Opmerkings oor verkopers en sportwedders

DONDERDAG 30 JUNIE 2016

Op Maandag 12 November 2007 het ek twee gedagtes noteer oor geldmaak. Soos gewoonlik het ek nuwe insigte gekry toe ek vandag hierdie notas vertaal.

Hierdie stuk bevat die oorspronklike 2007-notas, en die kommentaar wat ek vandag bygewerk het.

Maandag 12 November 2007 

Alle Internet bemarking en e-boek verkope is afhanklik van een vaardigheid, een noodsaaklike element, naamlik om iemand te oortuig om iets te koop.

30/06/2016:

Hierdie gedagte blyk te verwys na die vaardigheid wat sommige mense het om ’n spreekwoordelike blok ys aan ’n bewoner van die Noordpool te verkoop. In werklikheid is dit die verkeerde manier om daarna te kyk. Die idee is dat jy iemand moet soek wat desperaat is vir daai blok ys, dan stel jy dit beskikbaar aan hom of haar teen ’n redelike prys; of jy merk op dat ’n sekere groep desperaat is vir gereelde aflewerings van blokke ys, en dan werk jy ’n manier uit om gereeld die ys aan hulle te voorsien, teen ’n koste wat meer as genoeg spasie laat vir wins. Geen bogemiddelde talent word vereis om die regte produk te verkoop aan die regte mark nie.

* * *

Maandag 12 November 2007

Wat is die verskil tussen sportwedders en finansiële handelaars wat meestal aan die verloor-kant staan aan die einde van die dag, en mense wat ’n bestaan maak daaruit?

Die verloorders het geen stelsel nie, of die benadering wat hulle volg is nie gebou op ’n goeie idee, of op betroubare statistiek nie. Mense wat wenners is op die langtermyn is ook geduldig. Hulle wag, tot ’n optimale geleentheid homself voordoen, en selfs dan waag hulle net ’n klein persentasie van hulle kapitaal.

Wat is hierdie geleenthede? Hoeveel kapitaal word benodig om te begin? Hoeveel van jou kapitaal moet jy op die spel plaas? Wat doen jy as ’n waagstuk goed vir jou eindig? Wat doen jy as jou waagstuk nie goed afloop nie?

Antwoorde op hierdie en ander vrae hang natuurlik af van waar jy jou berekende kanse waag. Om te weet wat jy moet doen, vereis ook deeglike navorsing, jy moet jouself voldoende tyd gee om ’n strategie uit te werk, en jy moet die dissipline aan die dag lê om nie af te wyk van jou plan die oomblik wat jy die eerste stukkie rowwe grondpad tref nie.

30/06/2016:

Ek het voorheen gedink die beroepswedder is ’n uiters bekwame voorspeller van sportresultate. Feit van die saak is, die persoon wat ’n bestaan maak met sportweddenskappe is iemand wat kyk na die redelike waarskynlikheid van ’n bepaalde uitslag en dan soek vir waarde in die beskikbare prys.

Een voorbeeld: As daar vyftig groen albasters en vyftig rooi albasters in ’n sak is, is die waarskynlikheid dat jy ’n groen albaster uit die sak sal trek, vyftig persent. As iemand jou ’n prys aanbied van R1.01 vir elke R1 wat jy wed, dink jy nie twee keer nie – jy plaas ’n weddenskap op, sê nou maar groen elke keer, en na honderd weddenskappe sal jy eindig met ’n verlies van R50 en ’n wins van R50.50 (in teorie kan dit meer wees want jy trek dalk die vyftigste groen albaster uit die sak na die negentigste rondte).

Die beroepswedder soek dus nie soseer ’n wenner nie – uiteindelik wen elke speler of elke span op een of ander stadium, en almal verloor soms; wat hulle doen, is om waarde te identifiseer in die beskikbare pryse.

______________________