verskynsel van Chinees as Absolute Taal te bevraagteken nie.

Wanneer sal hy die absolute waarde van die Chinese taal bevraagteken? Wanneer hy gekonfronteer word met, of homself bevind in ’n omgewing waar ’n ander taal, soos Engels of Japannees of Spaans, deur meeste lede van die gemeenskap beskou word as dominant.

Dit is op hierdie oomblik, wanneer wat voorheen beskou was as absolute gegewe blootgelê word as nie die enigste moontlikheid nie, wat die vonke begin spat op die skrynwerkerstafel van identiteit.

[’n Ander voorbeeld wat genoem kan word, is dié van ’n jong persoon wat sy of haar vormingsjare in relatiewe isolasie deurgebring het, en wat nie net partikulêre taal nie, maar ook partikulêre religieuse verwysingsraamwerk as absoluut beskou het. Wat gebeur wanneer hierdie jong persoon skielik ’n betekenisvolle periode van tyd spandeer in ’n omgewing waar ’n ander taal, en ander religieuse simbole as standaard beskou word? Natuurlik hang dit af van persoonlikheid en persoonlike situasie, maar die waarskynlikheid is groot dat die persoon vrae sal begin vra aan mense wat hulle sal sien as gesagsfigure, en uiteindelik ’n ander identiteit sal ontwikkel as wat die geval sou wees indien hulle sou voortgaan om in relatiewe isolasie te leef.]

3) Volgende klas dink ek hoe sommige taalkundiges reken kinders moenie te vroeg ’n “vreemde” taal geleer word nie, soos in die geval van Engels in Taiwan.

Reken ek, as Engels van jongs af as ’n gegewe aangebied word veral by die huis – die belangrikste bron van gegewendheid, sal dit nie bevraagteken word nie, maar heelhartig geabsorbeer word saam met al die ander gegewe data.

Wonder ek toe watse data gee ouers – as primêre gewers van data – aan hul kinders, nie net in terme van taal nie, maar in terme van morele waardes, gedrag, en dan veral vir latere toepassing, moontlikhede vir ’n volwasse bestaan. Natuurlik sal ’n duisend stemme in ’n honderd verskillende tale opgaan wat almal verskillende antwoorde gee, of soortgelykes, met verskillende detail. My punt, egter, is dit: verander die gegewe, en jy beïnvloed fundamenteel die eindresultaat. (En weet ouers wat hulle gee?)

Ten einde reken ek, ek het nie al hierdie insiggewende brokkies data ontvang toe ek in die bed gelê het, of toe ek agter die rekenaar gesit het nie. Ek het dit gekry in klaskamers gevul met ’n klomp raserige kinders,  en ook buite in die straat op pad na die klaskamers.

Gevolgtrekking? Verskynings buite my woonstel dien ’n doel, en voorsien in vele gevalle stimulus vir nuwe beskouings en insigte.

____________________

Punt en die vrae – slordige proses

MAANDAG 13 DESEMBER 2004

11:26

Die punt is om vir iets te leef, sodat wanneer ons sterf, ons sal weet ons lewens was nie verniet nie.

11:36

Die vraag is dan, waarvoor leef jy?

Vele mense sal antwoord, “Ons leef vir ons kinders.”

Ek vra: Wat beteken dit? Jy leef vir jou kinders, hulle leef vir hulle kinders … op een of ander punt sal iemand moet leef vir iets anders, maak nie saak of hulle kinders van hulle eie het of nie.

Ek dink dis ondeurdag, selfs gevaarlik om te sê jy leef vir jou kinders. Dit voel reg. Jy’s regtig lief vir jou kinders, en jy sal regtig iemand se gesig pap slaan ter wille van jou kinders, so … dit kan mos net reg wees om te verklaar: “Ek leef vir my kinders! En vir my vrou … (of man).” Dan nie?

Nee! Dis iets wat edel en reg vóél – en lyk op papier, maar in werklikheid vervang die een geslag die ander met geen behoorlike begrip van die waarde of moontlike doel van hulle lewens nie, anders as, “Ek moet kinders kry.”

Hoor enige iemand anders die alarm weeklaag?

DONDERDAG 16 DESEMBER 2004

’n Ietwat slordige proses

KONFRONTEER (jouself)

… aanvaar (wat jy nie kan verander nie)

… verander (wat binne jou vermoëns is om te verander)

DEFINIEER (wie jy wil wees)

WORD (wie jy gedefinieer het jy wil wees)

Natuurlik volg die drie stappe nie netjies op mekaar nie. Jy’s besig om iets of iemand te WORD. Jy besef dis nie wat of wie jy wil word nie. Jy KONFRONTEER jouself … hoewel jy dit eintlik reeds gedoen het toe jy besef het jy wil nie wees wat jy besig was om te WORD nie. Jy was ook reeds onbewustelik besig om jouself te DEFINIEER toe jy besef het jy wil nie wees wie jy besig was om te WORD nie. Jy gaan voort met jou DEFINISIE terwyl jy jouself KONFRONTEER. En, omdat jou lewe nie vir een sekonde stilstaan nie, gaan jy gedurende hierdie hele KONFRONTEER en DEFINIEER proses voort om te WORD.

______________________