Opinie – Stem van die Anderkant – geloof

MAANDAG 11 JULIE 2005

11:35

Ons almal het opinies van mekaar. Sommige mense sal moontlik effens geskok wees as hulle moet weet wat ek regtig van hulle dink, en so sal ek dalk geskok en ietwat verontwaardig wees as ek moet weet watse lae opinie party mense van my het.

Voordat ek vir mense sê met hoeveel erns ek hul opinie bejeën, sal ek graag vir hulle wil vra om vir my die skaal te wys waarmee hulle mense weeg. My vermoede is dat vele mense se skale primitiewe, saamgeflanste instrumente is wat net sowel uit die Middeleeue kan kom.

As jy jou saak stel en my kan oortuig dat jou maatstawwe redelik is, sal ek jou bedank vir jou eerlike en konstruktiewe opinie. Indien ek egter nie beïndruk is met hoe jou opinie gevorm is nie, sal ek duidelik wees in myne. Dankie dat jy die moeite gedoen het om ’n opinie oor my uit te dink, sal ek sê, maar jou opinie is belaglik, en hoef derhalwe nie met erns bejeën te word nie.

(Tensy … die persoon se opinie van jou dreig om oor te gaan in aksie teen jou wat jou kanse op oorlewing, of jou optimale funksionering, sal ondermyn. Die persoon se opinie hoef dus nie soseer dan met meer erns bejeën te word nie, maar die persoon moet wél behandel word as ’n ongesofistikeerde barbaar, of ’n wilde dier wat jou skade kan berokken.)

12:34

Ek weet dit nou: jy stap nie weg van tien dae se amper onophoudelike pyn en ongemak in jou gesig sonder ten minste ’n kraak in jou moraal nie.

12:51

Laaste paar dae se notas maak dit duidelik dat ’n gedagte aan die broei was. Ek is kwaad vir myself, en dit het te make met een ding: my lewe – en met lewe bedoel ek die ure wat ek wakker is elke dag – is gevul met take, doelwitte, projekte wat afgehandel moet word sodat ek meer take kan uitdink, en meer projekte kan begin, en meer doelwitte kan nastreef. En dan tref ’n bus my, en waaroor sal ek die spytste wees? Geluk. Daar’s so fokken min geluk in my lewe dat dit my naar maak. En ek het so ongelooflik baie geleentheid vir geluk.

Die afgelope twee weke was bevorderlik vir hierdie insig – my mondpyn, [N.] se afwesigheid, al die take wat ek afgehandel het, my nuwe rekenaar, die hersieningswerk aan “Persoonlike Agenda”, en tog … daar’s altyd nog take, nog projekte, nog doelwitte! Daar’s geen einde daaraan nie! Ek werk my fokken gat af! Ek bekommer myself vrek oor geld en wanneer ek weer Suid-Afrika toe gaan en hoe ek verskyn! Staan op, werk, dink, skryf, eet (bekommer my daaroor om nie vetter te raak nie!), kyk bietjie TV (nie te veel nie want daar’s werk en take wat wag), en dan gaan slaap ek weer. En dan staan ek weer op en stort en werk, en eet en streef doelwitte na en dan tref ’n bus my. En dis alles oor. En die vrou by die teestalletjie maak steeds tee elke dag, en kinders gaan nog steeds Engelse klasse toe, en nuwe TV-programme word gemaak, en hierdie Sondagaand is daar ’n nuwe feature movie op HBO.

En aan die ander kant van die Groot Rivier staan ek, en ek besef: take is belangrik; doelwitte is belangrik; projekte lewer resultate van ’n betekenisvolle lewe op. Maar as dit jou nie geluk gebring het nie, nie net in jou “lewe” nie, maar in jou ure elke dag, was dit dan werklik ’n lewe wat die moeite, die swaarkry, die vernederings, die verleenthede, en die tandpyn werd was?

14:50

Die tyd het aangebreek om ’n nuwe stem te kultiveer: Die Stem van die Anderkant.

Die Stem van Rede sal byvoorbeeld sê: X=2. Die Stem van die Anderkant sal sê hoeveel dit saak maak – van die ander kant af.

22:57

Dat enige iets bestaan of ooit bestaan het buite wat jy nou ervaar of kan waarneem met jou sintuie, is geloof – of dalk eerder, dit kan voorgestel word op ’n skaal van waarskynlikheid. Alle historiese “feite” is saamgestelde weergawes van gebeure in die verlede wat ons glo gebeur het, en soos dit aan ons vertel word. Ons kan slegs glo dat dit waar is (of was) omdat ons bewussyn, en enige eerstehandse ervaringe wat ons stoor as herinneringe, nie verder strek as ons eie lewe en die plek of plekke waar ons hierdie lewe geleef het nie.

Dit gaan dus nie soseer oor geloof nie, maar waar ons die grense van geloofwaardigheid trek, en spesifiek waarin ons glo.

Feit is, ons kan nie funksioneer sonder geloof nie – dat môre byvoorbeeld soos verlede Dinsdag moet wees in terme van werkskedule en ander aktiwiteite, is geloof. Ons kan slegs glo dat Napoleon of Julius Caesar of Aristoteles bestaan het; hulle kan nie ons sintuie oortuig dat hulle ooit bestaan het nie. Ons glo dat hulle bestaan het, omdat ons lees van hulle, of lees wat hulle geskryf het.

Laastens, ’n handige intellektuele oefening mag dalk die beantwoording wees van die volgende vraag: Wat is die verskil tussen geloof in die bestaan van enige god, en geloof dat Julius Caesar werklik bestaan het?

[Waarskynlikheid dat ’n persoon soos Julius Caesar werklik kon bestaan het versus waarskynlikheid dat enige godheid werklik kan bestaan, is heel waarskynlik ’n goeie begin.]

______________________